‘’N OPENBARE WELDAAD’
HIERDIE GENERASIE KÁN ’N VERSKIL MAAK
Deur Cassie Carstens
04/07/2026
Dit is eers baie jare later in ’n mens se lewe dat jy wysheid begin waardeer. My oupa het altyd gesê, die tyd sal leer. Ek verwys hier na die verskynsel wat bekend staan as “Die Groot Oordrag van Welvaart”. Miljoene (meestal jong) mense gaan binne die volgende paar jaar die ontvangers wees van die grootste oordrag van welvaart wat die wêreld nog ooit gesien het. Dit is baie interessant om die ontstaan hiervan te bestudeer (sien grafika onder):

Die syfers hieragter word tans nog los rondgegooi, maar ’n studie van die UBS-finansiëlediensteverskaffer in 2025 het die volgende grafiek opgelewer: ’n Paar notas oor grafika (sien onder):

- Die horisontale vererwing verwys na oordragte van welvaart van ’n ouer na ’n jonger geslag.
- Die vertikale vererwing verwys na oordragte van welvaart tussen gades.
As ons aanneem dat die gades rofweg in dieselfde ouderdomsgroep val, dan is daardie welvaart ook op pad na ’n jonger geslag. (Bron: UBS Global Wealth Report 2025)
Daar is ’n Italiaanse sêding wat, losweg vertaal, lui, “van die stalle na die sterre, terug na die stalle in drie generasies”. Die tyd sal leer of die ontvangers van die welvaart sinvol te werk sal gaan met hul “oornag-miljoenêr of miljardêr”-status. Ons het al in die verlede geskryf oor die konsep van ’n “familiewelvaartplan”, wat te make het daarmee om die ontvangers van die welvaart finansieel en emosioneel toe te rus om nie terug te val na die stalle nie.
Suid-Afrika se naam verskyn nie op die grafiek hiernaas nie, maar dieselfde situasie is besig om plaaslik te ontvou. Gelukkig is dit al welbekend vir ’n geruime tyd en produkverskaffers het ongelooflike goeie werk gedoen om saam met adviseurs te werk om met uitstekende oplossings vorendag te kom om hierdie welvaart- oordrag op ’n belastingvriendelike manier te laat geskied, maar dit is nie die doelwit van dié skrywe nie.
Hoe gemaak as jy jou welvaart eerder aan welsyn wil oordra?
Al hoe meer mense oorweeg dit om ’n gedeelte van hul boedel aan ’n Organisasie vir Openbare Weldaad (OOW) te bemaak. Die fynskrif van die Inkomstebelastingwet beteken egter dat slaggate maklik ’n boedel se likiditeit kan beïnvloed indien bates nie korrek gespesifiseer word nie.
- 20% – Boedelbelasting wat geld vir bemakings aan trusts, kinders of huishoudelike werkers vir bedrae tussen R3,5 m. en R30 miljoen.
- 25% – Die maksimum boedel- belastingkoers wat die SAID hef op die gedeelte van ’n boedel wat die R30 miljoen-merk oorskry.
- R3,5m. – Die basiese vrystelling (primêre korting) waarop elke persoon se boedel geregtig is alvorens enige boedelbelasting hoegenaamd bereken word.
Daar word baie min lugtyd gegee aan ’n innoverende manier waarop jou boedel verklein kan word. Dit is deur ’n bemaking in jou testament te doen aan ’n goedgekeurde Organisasie vir Openbare Weldaad (OOW). In meer en meer gesprekke met kliënte begin hulle so ’n bedoeling noem, maar hulle is glad nie bewus van die meganisme nie. Kliënte begin dit oorweeg in gevalle waar hul kinders finansieel onafhanklik is of hulle nie familielede het wat hulle wil benoem nie. Net weer ’n vinnige herinnering:
- Bemakings aan ’n gade het ’n art. 4Q-vrystelling vir boedelbelasting, asook die oorrol van kapitaalwins.
- Bemakings aan ’n trust, kinders, familielede, huiswerkers, ensovoorts, geniet nie ’n boedelvrystelling nie en boedelbelasting van 20% sal geld vir tussen R3,5 miljoen en R30 miljoen, en 25% vir ’n bedrag bo R30 miljoen.
