BESPAAR OP DIÉ MANIER BOEDELBELASTING EN KAPITAALWINSBELASTING
Deur Elmie de Jager
7/3/2026
Is vruggebruik ’n vloekwoord of die antwoord?
Daar is uiteenlopende menings oor die sinvolheid van die gebruik van vruggebruik al dan nie, maar indien dit goed deurdink en behoorlik bewoord word, kan dit jou aansienlike boedelbelasting en kapitaalwinsbelasting bespaar. Dit bied ook ’n bekostigbare manier om bates na ’n trust oor te dra.
Vruggebruik werk besonder goed wanneer jy bates soos eiendom of ’n plaas na ’n trust wil oorskuif, terwyl jy nog ’n gade het en as die begunstigdes inwoners van Suid-Afrika is. In só ’n geval is dit byna ’n vanselfsprekende keuse om hierdie roete te volg.
Wat is vruggebruik?
Vruggebruik is ’n reg wat aan iemand verleen word om ’n bate te gebruik, die genot daarvan te hê en die inkomste of “vrugte” daaruit te ontvang – sonder dat daardie persoon ooit die eienaar van die bate word.
Wat is ‘bare dominium’
Die bare dominium-houer (blote eiendomsreg-houer) besit die bate in naam, maar het nie die reg om dit te gebruik, te geniet of te verkoop totdat die vruggebruik eindig nie.
Dit kan vergelyk word met iemand wat ’n pot geld ontvang, maar nie daaraan mag raak nie – hy mag net daarna kyk tot op ’n sekere datum, maak nie saak hoe nodig hy dit kry nie.
Dít is ook waar vruggebruik soms ’n “vloekwoord” kan word: wanneer die bare dominium geregtig voel op die bate en dit wil verkoop, maar nie daartoe in staat is nie.
Praktiese voorbeeld
Daar is egter sekere vereistes waaraan voldoen moet word om hierdie wenresep suksesvol toe te pas. Kom ek verduidelik dit met ’n voorbeeld.
Jan (60) besit ’n eiendom op sy persoonlike naam met ’n markwaarde van R35 000 000 en ’n basiskoste van R15 000 000. Sy grootste bekommernis is boedelbelasting.
Hy wil nie hê die eiendom moet verkoop word om belasting te betaal nie, en hy wil ook nie ’n groot lewenspolis uitneem wat hom op lang termyn baie duur kan kos en moontlik sy aftree-neseier kan opvreet nie.
Hy is getroud met Zoe (58) en hulle het ’n seun, Pieter (31). Die bedoeling is dat Pieter uiteindelik die eiendom moet erf. Indien hy die eiendom eenvoudig aan Zoe bemaak, skuif hy bloot die boedelbelastingprobleem na haar boedel. Pieter beplan om in Suid-Afrika te bly.
Indien Jan egter van vruggebruik gebruik maak en dit korrek struktureer, kan hy aansienlike belasting bespaar. Die bewoording in sy testament is uiters belangrik, en die trust (Jan Trust) se begunstigdes moet altyd SA inwoners wees.
In sy testament benoem hy die Jan Trust as erfgenaam van die eiendom, met die voorwaarde dat:
- Sy vrou, Zoe, lewenslank vruggebruik op die eiendom geniet; en
- Daarna geniet sy seun, Pieter, vir twee jaar vruggebruik.
Kom ons kyk na die implikasies by Jan se afsterwe:

Die berekeninge beteken die volgende:
’n Gade-aftrekking ingevolge art. 4(q) van die Wet op Boedelbelasting:
Alles wat aan ’n gade gaan, is vrygestel van boedelbelasting.
Daarom kan R31 496 934 van die eiendom se waarde afgetrek word vir boedelbelastingdoeleindes.
Die kapitaalwins op hierdie gedeelte is ook vrygestel omdat dit as ’n oorrol na die gade kwalifiseer.
Geen kapitaalwinsbelasting is dus op hierdie gedeelte betaalbaar nie.
Slegs R3 503 066 is boedelbelasbaar, wat ’n rapsie meer is as die art. 4(a)-vrystelling vir boedelbelastingdoeleindes van R3,5 miljoen.
