Wenke wat jou interaksie kan rig
Deur Cassie Carstens
1/11/2025
Op ’n onlangse konferensie van Ninety One was daar baie fokus op die astronomiese vooruitgang van kunsmatige intelligensie (KI).
Daar is verskeie praatjies gelewer, asook werklike voorbeelde van die verbysterende hoeveelheid wat reeds gedoen kan word deur dié toepassings. Die vooruitgang is rede tot opgewondenheid, maar ’n mens moet wonder oor wat hierdie toepassings kan beteken vir beleggers en adviseurs se besluitneming.
Op universiteit 20 jaar gelede is ons ’n bemarkingsboek gegee wat jou geleer het om ’n produk in ’n kliënt se mandjie te laat opeindig.
Niks het konseptueel verander nie, buiten dat daar nou hiperpersoonlike agtergrond oor ons besteding, voorkeure en soekgeskiedenis bestaan om die “verkoop” te vergemaklik.
Vir jare het ons gedink dié taktiek is beperk tot hoe tandepasta, ’n voertuig, T-hemp of koeldrank aan soms niksvermoedende verbruikers verkoop is. Die werklikheid is dat finansiële maatskappye ook die KI-teksboek gelees het en dit losgelaat het in die vorm van persoon-spesifieke, geteikende advertensies via verskillende mediums.
’n Markkommentator het onlangs geskryf iemand wat beleggings maak sonder enige deeglike kennis (oftewel ná 10 minute se vrae aan ChatGPT en drie finansiële-smaakmaker-video’s) ’n bietjie is soos iemand wat deur ’n dinamietfabriek hardloop met ’n fakkel wat brand. Jy kan dit beslis maak tot aan die ander kant, maar jy bly ’n gek.
Jy dink aan die storie van Pandora se boks en hoe roekeloos dit kan wees as KI-toepassings net blindelings gebruik word vir finansiële en beleggingsbeplanning.
As ons in breë trekke die samelewing se interaksie met sosiale media moet beoordeel, sou ek reken dit is teleurstellend. As ons nie vinnig ’n Damaskus-oomblik beleef met hoe ons handel met die KI-tegnologie nie kan dit pleinweg gevaarlik raak vir enige beleggingsbesluit.
Moenie dié vrae aan KI vra nie
Ek het dus voortgegaan en vir ChatGPT gevra wat die gevaarlikste beleggingsvrae is wat jy ChatGPT kan vra. Die antwoorde was skitterend. Daar is breedvoerig drie temas wat jy moet vermy wanneer jy handel met tegnologie en beleggings.
- Vrae oor persoonlike finansiële advies
Dit is vrae soos moet ek my huis verkoop en aandele koop, moet ek nou alles in Naspers belê of hoeveel van my portefeulje moet belê wees in buitelandse aandele.
Die werklikheid is dat jou behoeftes, jou aptyt vir wisselvalligheid, jou doelwitte en jou finansiële omstandighede uniek is, en ook kan jou finansiële en beleggingsplan nie generies van aard wees nie.
- Vrae oor die toekoms
Dit is vrae soos wat rentekoerse gaan wees volgende jaar, gaan die aandelebeurs bly loop, of watter aandeel gaan die beste vaar in die jaar. Die werklikheid is dat niemand (KI inkluis) die toekoms kan voorspel soos ’n pandemie, politieke aankondigings of oorloë nie.
Fokus eerder daarop om voorbereid te wees op dit wat in die toekoms kan gebeur.
- Generiese vrae wat persoonlike antwoorde wil hê
Dit is vrae soos wat is die beste belegging, wat is die beste fonds, watter belegging hou geen risiko in nie met die hoogste opbrengs, of hoe kan ek minder belasting betaal. Ons onderskat totaal hoe ongelooflik toepaslik persoonlike finansiële advies geraak het in ’n verwêreld wat ons wil laat glo dat daar ’n “een maat pas almal”- oplossing is.
Vra eerder hierdie vrae aan KI
’n Meer sinvolle interaksie met KI-toepassings sal vrae soos die volgende wees:
- Watter foute het beleggers gemaak voor en ná markineenstortings soos die dotcom-borrel of die Covid-19-pandemie en wat kan ek leer daaruit vir die volgende markskok?
- Watter belasting geld by die oordrag van welvaart van een geslag na die volgende? (En gaan soek daarna professionele hulp.)
- Wat is die kapitaalwins-implikasies as ’n sake-eienaar sterf en aandele in sy persoonlike naam besit het?
- Hoe kan ek ’n geduldiger belegger wees?
- Wat is van die belangrikste beginsels oor geld wat ek my kinders kan leer?
- Watter vooroordele bestaan in beleggings en aan watter is ek skuldig?
Gaan lees gerus Morgan Housel se boek Same as Ever. In breë trekke handel die boek oor hoe baie verander het in die wêreld van tegnologie en beleggings, maar wat nie verander het nie, is hoe mense optree in tye wanneer dinge baie goed of baie sleg gaan.
Die basiese menslike aard veroorsaak dat ons redelik voorspelbaar reageer in tye van gevaar, opgewondenheid, gierigheid en hoop. Die skade in die beleggingswêreld kom as jy negatief reageer op hierdie emosies, en geen KI-toepassing gaan jou daar red nie.
As jy weer daardie aandele wil verkoop nadat die mark met 20% geval het en jy geldmark toe wil hardloop, kan ’n finansiële beplanner of vertroueling jou baie beter van die spreekwoordelike beleggings-afgrond terugpraat.
As ’n gretige aksiefliekvlooi (voor die tye van deurnag-sessies met babas in die huis), kan ek nie anders nie as om te dink aan die karakter Magneto in X-Men. Dit is alles goed en wel om met KI-toepassings te speel, na podsendings te luister en oor kripto-geldeenhede na te lees, maar sit jou spreekwoordelike allooi-valhelm te alle tye op en beoordeel baie mooi watter informasie is van waarde en watter is eenvoudig geraas.
Almal gebruik deesdae ’n Warren Buffett-aanhaling na willekeur, maar jy moet tog gaan wonder oor hoekom hy vanjaar op die 60ste jaarlikse Berkshire Hathaway-Aandeelhouersvergadering gesê het: “Die wêreld gaan nie by jou beleggingsaanslag aanpas nie; jy gaan by die wêreld moet aanpas.”
Sy boodskap was dat beleggers hul verwagting, interaksie en verdraagsaamheid jeens wisselvalligheid moet laat aanpas by dit wat die markte opdis, nie andersom nie.
Ons kan nie blindelings en naïef deur die lewe gaan met finansiële en beleggingsbeplanning nie. Die werk van ’n goeie beplanner is om konteks en gemoedsrus daaroor te bring.
Dit is in elk geval 100 keer meer waardevol om jou kleinkinders die familie se melktertresep te leer of om ’n vis te vang as om daagliks oor finansies te tob.
Omarm gerus al die verandering wat KI mag bring.
Ons mensdom het dit al telkemale oorkom en beter uitgekom mits ons omsigtig daarmee handel.
Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.