ONTHOU, JY WIL NOG KAN HARDLOOP OP 80
Deur Deidré Valentine
3/1/2026
“Onthou, jy wil nog kan hardloop totdat jy 80 is. Wanneer dit jou doelwit is, verander jou perspektief.”
Dié wyse raad het ’n vriendin van my van ’n ervare hardloper gekry toe sy einde 2025 ’n besering opgedoen het en op die app Strava haar frustrasie uitgespreek het omdat sy nie met haar normale oefenprogram kon voortgaan nie.
Pasop vir ongeduld
Met 2026 wat vir ons voorlê, is dit altyd moeilik om te weet wat die jaar vir ons gaan inhou. Hoewel ek nie noodwendig iemand is wat hou van Nuwejaarsvoorneme nie, is ek wel iemand wat daarvan hou om gereeld my perspektief weer in pas te bring met die groter prentjie.
En die raad van die hardloper het my net weer laat besef dat ons na die kort termyn, maar ook gereeld weer na die lang termyn moet kyk wanneer ons ons omstandighede evalueer.
Mense het in die algemeen ongeduldig geraak: Ons het toegang tot die jongste nuus, inligting en syfers met die druk van ’n knoppie.
Net so het ons as beleggers ook ongeduldig geraak. Ons wil nie ons beleggings die nodige tyd gee om te groei nie, maar wil oor ’n korter tydperk die beste groei moontlik probeer kry.
Dis soms moeilik om ons emosies uit die prentjie te haal wanneer dit by ons swaarverdiende geld kom, so soms is dit nodig om net weer ’n bietjie na die syfers te kyk om te help besef dat dit wat in die afgelope 12 maande gebeur het, nie noodwendig ’n goeie aanwysing is van wat in die volgende paar jaar gaan gebeur nie.
Beste bly nie altyd bo
In die meegaande tabelle word die opbrengs van bateklasse in rand aangedui. Die syfers word ook vergelyk met inflasie en wat ’n tipies gebalanseerde portefeulje (die geweegde gemiddelde van die mark se groei voor koste) sou oplewer.

Kom ons kyk wat het als in 2025 gebeur (soos op 25.12.2025):
Die uitskieter bateklasse was beslis Suid-Afrikaanse aandele en goud, wat albei groei bo 40% opgelewer het (in rand); en die swakste bateklasse was buitelandse kontant, effekte en eiendom wat negatiewe groei opgelewer het, meestal weens die rand wat versterk het teen die dollar. Die rand was begin verlede jaar op R18,82 en R16,69 op 25 Desember, wat ’n verswakking van 11% van die dollar teen die rand is.
’n Tabel wat saamgestel is wat die opbrengs van die bateklasse sedert 1995 in randterme toon, gee ’n idee van hoe anders dinge daarna uitsien indien jy jou fokus na die langer termyn skuif.
Dit dui onder meer aan:
Dat blootstelling aan groeibates oor lang tydperke aan jou sowat 6% per jaar se beter groei behoort te lewer.
Op ’n aanvangsbedrag van R100 000, sal 6% per jaar ’n verskil van R4,7 miljoen aan jou eindwaarde maak ná 31 jaar (R5,8 miljoen vs. R1,1 miljoen).
Jy sou dus 427% meer hê.
Daarmee sê ek nie ’n mens moet al jou geld in groeibates belê nie. Maar as jy skrikkerig is vir die wisselvalligheid wat daarmee gepaard sou kon gaan, oorweeg waarvoor jy die bangste moet wees – korttermynwisselvalligheid of ’n verskil van R4,7 miljoen in jou eindwaarde.
Moenie ou nuus najaag nie
Uit die tabel waarna verwys is, is dit ook duidelik dat beleggers nie die volgende beste bateklas moet probeer najaag nie.
As ’n belegger einde 2001 besluit het om al sy blootstelling aan Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom (6% opbrengs vir die jaar) te verkoop en eerder sy blootstelling aan buitelandse kontant (65% vir die jaar) te verhoog, sou hy in die volgende drie jaar kumulatief 163% swakker af gewees het as wat hy sou wees indien hy dit gehou het waar dit was.
Wat ook noemenswaardig is, is dat ’n gebalanseerde beleggingsfonds met tussen 20% tot 30% se blootstelling aan konserwatiewe bates (soos kontant en effekte) in die afgelope 31 jaar vir jou ’n soortgelyke opbrengs as ’n portefeulje van omtrent net groeibates sou gee.
As ek terugkom na die raad van die vrou aan die begin, wil ek beleggers ook aanmoedig om soms net weer hul perspektief te beoordeel.
Ná die laaste tyd se goeie opbrengste kan daar dalk nog ’n jaar of twee se goeie groei wees of daar kan dalk ’n paar jaar met meer gematige groei voorlê.
Dis dan wanneer dit belangrik is om nie te emosioneel oor groei te raak nie, maar te besef dat belegging ’n langtermynproses is.
Daarmee sê ek nie ons moet tevrede wees met swak groei nie, maar dis altyd belangrik om te kyk hoe die mark gevaar het wanneer ons die prestasie van ons eie beleggings beoordeel.
Onthou die goue reël
Ingebou in dié gebalanseerde beleggingsportefeulje se gemiddelde groei van 13,8% per jaar in die afgelope 31 jaar is jare soos 2002, 2008, 2016, 2018 en 2022 toe die portefeulje geen tot negatiewe groei opgelewer het.
Op die ou einde bly diversifikasie en herbalansering belangrik wanneer dit kom by die bestuur van portefeuljes vir beleggers.
Ons moet gereeld wissel tussen ons verkykers en leesbrille, om perspektief te behou.
Wat dit ook makliker maak om te doen is om te weet waarheen ’n mens op pad is, deur ’n deeglike finansiële plan wat gereeld hersien word.
Laastens bly die prys belangrik wat jy vir ’n bate betaal en as jy tans met ’n portefeulje sit vol oorwaardeerde bates, is dit ook dalk ’n goeie tyd om jou 2026-plan ’n bietjie te hersien.
Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.