R2 001 752 verteenwoordig die belasbare kapitaalwins waarop toepaslike kortings gebruik kan word.
Deur hierdie metode te volg, spaar Jan:
- R6 000 000 aan boedelbelasting op die eerste R30 000 000;
- R374 233,50 op die gedeelte bo R30 000 000; en
- Totale boedelbelastingbesparing: R6 374 233,50.
Die kapitaalwinsbelasting wat Jan spaar (indien hy in die 45%-marginale-belastingskaal val en sy kortings reeds gebruik het), word as volg bereken: R31 496 934 × 57% × 40% × 45% = R3 239 685
Die eiendom word nou na die trust oorgedra sonder lenings-rekeningprobleme ingevolge art. 7(c) in die Inkomstebelastingwet, met ’n nuwe basiskoste van R3 503 066 versus R15 000 000.
Indien die trust eendag die eiendom verkoop en ’n plaaslike begunstigde het, sal die kapitaalwinsbelasting effektief 18% wees as die ouditeur dit uitkeer na die begunstigde. Dit is steeds gunstiger as 20% tot 25% boedelbelasting, plus die kapitaalwins, wat by Jan se afsterwe nie betaal is nie.
In die geval van Zoe se afsterwe
Met Zoe se afsterwe geld die volgende:

Kapitaalwinsbelasting is nie van toepassing op die beëindiging van vruggebruik nie; daar is dus geen kapitaalwinsbelasting betaalbaar nie.
Slegs die waarde van Pieter se twee jaar van vruggebruik (bereken teen die markwaarde op daardie datum) word in haar boedel ingesluit.
In hierdie voorbeeld is dit R8 112 000.
Zoe kwalifiseer ook vir ’n art. 4(a)-aftrekking (tans R3 500 000).
Boedelbelasting is dan slegs betaalbaar teen 20% op die bedrag bo art. 4(a) – in hierdie voorbeeld = R922 400.
Ander toepassings
Hierdie beginsel kan ook op aandele en eenheidstrustbeleggings toegepas word. Die groeikoers sal dan natuurlik verskil van die voorbeeld se 12% en sal afhang van die betrokke belegging se werklike groei.
Let wel: Die vruggebruiker mag slegs voordeel trek uit die inkomste en groei, maar mag nie aan die kapitaal raak nie.
Moontlike nadele om in ag te neem
Soos met enige beplanningstrategie, is daar ook risiko’s en nadele wat oorweeg moet word:
Eerstens is die berekeninge op eiendom/plase gebaseer op die huidige koers (byvoorbeeld 12%), wat in die toekoms aangepas kan word. Indien dié koers verlaag word, kan dit die belastingvoordeel verminder.
Daar bestaan ook altyd die moontlikheid dat die gade eerste te sterwe kom, wat die beplande struktuur en tydsberekening van voordele kan beïnvloed, of albei kan baie ouer raak, wat die lewensverwagting weer baie laer maak en die batewaarde baie hoër, daarom sal ’n langtermynplan steeds opgestel moet word om die bates mettertyd na ’n trust oor te dra.
Ook kan toekomstige skuld ’n uitdaging skep. Indien daar vruggebruik op ’n eiendom geregistreer is, kan die bate nie sommer verkoop word om skuld te delg nie, aangesien die regte van die vruggebruiker in ag geneem moet word.
Laastens kan ’n eiendom waarop vruggebruik rus, nie as sekuriteit gebruik word sonder die vruggebruiker se instemming nie. Dit kan ’n praktiese las plaas op die vruggebruiker,veral in byvoorbeeld ’n boerdery-omgewing waar produksie en ontwikkelingskapitaal gereeld benodig word.
Ten slotte
Hierdie metode stel kapitaalwinsbelasting uit, maar bespaar aansienlik op boedelbelasting.
Dit help ook om bates binne die familie te behou, sonder dat dit verkoop hoef te word om belastingverpligtinge teenoor die belastinggaarder na te kom.
Vruggebruik is dus nie noodwendig ’n vloekwoord nie – mits dit reg gestruktureer en professioneel geïmplementeer word, kan dit die antwoord wees.
Elmie de Jager is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.