Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

LEER LES OP DIE GHOLFBAAN – DINGE KAN TE MAKLIK SKEEF LOOP

Deur Andro Griessel

04/4/2026

Oor ’n paar dae begin die Meesters-gholftoernooi by Augusta National vir die 90ste  keer. Dit voel dus net gepas om hierdie artikel met ’n staaltjie uit die Meesters van 30 jaar gelede (1996) te begin. Daardie jaar was uitsonderlik om al die verkeerde redes: Greg Norman het die twyfelagtige “voorreg” gehad om vir die grootste ineenstorting op die laaste dag in die Meesters se geskiedenis te sorg. Hy het die dag begin met ’n allemintige voorsprong van ses houe – net om uiteindelik die knie te buig teen Nick Faldo, wat hom met vyf houe in die tweede plek ingeboender het. Baie kommentators het dit destyds toegeskryf aan ’n eenvoudige (maar duur) skuif: Norman het te tentatief gespeel en hoofsaaklik probeer om sy voorsprong te beskerm.

In die wêreld van welvaartbestuur sien ek gereeld dieselfde patroon – veral by welgestelde families. Menige entrepreneur bou oor dekades fantastiese besighede op. In die proses word groot dele van die lewe soms afgeskeep – gesondheid, tyd saam met die familie, en ’n klomp stres wat saam met finansiële risiko kom. Dan, ná die verkoop van die besigheid of aftrede uit hul hoëprofielwerk, word besluite geneem wat veilig voel . . . maar wat later groot dele van daardie opofferings ongedaan maak. Kom ek illustreer dit met ’n voorbeeld.

Greg (nie dieselfde ou wat ’n voorsprong van ses houe verkwis het nie) het op 31 Maart 2016 sy besigheid verkoop vir ’n netto uitbetaling van R20 miljoen. Hy het deur die jare reeds genoeg voorsiening gemaak vir sy aftrede en sy familie se versorging, en kon dus hierdie geld belê met ’n eenvoudiger doel: “Eendag los ek dit vir die kinders.”

Greg het nie meer ’n gade gehad nie, maar wel twee kinders aan wie hy sy welvaart wil nalaat. En nou begin die deel waar dinge maklik kan skeefloop: hy moet besluit hoe om die belegging te struktureer, en waar (en in wat) om te belê.

Volledigheidshalwe wys ek ’n paar paaie wat Greg kon vat en waarheen elkeen hom oor die afgelope 10 jaar sou lei. Daar is ’n paar punte om uit te lig uit die tabel langsaan:

’n Direkte belegging in buitelandse aandele (Scenario 2) behoort op papier die beste te gevaar het — as jy net na die eindwaarde kyk. Maar dit vertel ongelukkig net ’n halwe storie.

As Greg die fondse (om watter rede ook al) in sy persoonlike naam uitgeneem het, word die belegging by sy afsterwe aan boedelbelasting onderwerp, en heel moontlik ook aan kapitaalwinsbelasting (KWB) (daar is uitsonderings, afhangend van produkkeuse).

Wat beteken dit prakties? Met die aannames hiernaas sou daar in die orde van R6,4 miljoen se kapitaalwins- en boedelbelasting op R12,3 miljoen betaalbaar wees (ná die toepaslike KWB-aftrekking, en met die aanname dat die 25%-boedelbelasting-kerf bereik is).

Dit bring die netto beskikbare belegging vir die kinders op ongeveer R37,1 miljoen te staan.

Asof bostaande nie erg genoeg is nie: indien die portefeulje ’n persoonlike aandeelportefeulje is wat hoofsaaklik uit “veilige” VSA-genoteerde aandele bestaan soos Apple, Berkshire Hathaway, Facebook en dies meer kan situsbelasting heel moontlik ook ’n rol speel. Op die bedrae hier bo kan dit ’n verdere $1,2 miljoen (oftewel ongeveer R20,3 miljoen) se Amerikaanse belasting beteken.

