KRIPTIESE ADVIES GEE NIE DIE HELE PRENTJIE NIE
Deur Andró Griessel
4 October 2025
Te voet is goedkoper as te fiets, te fiets is goedkoper as te motor en te motor is goedkoper as te vliegtuig.
As die koste van jou reis die belangrikste aspek van die reis is, is dit tog logies dat jy te voet moet gaan, maar as die spoed waarteen jy daar moet uitkom of die afstand wat jy moet aflê belangriker is, gaan jy alternatiewe moet oorweeg en kan ’n oormatige fokus op die koste veroorsaak dat jy nie jou bestemming bereik nie.
Ek sien gereeld ’n finansiële smaakmaker (die sogenaamde “finfluencers”) wat na iets soos die meegaande grafiek verwys met die boodskap dat “fooie” jou arm maak, en jy eenvoudig duur beleggingsprodukte ten alle koste moet vermy en eenvoudig in goedkoop, passiewe fondse, wat ’n indeks naboots, moet belê. Dit is veral gewild in die buitelandse aandelemark-konteks en daar word dan gewoonlik na iets soos die Satrix MSCI-wêreldindeks verwys met die Satrix ALSI of Satrix Top 40 as die gewilde Suid-Afrikaanse weergawes.
Soos met die meeste goedbedoelde advies, steek hier ’n groot stuk waarheid in en ek het nie swaarde te kruis met enige “finfluencer” of die produkverskaffers van bogenoemde indeksfondse oor die beginsel nie.
Ek en my kollegas het al baie geskryf oor die effek van 1% of 2% meer groei oor lang periodes, en hoekom dit kardinaal belangrik is om onnodige koste uit jou beleggingstrukture te verwyder.
Nou wat probeer jy dan nou eintlik sê, mannetjie, hoor ek die sleutelbordkrygers murmureer.
Netto groei is waarna jy moet kyk
Kort aanlyn boodskappe of ’n video van 30 sekondes is gaaf om ’n hoofgedagte oor te dra, maar dit is geheel en al ontoereikend om die volle storie te vertel. Die draer van die boodskap het ook geen benul wie die ontvanger daarvan is nie, het nie die geleentheid om die ontvanger van die boodskap se vrae te beantwoord nie of vrae te stel om seker te maak dat hulle nie met ’n halwe waarheid op loop sit nie.
Die gevolg is dat doen-dit-self beleggers dikwels die pad Johannesburg toe te voet wil aanpak, want dit het geklink na ’n goeie idee.
Wat jy oorhou in terme van netto groei (ná koste), is wat gaan bepaal hoe ver of vinnig jou fondse gaan “reis”, nie hoe min jy betaal het aan fooie nie.
Die volgende vier fondse word deur dieselfde bekende Suid-Afrikaanse batebestuurder bestuur.

Hul fooie lyk tans as volg:
Fonds A = 0,29%
Fonds B = 1,62%
Fonds C = 1,72%
Fonds D = 1,92%
Uit ’n koste-oogpunt lyk Fonds A uiteraard soos ’n kampioen en Fonds D soos die klasnar. Dit sal egter vir die meeste lesers nie as ’n verrassing kom nie dat die duurste fonds (selfs ná hoë fooie) ’n baie beter keuse oor die afgelope 24 jaar was as die laekostefonds.
“Maar jy vergelyk mos nou nie appels met appels nie, Meneer,” hoor ek die sleutelbordkrygers sê, en dit is inderdaad so.
Maar die koste wat jy betaal vir ’n fonds is aansienlik minder belangrik as die netto opbrengs wat jy uiteindelik behaal. Die “finfluencer” se goeie bedoelings was om te wys dat ’n duur fondsbestuurder wat nie sy maatstaf kan klop nie, jou skade berokken, en dat jy in so ’n geval eerder ’n indeksfonds moet koop.
Hierdie advies is makliker verteerbaar in die buitelandse aandelemarkte, maar nie in Suid-Afrika nie. Die veel goedkoper indeks-opsie in die voorbeeld hierbo sou “slegs” R25,4 miljoen (teenoor R31,2 miljoen) opgelewer het.
Die fooi vir een van die beleggingstrategieë wat ek persoonlik tans benut, word aangetoon as 5,25%.
Verskansingsfondse
“Nou watter idioot belê in ’n fonds met sulke astronomiese fooie?” vra jy dalk. My antwoord daarop sal wees: die soort idioot wat al besef het dit is ná-kosteopbrengs wat vir my welvaartskeppingsproses belangrik is, en nie hoe laag die fooi is wat ek betaal nie. Dit is ’n belegging in ’n verskansingsfonds. Hierdie soort beleggings hef legendariese hoë fooie. Een van die boublokke van hierdie strategie se historiese fooi beloop tans ’n allemintige 7,77% per jaar. Iemand wat egter dapper genoeg sou wees om in Februarie 2000 R100 000 in hierdie fonds te belê, sou vandag in die orde van R19,2 miljoen gehad het, teenoor ongeveer R2,1 miljoen indien jy kosteloos in die JSE-indeks van alle aandele kon belê.
Voordat bogenoemde watertand-opbrengste weer lesers op die verkeerde spoor plaas, laat ek maar net sê dat daar baie is wat verbloem word in langtermyn-opbrengssyfers.
Om op te som:
- Fooie kan slegs in konteks beoordeel word. Lae fooie is nie noodwendig goed en hoë fooie sleg nie. Daar is verskeie aspekte wat in gedagte gehou moet word, waarvan netto opbrengs (nadat fooie verhaal is) seker die belangrikste is.
- Hoër fooie beteken nie noodwendig hoër risiko nie. Verskansingsfondse is ’n goeie voorbeeld hiervan.
- Waar ’n fooi betaal word vir aktiewe bestuur, maar die fonds oortref nie die prestasie van ’n passiewe indeks oor lank genoeg periodes ná fooie nie, behoort wel ernstig oorweeg te word om eenvoudig ’n indeks-navolgingsfonds te gebruik.
Daar is ’n sêding wat lui: “Alles moet so maklik as moontlik gemaak word, maar nie makliker as dit nie.” Daardie beginsel geld moontlik ook vir die debat oor fondsbestuursfooie.
Maak seker jy vra die regte vrae oor fooie t. prestasie, voordat jy die baba met die badwater uitgooi.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.