Skip to main content

Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

OPSIES OM VAN BEWUS TE WEES

Deur Andró Griessel

06/06/2026

Heelwat lesers van hierdie rubriek het ongetwyfeld oor die afgelope jaar al ’n brief van ’n versekeraar ontvang oor ’n polis se premie en voordele. Een van ons kliënte het ook onlangs weer so ’n brief oor lewensversekering ontvang. In die versekeraar se woorde: “U huidige premie is ongelukkig nie meer voldoende om u voordeeldekking te volhou nie. Indien u dus nie die premie of voordeelbedrae aanpas nie, sal die polis tot ’n einde loop sodra die afkoopwaarde oorskry word – en sal u dus die polis se waardevolle voordele kwyt wees.”

Dan volg vier spreekwoordelike deure waardeur die kliënt kan stap, met vier opsies wat voorgestel word, sonder enige leiding oor wat die optimale opsie vir die kliënt behoort te wees. Daar word eenvoudig net aanbeveel dat die kliënt met sy finansiële adviseur gesels voordat hy ’n keuse maak. In hierdie voorbeeld, het die vier opsies só gelyk:

  • Verhoog u premie van R11 295,39 na R14 113,59.
  • Verander na ’n ouderdomsgebaseerde premie, vanaf R11 860,16.
  • Verminder u lewensdekkings van R1 000 000 na R840 336,13.
  • Geen verandering nie: Hou aan om u huidige premie vir u huidige voordele te betaal en laat die polis eindig wanneer die afkoopwaarde uitgeput is.

Voordat ek oor die verskillende opsies gesels, die konteks is:

  • Die polis is uitgeneem op 01/07/2001 en dus reeds 25 jaar oud.
  • Die premie is ’n jaarlikse premie vir R1 000 000 se lewensdekking tans op ’n 66-jarige se lewe.
  • Die polis het reeds ’n verpligte jaarlikse 5%-premie-eskalasie terwyl die dekking konstant bly.

Die bestekopsie wat baie mense sal uitoefen (indien hulle enigsins ’n opsie uitoefen), is dikwels geskoei op die vraag, “Watter opsie kos my vandag die minste?”, terwyl die eintlike vraag wat jy jouself behoort te vra is, “Watter opsie gee my die grootste waarskynlikheid dat ek oor 10, 15 of 20 jaar steeds die dekking sal hê en kan bekostig?” Dit is hier waar baie polishouers in die moeilikheid beland.

Opsie 4: Die lokval van ‘geen verandering’

Die bestekopsie wat die versekeraar aanbied, indien die kliënt geen opsie uitoefen nie, is die vierde opsie. Omdat daar twee geleenthede is waar hierdie opsie uitgeoefen kan word, bewustelik of onbewustelik (al die ander opsies moet bewustelik wees) en omdat baie mense eenvoudig nie goed is met “admin” nie, vermoed ek dat opsie 4 waarskynlik die mees gekose opsie is.

Dit kom natuurlik dan ook nie as ’n massiewe verrassing dat hierdie by verre die swakste opsie is nie. Indien die kliënt in hierdie geval opsie 4 sou kies, of versuim om voor die sperdatum ’n opsie uit te oefen, sal daar aanvanklik niks aan sy polis verander nie. Maar ongeveer vier jaar van nou af, sal hy ’n brief ontvang wat eenvoudig aandui dat sy polisvoordele en -premie verval. Hy verloor dus 100% van sy “belegging” in hierdie boedelbate wat oor ’n tydperk van ongeveer 30 jaar in daardie stadium betaal is. Vir iemand wat aandag aan die brief skenk behoort dit dus nie moeilik te wees om die draak wat agter deur 4 skuil te identifiseer nie, maar wat van die ander 3 opsies?

Opsie 1: Die onmiddellike premieverhoging

Baie polishouers aanvaar die premieverhoging omdat dit die volle dekking behou en die premieverhoging (van ongeveer 25%) eenmalig blyk te wees. Maar dikwels word minder aandag gegee aan die fynskrif. Die verhoging koop soms (wel in hierdie geval) net nog een jaar se premiewaarborg. Dit is dus moontlik dat jy volgende jaar of twee jaar later weer ’n hersieningsbrief kan kry. Jy koop dus ongelukkig geen sekerheid met hierdie opsie nie en betaal onmiddellik 25% meer vir die dekking.

Opsie 3: Dekkingsvermindering

Hierdie opsie lyk aanvanklik aantreklik aangesien die premie se styging konstant bly (tans 5%) en niks verander behalwe jou dekking nie. Maar die polishouer gee permanent en onmiddellik ongeveer 16% van sy dekking prys. Dit klink met die eerste oogopslag na ’n beter opsie as ’n 25% premieverhoging vir dieselfde dekking, maar dit is glad nie. Die verhoging is op ’n premie van R11 295 per jaar, maar die verlaging is op ’n R1 miljoen- polis onmiddellik en permanent. Die kwantum van die besluit verskil wesenlik. Hierdie is dus, volgens my, die tweede swakste opsie.

Opsie 2: Die ouderdomsgebaseerde alternatief

Opsie 2 is volgens my die beste en mees rasionele opsie, alhoewel dit op die oog af, as jy na premieverhogings oor tyd kyk, die minste aantreklik lyk. Ouderdomsgebaseerde premies erken bloot ’n eenvoudige waarheid: Die waarskynlikheid van ’n eis neem toe soos ons ouer word. Die premie beweeg dus saam met die risiko en is die enigste opsie wat vir jou ’n mate van sekerheid oor die toekomstige premie en dekking verskaf.

’n Paar laaste gedagtes:

Wanneer jy een van hierdie briewe kry, weet asseblief dat geen aksie van jou kant af amper ongetwyfeld tot jou nadeel gaan wees. Wanneer jy lewensversekering uitneem, behoort jy dit waarskynlik met ’n tydelike oogmerk te doen. Om lewensversekering vir die res van jou lewe in plek te probeer hou, druk jy ’n spreekwoordelike kontantvloei-rewolwer teen jou kop.

Daar is geen sekerheid oor premies ná die oorspronklike waarborgperiode (wat selde langer as 10 jaar is) nie, en indien jy in ’n situasie beland waar jy nie meer die premies kan bekostig nie, kan jy dekades se premies in die water gooi en met niks opeindig. As jy nie deurlopende terugvoeringvergaderings met ’n bekwame finansiële beplanner het nie, is die kanse goed dat briewe soos hierdie een deurglip sonder jou medewete, wat beteken jy kan niewetend die bestekopsie uitoefen wat gewis tot jou nadeel sal wees.

Andró Griessel is die uitvoerende hoof van Woodland Wealth. Kontak hom by andro@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X