Met laasgenoemde word kapitaalgroeibates geag om verkoop te word by afsterwe en kapitaalwinsbelasting word ook gehef. Oupas, oumas en ouers kan natuurlik 100% besluit vir wie hulle wat wil los en hoeveel, maar hulle het ook die generasiegeleentheid om een van die grootste verskille ooit te maak aan die finansiële posisie van ’n Organisasie vir Openbare Weldaad. Dit is instansies wat elke dag moet swoeg met geldinsamelings net om kop bo water te hou. Soos met alles in finansiële beplanning en belasting is hierdie ’n relatiewe eenvoudige konsep met vele tentakels en alvorens jy jou testament wil verander, moet jy behoorlike advies inwin, veral oor die bewoording en of die OOW wel goedgekeur is en kwalifiseer vir so ’n bemaking.
’n Ander opsie is ook om reeds jou eie goedgekeurde OOW op te stel met ’n bekwame direksie en dit te benoem in jou testament. As ’n basisreël word kapitaalwins ook vrygestel indien ’n bemaking gemaak word aan ’n OOW, maar die bewoording van jou testament is kardinaal hier. Paragraaf 62 van die agtste bylaag van die Inkomstebelastingwet handel oor hierdie kwessie, maar dit bly ’n grys gebied.
Byvoorbeeld: Oom Piet het ’n R20 miljoen-effektetrustbelegging met R10 miljoen se opgehoopte kapitaalwins, ’n eiendom van R10 miljoen en skuld van R3 miljoen. Sy testament lees: “My restante bates moet ten gelde gemaak word en bemaak word aan ‘Ons bied Hulp’ met OOW-nommer XYZ.” In die SAID se “Sorgvuldige handleiding oor kapitaalwins, weergawe 9” stel hulle dit baie duidelik in 16.2.2 dat spesifieke bates gemeld moet word alvorens die afgestorwe persoon die kapitaalwinsvrystelling ook kan geniet. ’n Meer deeglike beskrywing sou wees: “Ek bemaak my Allan Gray-effektetrustbelegging aan ‘Ons bied Hulp’ met OOW-nommer XYZ”.
Die eerste ooglopende probleem is dat hierdie bemakings nie moet lei tot ’n likiditeitsprobleem in die boedel om belastings mee te betaal nie – of nog erger, die verkoop van ’n eiendom sonder dat dit jou bedoeling was. In die voorbeeld hierbo skuld oom Piet nog die bank geld en dit blyk die SAID-interpretasie te wees dat indien likiede beleggings gebruik moet word om skuld te delg, die belegging eers ten gelde gemaak moet word, die kapitaalwins betaal moet word en die restant kontant bemaak kan word aan die OOW met geen kapitaalwinsvrystelling nie.
’n Korrekte manier om dit te hanteer, is om eerder twee beleggings te skep en om uit te werk wat die moontlike voorsiening moet wees vir die skuld, eksekuteurstariewe, kapitaalwins, ensovoorts, en die testament se bewoording as volg te maak: “Ek bemaak my Allan Gray-effektetrustbelegging 1 aan ‘Ons bied Hulp’ met OOW-nommer XYZ en belegging 2 moet deel vorm van my restante boedel om koste en belasting te dek.”
Belegging 1 en 2 word dan apart belê vir dié doeleindes. ’n Tweede, baie belangrike aspek is om seker te maak of die OOW aan wie jy bates wil bemaak, wel die bates mag hou. ’n OOW kan byvoorbeeld iemand se aandele erf wat op ’n buitelandse platform belê is, maar die OOW mag ingevolge sy beleid of stigtingsdokumente nie sulke direkte buitelandse beleggings hou nie. In so ’n voorbeeld bestaan die risiko dat die kapitaalwinsvrystelling ook nie geld nie, want die OOW sal net die kontantopbrengsnetto van belasting mag ontvang.
Die oplossing hier is om ’n produkstruktuur te gebruik wat die OOW wel mag hou om die kapitaalwinsvrystelling te geniet en wat nog steeds uiting gee aan die kliënt se beleggingsintensie. Eenvoudig, maar uiters belangrik. Die skrywe mag dalk ’n spandabelrige erfgenaam-in-afwagting met ’n bietjie sweet op die bolip los. Tyd sal leer of oupas, oumas en ouers wel OOW’s gedeeltelik of ten volle gaan laat deel uitmaak van hul testament sonder om natuurlik onbillik te wees teenoor hul kinders, kleinkinders en familie. Die verskil wat hierdie generasie wel kan maak in die finansiële toekoms van ’n OOW is ongelooflik.
Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner by Woodland Wealth (Pty) Ltd en kan gekontak word op cassie@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.