VERLEDE NIE GELYK AAN DIE TOEKOMS
Deur Andró Griessel
7/2/2026
“Onthou, jy wil nog kan hardloop totdat jy 80 is. Wanneer dit jou doelwit is, verander jou perspektief.”
Dié wyse raad het ’n vriendin van my van ’n ervare hardloper gekry toe sy einde 2025 ’n besering opgedoen het en op die app Strava haar frustrasie uitgespreek het omdat sy nie met haar normale oefenprogram kon voortgaan nie.
Pasop vir ongeduld
Met 2026 wat vir ons voorlê, is dit altyd moeilik om te weet wat die jaar vir ons gaan inhou. Hoewel ek nie noodwendig iemand is wat hou van Nuwejaarsvoorneme nie, is ek wel iemand wat daarvan hou om gereeld my perspektief weer in pas te bring met die groter prentjie.
En die raad van die hardloper het my net weer laat besef dat ons na die kort termyn, maar ook gereeld weer na die lang termyn moet kyk wanneer ons ons omstandighede evalueer.
Mense het in die algemeen ongeduldig geraak: Ons het toegang tot die jongste nuus, inligting en syfers met die druk van ’n knoppie.
Net so het ons as beleggers ook ongeduldig geraak. Ons wil nie ons beleggings die nodige tyd gee om te groei nie, maar wil oor ’n korter tydperk die beste groei moontlik probeer kry.
Dis soms moeilik om ons emosies uit die prentjie te haal wanneer dit by ons swaarverdiende geld kom, so soms is dit nodig om net weer ’n bietjie na die syfers te kyk om te help besef dat dit wat in die afgelope 12 maande gebeur het, nie noodwendig ’n goeie aanwysing is van wat in die volgende paar jaar gaan gebeur nie.
Beste bly nie altyd bo
In die meegaande tabelle word die opbrengs van bateklasse in rand aangedui. Die syfers word ook vergelyk met inflasie en wat ’n tipies gebalanseerde portefeulje (die geweegde gemiddelde van die mark se groei voor koste) sou oplewer.

Suid-Afrikaanse aandele het bykans 46% opgelewer, terwyl ’n blootstelling aan die MSCI-indeks vir wêreldaandele slegs ’n rapsie meer as 3% opgelewer het (albei in randwaarde).
Voordat ek verder konteks hieraan probeer gee, is dit belangrik om die relevansie van so ’n drastiese afwyking in prestasie oor een jaar (hoewel dit ’n kort tydperk is) ook op langertermynsyfers uit te wys.
Wanneer dit by syfers kom, kan een spreekwoordelike swaeltjie werklik ’n somer (of ’n winter) maak. Terwyl sommige kommentators nog ’n jaar of wat gelede uitgewys het dat Suid-Afrikaanse aandele nie net aansienlik swakker gedoen het as buitelandse aandele in die verlede nie, maar ook in die toekoms sou onderpresteer, het plaaslike aandele nou oor een jaar (45,7% t. 3,4%), drie jaar (18,7% p.j. t. 15.74% p.j.) en vyf jaar (18,34% t. 14.24% p.j.) buitelandse aandele gemaklik uitpresteer, terwyl die prestasie oor die afgelope 32 jaar basies identies is.
Bogenoemde is nou alles goed en wel, maar op hierdie punt is dit dalk belangrik om stil te staan en te dink oor hoe die JSE Alsi se allemintige opbrengs behaal is. Sien langsaan die JSE se prestasie (in sy geheel) teenoor die verskillende sektore wat dit opmaak.

Die hulpbronindeks het, selfs ná die onlangse afwaartse regstelling, meer as 87% opgelewer oor die afgelope 12 maande terwyl die finansiële indeks 36% opgelewer het, maar die swaargewig- nywerheidsindeks “slegs” 14%.
