HOU JOU FAMILIEBESIGHEID ’N BEDREIGING VIR JOU FAMILIE IN?
Deur: Andró Griessel
03/10/2026
Wat is die belangrikste ding in jou lewe? Die antwoord wat die meeste mense gee, veral as hulle al bietjie ouer is, is “familie”.
Tog hoor jy dikwels van ’n familie waar broers en susters nie meer met mekaar praat nie, of die pa en sy kinders koppe stamp, met die ma wat dikwels in die middel beland.
As jy dan die ooglopende oorsake, soos een of ander verslawing, uitgeskakel het, hoef jy gewoonlik nie veel verder te kyk as ’n familiebesigheid wat net sekere familielede bevoordeel nie. Verstaan my reg, familiebesighede as sodanig is nie die probleem nie, maar wel hoe dit bestuur en benader word.
Ek ervaar dikwels dat die entrepreneur (gewoonlik die pa of oupa) ’n merkwaardige besigheid uit amper niks opgebou het, maar eenvoudig nie die oorgang van ’n entrepreneursbesigheid na ’n professioneel bestuurde onderneming kon of wou maak nie.
Ek wil in vandag se artikel aanvoer dat hierdie oorgang nie net wenslik is nie, maar ’n noodsaaklikheid.
Wat volg, is gegrond op patrone wat ek oor baie jare in die praktyk gesien het.
Hier is ’n paar aspekte wat, afhangend van hoe dit bestuur word, óf ’n bedreiging vir die familie inhou, óf ’n teken van ’n goed bestuurde onderneming is.
As jy jouself onder die familiebedreigingopskrif herken, vra jouself af of jou gedrag die onderneming én die familie beskerm, of hoofsaaklik jou eie belange of die belange van ’n paar uitverkorenes.
Onderwerp 1: Die aard van die onderneming, direkteursingesteldheid en oorvleuelende rolle
Familiebedreiging
Die onderneming word as ’n verlengstuk van een of meer (maar nie alle) familielede hanteer. Persoonlike gesag en aanspraak vervang onafhanklike oordeel oor wat die beste is vir alle belanghebbendes.
Aandeelhouers of trustbegunstigdes wat nie deel uitmaak van die bestuur nie, word grootliks geïgnoreer. Die rolle van familielid, werknemer, direkteur, aandeelhouer, trustee, begunstigde en verhuurder word verwar of eenvoudig geïgnoreer.
Professionele familiebesigheid
Die maatskappy word as ’n afsonderlike entiteit met sy eie belange, verpligtinge en besluitnemingsprosesse hanteer. Direkteure tree in goeder trou op in die belang van die maatskappy en al die belanghebbendes. Die bestuur streef na volhoubare langtermynwaarde vir alle belanghebbendes.
Dit sluit aandeelhouers, werknemers, finansierders en kliënte van die onderneming in. Trustees (waar van toepassing) beskerm afsonderlik die belange van alle begunstigdes.
Elke rol word geïdentifiseer en afsonderlik vervul. Besluite vermeld in watter hoedanigheid iemand optree, watter gesag aan daardie rol gekoppel is en of dit met ’n ander rol bots.
Onderwerp 2: Leiersrolle en toetrede, vroue en ekonomiese insluiting van die breër familie
Familiebedreiging
Familielede tree toe op grond van geboortevolgorde en/of geslag.
Leiersrolle word geërf of opgeëis eerder as verdien. Vroue, en minder dominante familielede, word ekonomies, wat toegang tot inligting betref, of in besluitneming gemarginaliseer.
Professionele familiebesigheid
Familielede word aangemoedig om deel te neem, maar toetrede en bevordering berus op ’n werklike vakature, bevoegdheid, ervaring en prestasie. Wanneer die onderneming groot genoeg raak, ding eksterne kandidate op gelyke voet mee. Finansiële voordele word verdeel op grond van die verskillende vlakke van belang by die besigheid wat wissel tussen werknemers (salaris en bonus) en eienaarskap (dividende en/of huur), nie volgens geslag of slegs betrokkenheid by die operasionele kant van die besigheid nie.
Onderwerp 3: Kapitaaltoewysing en finansiële bestuur
Familiebedreiging
Kapitaal bly dikwels vasgevang in lae-opbrengsaktiwiteite in die naam van nalatenskap. Opbrengs op kapitaal word selde gemeet.
Beskikbare kontant word met winsgewendheid verwar. Skuld, waarborge, bedryfskapitaal, konsentrasierisiko en die werklike opbrengs van elke aktiwiteit kry onvoldoende aandag. Daar word oor die algemeen nie bestee aan finansiële kundigheid nie, omdat dit nie as ’n produktiewe bate beskou word nie.
