DIE OLIE IN JOU ONDERNEMING SE ENJIN
Deur Andró Griessel
6/12/2025
Dink gou vir ’n oomblik aan die mense wat jy met jou lewe kan vertrou. Die mense wat nou in jou gedagtes opgekom het, is waarskynlik bloedverwant of daardie pel of twee wat al deur diep waters, en waarskynlik ook ’n hoop kattekwaad, met jou is. Die vertroue wat jy in hierdie mense het gaan amper uitsluitlik oor hul “intensies” vír of mét jou. Jy weet hulle wil net die beste vir jou hê en jy kan op hulle staatmaak, maak nie saak wát nie. Hoe lekker en wat ’n seën is dit nie om sulke mense in jou lewe te hê nie!
Onvoorwaardelike vertroue
As jy nou jou brein bietjie verder strek en dink aan mense, wat nie noodwendig hartsmense is nie, maar met wie jy sake doen, kán jy aan ’n paar dink wat jy onvoorwaardelik vertrou?
Ek hoop jy kan.
Hierdie vertroue, hoewel die woord presies dieselfde is, het egter ’n hele rits ander voorvereistes as die persoonlike-verhouding-tipe. Bekwaamheid in die veld waarin die persoon met jou sake doen, die sorg geneem wanneer hulle met jou werk, die gehalte van hul diens of produk en hoe hulle probleme, foute, produk- of diensteleurstelling hanteer, is almal bestanddele wat waarskynlik oor ’n lang tyd ingesement is in wat jy vandag eenvoudig ’n vertrouensverhouding noem.
Ek ken nie die mense wat nou in jou kop opgekom het nie, maar mits jou vertroue in hulle gegrond was op die regte beginsels (en nie naïwiteit nie) sal ek my nek uitsteek om ’n raaiskoot te waag dat daardie spesifieke persoon of onderneming waarskynlik baie suksesvol in hul betrokke veld is.
Vertrouedividend
Dit bring ons by die logiese, maar somtyds onderskatte, gevolgtrekking dat “vertroue” en om betroubaar te wees ’n kardinale bestanddeel vir sukses in die sakewêreld (en die lewe) is.
In sy bekroonde boek The Speed of Trust praat Stephen M.R. Covey van ’n vertrouebelasting of ’n vertrouedividend.
As daar nie vertroue tussen twee partye is nie gebeur alles stadiger, moet alles presies gedokumenteer word, moet meer mense dikwels betrokke wees, word tweede en derde opinies benodig, ensovoorts.
Dit werk dan amper soos ’n belasting op die transaksie omdat dit die koste en/of die tyd verbonde aan ’n transaksie verhoog.
In die teenoorgestelde situasie (waar daar 100% vertroue is) word sake baie vinniger afgehandel en gewoonlik teen laer koste.
“Ja-nee, só gaan jy nog jou agterent sien, mannetjie!” hoor ek van die hardebaarde murmureer.
Natuurlik stel nie ek, of Covey, voor dat jy blindelings enige Jan Rap en sy maat vertrou nie.
Vertroue moet verdien word en dit verg tyd. Somtyds kan jy iets of iemand vertrou omdat die nodige reputasie al opgebou is en omdat ander mense wie se oordeel jy vertrou hierdie persoon of instansie aan jou aanbeveel het, maar meer dikwels as nie kom dié tipe vertroue waarna ek hierbo verwys eers ná baie jare se herhaalde bewyse van betroubaarheid. Wat ’n wonderlike plek om egter by uit te kom met jou sakevennote!
Nou hier is die slegte nuus as jy ’n onderneming het of ’n beroep beoefen en geld (of wat jý kan kry uit die verhouding) die enigste ding is wat vir jou belangrik is.
Dit is feitlik onmoontlik om deurlopend en oor lang tydperke op te tree op ’n manier wat vir jou daardie vertroueling-status gaan besorg, as dit nie deel van jou of jou organisasie se karakter en kultuur uitmaak nie.
Covey noem 13 gedragspatrone wat jy deurlopend moet tentoonstel om hierdie “vertrouedividend” te ontvang. Ek deel hulle graag met jou.
As jy self in sake betrokke is of saam met iemand sake doen, vra jouself gerus af hoeveel van hierdie 13 gedragspatrone is teenwoordig.
Karaktergebaseerde gedrag
- Praat reguit: Wees eerlik, praat die waarheid en kommunikeer duidelik.
- Toon respek: Wys dat jy werklik omgee en hanteer mense met respek.
- Skep deursigtigheid: Wees openlik en outentiek. Moenie verborge agendas hê nie.
- Maak reg wat verkeerd is: Vra gou om verskoning as jy verkeerd is, maak dinge reg en leer uit jou foute sodat jy dit nie herhaal nie.
- Betoon lojaliteit: Gee ander krediet en praat positief van mense wat nie teenwoordig is nie.
Bekwaamheidsgegronde gedrag
- Lewer resultate: Kry gedoen wat gedoen moet word – betyds, teen hoë gehalte.
- Verbeter: Werk daaraan om jou kennis, produk of diens konstant te verbeter, al is die inkremente hoe klein.
- Staar realiteit in die gesig: Moenie wegskram van die moeilike kwessies nie, al is dit ongemaklik.
- Bestuur verwagtinge: Maak doelwitte, rolle en standaarde duidelik aan die begin.
- Wees verantwoordelik: Hou jouself en ander verantwoordelik vir beloofde resultate.
Karakter- en bekwaamheids-gekombineerde gedrag
- Luister eers: Probeer eers om te verstaan voordat jy verstaan wil word.
- Hou beloftes: Doen wat jy sê jy gaan doen. Wees dus versigtig vir beloftes maak wat jy nie gestand kan doen nie.
- Vertrou ander: Bemagtig ander met duidelike verwagtinge
As jy ’n boek soos Good to Great van Jim Collins lees, gaan jy heel moontlik heelwat van die boonste punte in die DNS van die maatskappye herken wat die oorgang gemaak het van goeie ondernemings na fantastiese ondernemings en, snaaks genoeg, as jy oplees oor leierskap gaan jy hierdie gedragspatrone by goeie leiers ook aantref.
Vertroue is soos olie in ’n enjin, niemand dink daaroor totdat dit nie meer daar is nie en dan begin dinge vinnig “warm” raak.
Ek giggel altyd wanneer mense van gelyke uitkomste praat en probeer om maatreëls in te stel om mense of organisasies op gelyke voet met mekaar te kry. Daar bestaan nie so iets nie. Die beste, en mees regverdige, bedeling is een van gelyke geleenthede.
Mense wat die gedragspatrone openbaar waarna Covey verwys, styg eenvoudig uit bo ander en jy kan die herstelknoppie 100 keer druk, maar iemand of ’n organisasie of ’n land wat nie daardie ingesteldheid het nie (baie dikwels weens swak leierskap) sal nooit kan kers vashou by dié wat dit wel van vroeg af deel van hul DNS maak nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.