Dit is dus geensins vergesog om ’n situasie te hê waar Greg se aanvanklike belegging ná 10 jaar – weens ’n kombinasie van belastings – ontaard in ’n nalatenskap van “net” R16,8 miljoen nie. Terloops: die ekwivalent van R31,2 miljoen sou nodig wees nét om sy kapitaal in reële terme teen inflasie te beskerm.

’n Tweede algemene “fout” wat ons in praktyk sien, is waar entrepreneurs (wat as entrepreneurs baie gemaklik is met risiko) skielik as beleggers heeltemal aan die ander kant gaan staan – met ander woorde: té risiko-avers raak. Die uiteinde is dikwels ’n oorversigtige portefeulje, baie soos Greg Norman wat op daardie laaste Sondag net wou “veilig speel”. Dit sou jou tipiese Scenario 4 wees, indien Greg die slaggat van foutiewe strukturering (en dus ’n klomp belastingimplikasies) kon mistrap deur die geld na ’n buitelandse trust oor te dra. As dit die roete was wat Greg geneem het, sou sy fondswaarde tans op ongeveer R38,9 miljoen staan. Indien die belegging egter in ’n Suid-Afrikaanse trust behou is en in die land se grootste gebalanseerde fonds belê is (Scenario 1), sou die beskikbare kapitaal vir die kinders steeds R50,6 miljoen wees – oftewel omtrent 30% meer.

Behalwe vir die strukturering van die belegging (nie net watter entiteit nie, maar ook watter tipe produk), maak die werklike opbrengs oor die tydperk natuurlik ook die wêreld se verskil. Hierin lê, na my mening, die portefeuljekonstruksie-dilemma vir direkte buitelandse beleggers en trustees van buitelandse trusts vir die dekade of so wat voorlê.

Oor die afgelope dekade was opbrengste oor die algemeen goed vir buitelandse aandele, maar swak vir buitelandse vaste-rente-beleggings. In ’n gemengde portefeulje het aandele se hoë opbrengste dus die posisie gered — baie soos iemand wat nie goed afslaan nie, maar al sy sethoue vind daardie dag die onderkant van die gat.

As ons vorentoe kyk, behoort opbrengste uit die grootste buitelandse aandelemark (die VSA) in die afsienbare toekoms laer te wees. Voeg daarby dat daar wêreldwyd toenemende politieke en beleidsonsekerheid is (met lande wat op verskillende maniere probeer wegbeweeg van ’n te groot afhanklikheid van die dollar en Amerikaanse effekte), en ek dink baie standaard- (vanilla) buitelandse portefeuljes gaan dit moeiliker vind om dieselfde kombinasie van opbrengs én stabiliteit te lewer — ongeag waar jy jouself op die risiko/opbrengsspektrum plaas.

Ten slotte: Daar is heeltemal te veel nuanses oor die gepaste opstelling omdat elke individu en familie se situasie verskil. ’n Mens moet baie aspekte (soos onder meer waar die uiteindelike begunstigdes hulself bevind) vasstel alvorens jy op ’n struktuur besluit.

Wat ek wel met ’n mate van vrymoedigheid kan sê, is die volgende: As jy groot beleggings in jou eie naam maak – veral oorsee, en veral in jurisdiksies soos die VSA en Brittanje – het jy die belastingstryd (en dus die beskerming‑van‑kapitaal‑stryd) verloor nog voor jy begin het.

Ek sien gereeld dat mense blindelings hul Suid-Afrika-risiko probeer verminder deur net geld uit die land te neem. Dit is belangrik om te verstaan: Jou risiko lê nie primêr by ’n potensiële inkorting van kapitaalvloeie (exchange controls) nie, maar by die definitiewe belastings wat eendag by jou dood verhaal kan word.

As jy suksesvol oor die eerste hekkie (behoorlike strukturering) is, is die allokasie van jou fondse (bate-allokasie) ’n kardinale tweede hekkie om te oorkom in die beskerming van familie-welvaart. Ons sien baie mense wat netjies oor die eerste hekkie seil, en dan oor die tweede een struikel.

Maak dus seker jy speel nie soos Greg Norman die eerste drie rondes die baan aan die brand, net om dit alles weg te smyt op die laaste dag nie.

Andró Griessel is die uitvoerende hoof van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X