Skip to main content

Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

LET LIEFS VROEGTYDIG DAARNA OP
Spaargeld moet steeds kan groei

Deur Samuel Rossouw

02/05/2026

Ek het onlangs met ’n kliënt vergader wat gereed is om die knoppie vir aftrede te druk. Met ander woorde: Hy is op die punt om die gans wat die afgelope 40 jaar die goue eiers gelê het (sy salaris), die doodskoot te gee – en van hier af grootliks afhanklik te wees van sy beleggings en die besluite wat daaromtrent geneem word. Ons het lank voorberei vir hierdie dag, maar tog is die gesprek steeds verbasend intens en senutergend. Daar is verskeie mites oor aftrede en dit help nogal om hulle vroegtydig raak te sien. As jy dit ordentlik verstaan, voorkom jy dat ’n mite (of twee) jou finansiële nemesis word.

Mite #1: Met aftrede moet ek my fondse baie meer konserwatief toewys

Die realiteit is die oomblik as jy aftree, is jou beleggingstermyn steeds lank – in die meeste gevalle 25 jaar of langer. Groeibates is die enigste bateklas wat oor die lang termyn vir jou beskerming teen inflasie gaan bied. Daar is in die algemeen egter ’n ideale punt in terme van hoeveel groeibates jy behoort te hou (sien die grafiek).

 

In ’n onvoorspelbare wêreld behoort jou blootstelling aan groeibates ten minste 50% te wees om ’n redelike waarskynlikheid (80%) te hê dat jou aftreebeplanning gaan klop (aanvaar ’n 4%-onttrekkingskoers). Indien jou blootstelling aan groeibates egter tot 65% toeneem, is daar ’n 90%-waarskynlikheid dat jou inkomste in reële terme (aangepas vir inflasie) volgehou kan word. Jy mag dalk met 50% matriek deurkom, maar wanneer dit by beplanning kom, is ’n 50%-blootstelling aan aandele baie laag en sal jou kans op sukses slegs 25% wees.

Mite #2: Kry kwotasies by verskillende adviseurs alvorens ek my geld belê

Met hierdie stelling probeer ek nie insinueer dat jy nie verskillende adviseurs oor jou aftreeopsies moet raadpleeg nie. Dit kan beslis waardevol wees. Maar indien jy bloot ’n kwotasie aanvra wat net die koste van ’n oplossing wys, is daar ’n groot waarskynlikheid dat appels met pere vergelyk word. Passiewe en/of konserwatiewe fondse se fooie is normaalweg heelwat laer as dié van aktiewe fondsbestuurders wat grotendeels fondse in groeibates allokeer.

Vergelyk dus opsies met soortgelyke batetoewysings, en ook ná enige fooie en koste. Hou ook in gedagte dat fondsfooie in elk geval kan verander as fondse of modelle gewysig word. Die meeste beleggingsplatforms se koste (administrasiefooi) verlaag namate die beleggingsbedrae verhoog. Jou ander fondse – en selfs dié van jou gade of trust – kan egter ook in ag geneem word vir die berekening van platformfooie. Wees seker oor die waardetoevoeging van jou adviseur en watter funksie hy/sy binne jou beplanning verrig.

Indien jy jaarliks net ’n beleggingstaat of opsomming ontvang, behoort die adviseursfooi heelwat laer te wees as dié van ’n persoon wat ’n deeglike hersieningsproses van jou totale finansies doen en intensief betrokke is by jou besluitneming.

Mite #3: ’n Gewaarborgde pensioen is veiliger omdat dit my inkomste waarborg

Daar is ’n wye verskeidenheid gewaarborgde-pensioen-opsies, en hulle kan nogal verskil, veral op hierdie punte: Jaarlikse verhogings (bv. gelykblywend, inflasie, vaste persentasie); oordrag van pensioen na ’n gade (100%, 75%, 50% ens. van oorspronklike inkomste); minimum betalingstermyne, byvoorbeeld 15 of 20 jaar; en met-wins-pensioene, m.a.w. waar die pensioen gekoppel word aan die prestasie van sekere onderliggende fondse. Die waarborg is dus die aanvangsinkomste, maar die toegewing is hoe die inkomste verhoog of volgehou word.

Dink byvoorbeeld hieraan: R10 000 per maand se inkomste wat konstant bly vir 15 jaar se koopkrag neem met 55% af (aanvaar 5,5% inflasie). Pensioene wat halveer met die afsterwe van ’n gade kan ook ’n wesenlike negatiewe impak op beplanning hê. ’n Produk wat meer gereeld oorweeg word, is hibriede annuïteite, m.a.w. produkte wat bestaan uit ’n lewende en ’n lewenslange annuïteit, waar ’n gedeelte van ’n belegger se inkomste gewaarborg word en ’n gedeelte onderhewig is aan marktoestande. Hierdie produkte het beslis ’n plek in beplanning, maar die beginsel dat ’n belegger sy kapitaal (of toegang daartoe) permanent prysgee, bly ’n baie belangrike oorweging.

Mite #4: My huis (of strandhuis) is my grootste bate en moet te alle tye beskerm word

Die sentimentele aard van hierdie bate maak dit besonder ingewikkeld om dit effektief in beplanning te gebruik. Die realiteit is ongelukkig dat, in die afwesigheid van wesenlike reële groei, asook die algemene lae potensiële inkomstekoers uit verhuring, hierdie bateklas se vermoë om beleggers mettertyd uit die moeilikheid te help, kwyn. Volgens die Global Property Guide se 2026-peiling beloop die reële opbrengs per jaar uit eiendom in Suid-Afrika ongeveer 0% tot– 2% op lang termyn. Verwys na die tabel hiernaas.

Die inkomste uit ’n belegging sal byvoorbeeld 39% meer wees, sou iemand ’n eiendom vandag verkoop teenoor 15 jaar later. Uit die aard van saak moet die moontlike huur van ’n nuwe eiendom, of onderhoud aan die bestaande huis, in ag geneem word – maar hierdie scenario wys duidelik wat die effek van lae reële groei is. (Aanvaar reële groei van 1,5% op eiendom en 5,5% op belegging.)

In sy boek, Your Perfect Portfolio, verwys die skrywer Cullen Roche na die beginsel dat beleggers nie noodwendig moet aspireer of mik vir die hoogste moontlike opbrengs of beste fonds nie, maar dat hulle eerder gelei moet word deur hul eie behoeftes en doelstellings. Indien jy hierdie beginsels verstaan en met ’n doelgerigte plan besluite neem wat jou gaan anker, eerder as pootjie, kan aftrede ’n opwindende nuwe hoofstuk in jou lewe wees.

Samuel Rossouw is een van die direkteure van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X