Beleggers wat dus gekonsentreerde persoonlike aandeelportefeuljebeleggings het, sou moontlik heelwat swakker presteer het as die JSE Alsi, weens die feit dat die meeste portefeuljes ’n posisie wat wesentlik ondergewig is in hulpbronaandele sou hê (weens die algemene lae gehalte van hierdie maatskappye en onvoorspelbaarheid van hul verdienstes). Dit is ’n tipiese voorbeeld van hoe ’n moontlik goeie proses tot ’n swakker as verwagte uitkoms gelei het.
Terug na die gevare daaraan verbonde om na die wêreld deur net een spesifieke bril te kyk:
Ons kom dit dikwels teë dat families wat wesentlike welvaart in ’n onderneming opgebou het, hierdie jare lange boufase ongedaan maak deur ondeurdagte beleggingsbesluite, wanneer hulle uiteindelik hierdie ondernemings verkoop en die kontant elders moet allokeer.
Een algemene fout (wat natuurlik makliker is om te bespeur met die voordeel van terugskouing) wat die afgelope dekade gemaak is, was konserwatiewe of sogenaamde veilige buitelandse beleggings.
Die laaste 10 jaar sou ’n versigtige globale bate-allokasie nie daarin kon slaag om jou welvaart teen Suid-Afrikaanse inflasie te beskerm nie. Dit is boonop met die aanname dat jy geensins van hierdie geld moes leef nie en ander bronne van inkomste plaaslik gehad het.
Dit is dus belangrik om jou persoonlike definisie van risiko onder die vergrootglas te neem.
Vir my is daai risiko die onvermoë om my opgeboude welvaart teen die impak van inflasie (stygende lewenskoste) te beskerm.
Dit sou egter net so intellektueel oneerlik wees van my om bogenoemde as “bewys” voor te hou oor waarom hierdie strategie sal voortgaan om swak te presteer, as wat dit was om die tydperk van swak prestasie uit Suid-Afrikaanse bates as bewys te gebruik dat die toekomstige opbrengste ewe swak sou wees.
Ek wens van harte dat beleggings- en portefeuljekonstruksie so eenvoudig was en dat jy eenvoudig die onlangse verlede kan ekstrapoleer die verre toekoms in, maar helaas is dit nie die geval nie.
Beleggers wat vandag dink oor hul portefeuljes behoort, ongeag of die onlangse prestasie goed of sleg was (want dit is water onder die brug), hulself af te vra, onder meer, of hulle ’n behoorlike begrip het van:
- Wat die waarde, relatief tot die prys, is van die bates wat hulle besit?
- Wat die implikasies op hul portefeulje kan wees van die veranderende wêreldorde (wat lyk of dit al hoe meer momentum kry)?
- Wat die implikasie van die skerp styging in Japannese “effekteopbrengs” is en die ontbondeling van die sogenaamde drahandel (carry trade) is?
- Wat die impak gaan wees van Amerikaanse staatskuld en ’n kwynende aptyt van die res van die wêreld om aan te hou om hul besteding te finansier?
Ek kan tot vervelens toe aangaan.
Die punt wat ek probeer maak, is die punt wat ons al vele kere vantevore probeer maak het. Ek som dit kortliks weer op:
- Volg ’n skoonbladbenadering tot jou portefeulje. Die verlede is nie gelyk aan die toekoms nie.
- Diversifisering is jou vriend. Wees versigtig vir portefeuljes met binêre uitkomste of waar jou sukses afhang daarvan dat jy die toekoms, geldeenhede se bewegings of selfs rentekoerse reg moet voorspel.
- Maak seker wat jou teiken vir prestasie is en meet jou vordering daarteen, nie teen die bateklas wat verlede jaar die beste gedoen het nie. Indien jy die teiken mis, maak seker jy verstaan waarom. Dit is nie die korttermynuitkoms wat tel nie, maar die gehalte van jou proses en die vermoë om jou gewensde resultate op lang termyn op te lewer.
- As jy sterk emosies (vrees of gulsigheid) ervaar om wesentlike veranderinge aan jou portefeulje aan te bring en dit nie die resultaat van ’n beredeneerde proses is nie – tree terug. Enige voordeel uit hierdie stappe sal bloot toevallig en/of van korte duur wees.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.