BOEDELBEPLANNING EN – BELASTING
Deur Samuel Rossouw
6 September 2025
Verbeel jou daar bestaan ’n towerstaffie wat jou kopsere ten opsigte van kapitaalwins en boedelbelasting verlig, likiditeit in jou boedel verbeter en goeie beleggingsopbrengste verseker.
Met likiditeit word bedoel beleggingsprodukte wat vinnig in kontant omgeskakel kan word.
As ek na die lokaas kyk wat op die wêreldwye web besaai is, wil dit vir my voorkom of daar so ’n towerstaffie bestaan.
Die harde werklikheid is ongelukkig dat jy (of jou nasate) die keiser een of ander tyd gaan betaal wat hom “toekom” en dat selfs selfversekerde markkomentators se kristalballe van tyd tot tyd toewasem.
Finansiële produkte is ontwerp om soos ’n skakel in ’n groot ketting te funksioneer en elke skakel het sy eie karaktereienskappe.
Indien jy hierdie unieke karaktereienskappe verstaan, kan dit help om jou bekommernisse die hoof te bied.
Die tabel regs evalueer verskillende produkte teenoor belangrike oorwegings.

Elke produk se struktuur het sy eie reëls oor likiditeit (sommige meer beperkend), so maak dus seker swak of verkeerde gebruik van die strukture pootjie jou nie in die toekoms nie.
By afsterwe kan ’n lewende annuïteit onttrek word, maar jy kan ook ’n testamentêre of inter vivos-trust benoem sodat die annuïteit belastingvry oorgedra kan word en die trust verantwoordelikheid neem vir die versorging van afhanklikes en hul afstammelinge.
Slegs een lening en ’n onttrekking is meestal beskikbaar uit ’n delgingsfonds binne die eerste vyf jaar. Moet dus nie hierdie produk oorweeg as jy ’n meer gereelde onttrekkingsbehoefte het nie.
Boedelbelasting word gehef teen ’n koers van 20% of 25% afhangende van die grootte van jou boedel.
As jy die oorgrote gedeelte van jou beleggings in verpligte fondse allokeer, sal jy boedelbelasting spaar. As die begunstigde egter besluit om hierdie fondse te onttrek op jou afsterwe, sal belasting teen ’n koers van tot soveel as 36% gehef word.
Indien die trajek van ’n boedel afstuur op ’n belastingkoers van 25%, kan ’n skenking aangewend word om die boedel te verklein, selfs al beloop skenkingsbelasting 20%.
In albei voorbeelde hierbo sou ’n oormatige fokus op een tipe belasting (boedel- en skenkingsbelasting) ’n ander hoër belasting tot gevolg kan hê.
Kapitaalwins raak van toepassing wanneer ’n kapitaal- bate van hande verwissel en die belasting hierop word bepaal deur wie die eienaar van hierdie bate is.
Delgingsfondse word dikwels voorgehou as kapitaalwinsvriendelike voertuie aangesien die maksimum koers 12% is (18% vir individue teen ’n 45%- marginale skaal). Probeer egter eers bepaal wat jou marginale koers gaan wees op die beplande onttrekking van die belegging, eerder as op aanvangs.
Hou in gedagte dat ná aftrede jou marginale en gemiddelde belastingkoers gewoonlik heelwat daal en ook dat jy moontlik ’n belegging proporsioneel oor ’n aantal jare gaan onttrek, eerder as eensklaps.
Fonds-van-fondsstrukture kan baie effektief gebruik word om kapitaalwinsverpligtinge uit te stel. Enige strategiese skuiwe en herbalanserings vind binne die fonds plaas, eerder as in die produk self.
Binne ’n delgingsfonds kan kapitaalwinsbelasting (op afsterwe) oorgerol word indien die produk aan ’n inter vivostrust of gade bemaak word.
Beleggingstrukturering handel oor bate- en geografiese verspreiding.
Dit is algemeen bekend dat uittree-annuïteite jou blootstelling beperk aan buitelandse bates, maar hou dan weer in gedagte dat hierdie produkte vrygestel is van dividend-, inkomste- en kapitaalwinsbelasting asook boedelbelasting.
Om egter slegs op die belasting te fokus sal ’n oorvereenvoudiging wees van advies, want die dag as jy uit hierdie produkte wil tree, sal die inkomste weer belas word.
Deur te fokus op historiese prestasie van bateklasse sou eweneens ’n fout wees.
Wie sou byvoorbeeld kon voorspel dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse hoë-aandelekategorie (fondse wat hoofsaaklik in plaaslike annuïteite gebruik word) die MSCI Wêreldindeks oor die afgelope vyf jaar met byna 22% sou klop?

Sommige finansiële praktisyns het selfs so ver gegaan om voor te stel dat jy jou pensioenfonds te gelde maak en belasting (teen 36% maksimum) betaal, net om buite Suid-Afrika te belê.
’n Belegger wat R2 miljoen onttrek het uit sy pensioenfonds (wat tans in ’n fonds is wat die hoë-aandelekategorie ewenaar) net om dit in ’n fonds te plaas wat die MSCI-indeks navolg, sou ná vyf jaar 54% swakker af gewees het.
Om dan weer op te vang oor die volgende vyf jaar moet die buitelandse strategie dubbel beter vaar as die oorspronklike strategie.
Dit is met die aanname dat die Suid-Afrikaanse hoë-aandelekategorie met 10% per jaar groei.
Jou finansiële plan moet jou langtermyndoelwitte weerspieël en ook bestaan uit ’n kombinasie van beleggingsprodukte en goed deurdagte (waardasiegedrewe) beleggingstoekennings.
Moet dus nie mislei word deur een-produk-oplossings, generiese terugvoerings of adviseurs wat vir eie gewin optree nie. Fokus op die groter prentjie en baan die weg vir finansiële gemoedsrus.
Samuel Rossouw is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.