Skip to main content

Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

VRA VROEGTYDIG DIE REGTE VRAE

GAAN NIE BLOOT DAAROOR OM BELASTING TE PROBEER VERMY

Deur: Deidré Valentine

05/09/2026

Hulle sê die dood kom soos ’n dief in die nag. Hoewel dit waar is vir party mense, is daar dié wat tydens hul laaste paar dae op aarde die geleentheid kry om hul sake in orde te kan kry. Al is dit nooit lekker om iemand na aan jou aan die dood af te staan nie, meen ek dat ’n persoon se familie, tesame met ’n finansiële beplanner, die boedelproses so glad as moontlik kan laat verloop deur ’n paar punte in ag te neem wanneer hulle deur ’n deeglike beplanningsoefening gaan.

As voorbeeld, gestel ’n baie aggressiewe kanker word skielik by Kliënt A gediagnoseer, met min wat die dokters vir haar kan doen. Daardie persoon se adviseur moet dus nou met haar kinders sit om seker te maak dat al haar sake in orde is en hoe dit prakties sou uitspeel indien sy wel te sterwe sou kom. Kliënt A het ’n woonstel (R2 miljoen) en ’n diskresionêre belegging (R4 miljoen) in haar persoonlike naam. Daar is ook bevestig dat sy die volle R7 miljoen-vrystelling behoort te kan gebruik vir boedelbelastingdoeleindes (haar oorlede man se art. 4A-korting van R3,5 miljoen het oorgerol), so daar sal heel waarskynlik geen boedelbelastingimplikasies wees met haar afsterwe nie.

Die doodskleed het geen sakke nie, maar jou portefeuljesamestelling bepaal beslis hoe hierdie geld en besittings aan jou nageslag nagelaat word, en of dit onnodige vertragings tot gevolg gaan hê. Hoewel ons in hierdie scenario nie oor boedelbelasting bekommerd hoef te wees nie, moet ons steeds na die praktiese implikasies van vererwing kyk. Byvoorbeeld, of produkte met begunstigde- aanwysings oorweeg moet word om sodoende die boedelproses heeltemal vry te spring. Ons het toe besluit om die meeste van die geld (sowat R3 miljoen) van Kliënt A se diskresionêre belegging na ’n uittreeannuïteit (UA) oor te dra, wat dan as ongebruikte krediete by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) opbou. Hierdie skuif het basies drie voordele ingehou:

  1. Vermy ’n langdradige boedelproses

Die skuif van diskresionêre fondse na ’n UA verhoed dat die bedrag enigsins in ’n boedel vasgevang hoef te word, en eerder direk aan die begunstigdes uitbetaal. Hoewel die geld binne ’n UA tipies aan die begunstigdes (in die persentasie-verdeling soos aangedui) uitbetaal, word die finale verdeling steeds deur ’n raad van trustees van die pensioenfonds bepaal. Begunstigdes is nie noodwendig altyd 100% gewaarborg dat die vererwing gaan plaasvind soos beplan nie. Ons gaan toe een stap verder en tree af vanuit die UA om oor te gaan na ’n lewende annuiteit om sodoende die begunstigde-uitbetalings te verseker (aangesien hierdie uitbetaling nie deur ’n raad van trustees goedgekeur hoef te word nie).

  1. Ongebruikte krediete en art. 10C vir haar maandelikse inkomstebehoefte (tans)

Nou goed, dis nie te sê daar is nie nadele verbonde aan ’n lewende annuïteit nie. Die inkomste wat ons dus nou vir Kliënt A vanuit die lewende annuïteit sou onttrek, sou onder normale omstandighede belasbaar wees vir inkomstebelastingdoeleindes, waar die inkomste vanuit haar diskresionêre belegging belastingvry was (vir inkomstebelasting- doeleindes). Dit bring my na art. 10C van die Wet op Inkomstebelasting. Omdat ons aanvanklik ’n groot enkelbedrag na ’n uittreeannuïteit oorgedra het, het Kliënt A nog ongebruikte krediete by die SAID gehad. Selfs al is die UA na ’n lewende annuïteit oorgedra, gaan hierdie belastingvoordeel nie noodwendig verlore nie.

  1. Ongebruikte krediete en art. 10C vir die uitbetaling na die begunstigdes (met afsterwe)

Indien daar met die persoon se afsterwe steeds ongebruikte oortollige bydraes oor is en die begunstigdes kies om die lewende annuïteit as ’n enkelbedrag te ontvang, kan hierdie ongebruikte krediete gebruik word om die belasbare gedeelte van die enkelbedrag te verminder. Dit kan beteken dat ’n groter gedeelte van die lewende annuïteit belastingvry of teen ’n laer effektiewe belastingkoers aan die begunstigdes uitbetaal word. Wat ons wel moet onthou, is dat die bedrag wat hiervoor gebruik word, boedelbelasting- gevolge kan hê (m.a.w. weer deel vorm van Kliënt A se boedel). Omdat ons egter geweet het dat Kliënt A nie ’n boedelbelastingprobleem het nie, was hierdie plan dus sinvol. Die belangrike onderskeid is dat die ongebruikte krediete nie na die begunstigde oorgedra word nie.

Onthou: As ’n persoon ongebruikte krediete het, kan ’n mens dit afskryf teen die individu se lewende-annuïteit- inkomste. Sodra die persoon te sterwe kom, en ’n begunstigde wil ’n enkelbedrag in kontant neem, kan die ongebruikte krediete teen die enkelbedrag afgeskryf word, maar dit word dan as geagte bate in die oorledene se boedel beskou. Dit is dus nie ’n sinvolle keuse as daar reeds boedelbelasting ter sprake is nie. In hierdie geval was die boedel onder R7 miljoen, so dit was sinvol vir die begunstigdes om toe wel die enkelbedrag te neem as hulle sou wou.

As ’n begunstigde voortgaan met ’n lewende annuïteit se inkomste, kan hy of sy nie dan ongebruikte krediete teen daardie inkomste afskryf nie – maar dis ten minste nie ’n geagte bate in die kliënt se boedel nie. Wat wel baie belangrik is vir hierdie soort beplanning, is dat al die partye op dieselfde bladsy moet wees en ook die belastingimplikasies van hul besluite in ag moet neem. In gevalle waar sommige begunstigdes kies om eerder die volle bedrag in kontant te neem, maar die ander kies om voort te gaan met die lewende annuïteit se inkomste, is dit noodsaaklik om te verstaan hoe die uitbetalings belas gaan word en presies watter voordeel aan watter begunstigde oorgelaat word. Ons het ook al ervaar dat beleggingsplatforms soms sukkel met die uitbetalings en belasting daarop, so doen die moeite om vooraf met die platforms, alle begunstigdes en ’n finansiële adviseur te kommunikeer sodat die uitkomste aan almal duidelik kan wees en om seker te maak dat vererwing so regverdig as moontlik plaasvind.

Boedelbeplanning gaan dus nie bloot daaroor om boedelbelasting te probeer verminder nie. Dit gaan oor die totale prentjie: die soort produkte waarin bates gehou word, die belastinggevolge daarvan, hoe vining begunstigdes toegang tot geld kan kry en, uiteindelik, of die kliënt se wense prakties uitgevoer kan word. Elke familie se omstandighede verskil en daarom bestaan daar nie noodwendig een perfekte oplossing nie. Die waarde lê daarin om vroegtydig die regte vrae te vra en ’n plan te hê voordat dit nodig raak om daardie plan uit te voer.

Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X