Professionele familiebesigheid
Kapitaal word volgens opbrengs, risiko en strategiese toepaslikheid toegewys. Sentiment stel geen aktiwiteit vry van minimum opbrengsvereistes, herstrukturering, verkoop of sluiting nie. Rade ontvang tydige, betroubare bestuursrekeninge en monitor marges, opbrengs op aangewende kapitaal, hefboomfinansiering, likiditeit, ruimte binne finansieringsvoorwaardes en wesenlike bedryfsrisiko’s. Klem word geplaas op behoorlike finansiële bestuur en die hoof- finansiële beampte se vergoeding is nie ’n gebied waarop bespaar word nie.
Onderwerp 4: Ingesteldheid teenoor belasting
Familiebedreiging
Belastingvermyding dryf transaksies, selfs wanneer die kommersiële uitkoms nie sin maak nie.
Professionele familiebesigheid
Kommersiële meriete kom eerste.
Wettige belastingbeplanning word so sorgvuldig moontlik gedoen, maar belastingvermyding vorm geensins die basis vir besluitneming nie.
Onderwerp 5: Vergoeding, prestasie en gedrag
Familiebedreiging
Vergoeding vir familielede is dikwels nie markverwant nie weens beloofde eienaarskap in die toekoms; ander ontvang vergoeding terwyl daar geen dienste daarvoor gelewer word nie of die dag-tot-dag-waardetoevoeging hoofsaaklik gestaak is.
Daar word geen ag geslaan op die verskil tussen ’n salaris, opbrengs op eienaarskap (dividende) of huurinkomste vir die gebruik van ’n bate nie. KPI’s ontbreek, is vaag of word selektief toegepas. Swak prestasie en wangedrag het min gevolge omdat aanspreeklikheid as dislojaliteit teenoor die familie beskou word.
Professionele familiebesigheid
Markverwante vergoeding word betaal vir die rol wat werklik vervul word. Die operasionele onderneming vervul nie die rol van ’n pensioenfonds vir die stigter nie.
Dividende, huur en ander eienaarsopbrengste word afsonderlik hanteer.
Bonusse (indien van toepassing) beloon meetbare waardetoevoeging.
Verantwoordelikhede, KPI’s en gedragstandaarde word gedokumenteer. Beoordelings berus op feite.
Volgehoue onderprestasie, pligsversuim en wangedrag het besliste gevolge, ongeag of die persoon ’n familielid is.
Onderwerp 6: Funksionering van die beheerraad en die familie teenoor maatskappybestuur
Familiebedreiging
Die beheerraad is ’n rubberstempel van een persoon se besluite.
Besluite is informeel; notules ontbreek dikwels en gevolge vir swak prestasie of besluite ontbreek grootliks.
Familievergaderings probeer aan maatskappyrade of trustees voorskryf, terwyl persoonlike griewe by bedryfsbesluite betrek word.
Regsgesag en familie-invloed word as dieselfde beskou.
Professionele familiebesigheid
Die beheerraad beskik oor die regte vaardighede, betroubare inligting, formele agendas en notules.
Onafhanklike bevraagtekening word verwelkom, nie as inmenging beskou nie. ’n Familieraad hanteer familieverwagtinge, opvoeding, indiensnemingsbeleid en familiegeskille. Statutêre rade en trustees behou hul eie bevoegdhede en oefen dit onafhanklik uit.
Onderwerp 7: Opvolging en kontinuïteit
Familiebedreiging
Opvolging word uitgestel totdat siekte, ouderdom of konflik ’n krisis afdwing.
Die veronderstelde opvolger is ’n familielid, ongeag of die persoon gewillig of bevoeg is.
Professionele familiebesigheid
Noodkontinuïteit en langtermynopvolging word vroeg beplan.
Kandidate word ontwikkel en aan objektiewe maatstawwe gemeet; die mees bevoegde persoon kan ’n familielid of ’n buitestander wees.
’n Proses vir konflikoplossing word nie in die middel van ’n konfliksituasie geskep nie, maar lank voordat dit benodig word.
Familie-eienaarskap verander nie die reëls van goeie bestuur nie. Daar is ’n regte manier om ’n besigheid te bestuur en ’n verkeerde manier.
Die betrokkenheid van familie sal eenvoudig die vergrootglas plaas op die benadering wat jy reeds volg, en indien jy dit nie soos ’n professionele besigheid bedryf nie, kwyn die kanse op die voortbestaan van jou besigheid, jou familieharmonie, of albei.
Bronne: IFC Family Business Governance Handbook, 4de uitg.; Maatskappywet, nr. 71 van 2008, veral art. 76; Deloitte Private se bevindings van die 2025-opname oor familieondernemings.
Andró Griessel is die uitvoerende hoof van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.