Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

BIED DIT WAARDE OF IS DIT VERMORSING?

Deur Elmie de Jager

Niks wat die moeite werd is, is gratis nie. Dit bly egter frustrerend om swaarverdiende geld te vermors op iets wat min of geen waarde het nie.

Soms is iets wat duur is elke sent werd, en soms is goedkoop duurkoop.

In dié artikel wil ek graag meer lig werp op die verskillende gelde of tariewe wat met beleggings gepaard gaan. Ek gaan verduidelik watter gelde werklik waarde tot jou belegging toevoeg, en watter bloot onnodige koste is wat jou opbrengs verminder.

Die doel is om jou toe te rus met genoeg kennis sodat jy ingeligte besluite kan neem wanneer jy jou beleggingstruktuur opstel, en om te weet watter koste regverdigbaar is – en wanneer jy die goedkoopste opsie kan kies.

Administrasiegelde

Kom ons begin by administrasiegelde.

Indien jou belegging nie op ’n beleggingsplatform gedoen word nie, maar deur ’n versekeraar via ’n polis, is dit belangrik om mooi te kyk na hoe die gelde gestruktureer word. Dié instellings breek die koste dikwels op in verskeie komponente – ’n administrasietarief, polistarief en soms selfs “ander” gelde of tariewe. Jy moet dus al hierdie komponente saamtel om die volle prentjie van jou administrasiegelde te verstaan.

Eenvoud is die sleutel. Dit het sin om een betroubare platform te kies wat al jou verskillende beleggingsvoertuie se administrasie hanteer. Die rede: kostevoordele deur konsolidasie. Ek sien daagliks hoe mense hul spreekwoordelike eiers in verskillende administratiewe mandjies (platforms) sit met die hoop dat dit hul risiko versprei. In werklikheid bied dit geen beleggingsdiversifikasie nie, maar lei eerder tot onnodige hoër administrasiegelde, wat eindelik die groei van jou belegging knou.

Die werklike diversifikasie vind in die fonds- en bate-toewysingsbestuur plaas – iets wat op ’n enkele platform hanteer kan word. Platforms werk gewoonlik op ’n glyskaal: Hoe meer bates jy onder bestuur het, hoe minder is jou administrasiegelde. Ondersoek dus gerus wat jou tariefverlaging sal wees deur eenvoudig jou bates op een betroubare platform te konsolideer.

Fondsbestuursgelde

Fondsbestuursgelde moet altyd in konteks gesien word. Die tarief hang af van die onderliggende batetoewysing.

My ondervinding is dat tariewe slegs ’n probleem is in die afwesigheid van waardetoevoeging.

Prestasiemeting is hier dus belangrik. ’n Hoë tarief is aanvaarbaar as die fonds sy maatstaf vir prestasie konsekwent oortref – net soos ’n lae of enige tarief onaanvaarbaar is as daar geen groei in prestasie is nie.

Jy moet dus baie selektief wees oor die fondsbestuurders wat jy kies. Of jy nou van effektetrusts gebruik maak of koste probeer bespaar met regstreekse aandelebeleggings, die belangrikste is dat jou portefeulje op netto vlak ná die verhaling van gelde beter vaar as die toepaslike maatstaf. Jy móét jou opbrengs ná die verhaling van gelde gereeld nagaan en vergelyk – dis die enigste manier om te weet of jou strategie werk.

Alle fondsbestuurders sal van tyd tot tyd, op korttermyn, onder die maatstaf presteer. Wat egter belangrik is, is dat die langtermynprestasie bo die maatstaf bly. Dis nie die tarief self wat saak maak nie, maar of daar waarde vir daardie tarief gelewer is.

Adviesgelde

Laastens wil ek stilstaan by die adviesgelde.

Wat kan jy daarvoor verwag en wat is die werklike waarde wat dit tot jou welvaart kan toevoeg?

Hierdie tarief moet nie bloot as nóg ’n kostelyn gesien word nie, maar as ’n belegging in begeleiding, insig en strukturele beplanning.

’n Goeie finansiële adviseur kan onskatbare waarde toevoeg – nie net deur jou te help beplan nie, maar veral deur jou op koers te hou met daardie plan wanneer dit die meeste saakmaak.

’n Finansiële adviseur is nie bloot ’n portefeuljebouer nie, maar ook jou gedragsgids. Selfs die beste planne kan verbrokkel wanneer emosies die oorhand kry tydens tye van markonsekerheid of spanning.

Hier is drie belangrike waardetoevoegingspunte om dop te hou:

1. Strukture voeg netto waarde toe

Waardetoevoeging behels nie net beleggingsgroei wat bo maatstawwe presteer nie, maar ook in die ontwerp van ’n doeltreffende struktuur wat belasting optimaliseer.

’n Sinvol gestruktureerde beplanning kan beteken jy betaal minder aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens – en dit is ware netto groei.

2. Jóú plan is belangriker as die produk

Jy en jou adviseur moet saam ’n plan ontwerp (oppas: moenie bloot produkte bespreek nie) wat in jou unieke behoeftes en langtermyndoelwitte voorsien. Sodra die plan in werking is, lê die grootste waarde in die dissipline om daaraan vas te hou en jou vordering te monitor. Wanneer ’n goeie proses gevolg word, gee dit jou die beste moontlike kans op ’n goeie uitkoms.

3. Emosionele begeleiding

Markte is onvoorspelbaar. Niemand kan op korttermyn voorspel nie. Die groot gevaar lê egter nie in markbewegings self nie, maar in hoe jy daarop reageer.

Jou gedrag tydens markonsekerheid – of jy uit paniek verkoop wanneer dit daal, of met mening wil inklim wanneer dit styg – kan ’n groter impak hê op jou welvaart as enige tarief wat jy betaal.

Emosie pootjie besluite en lei tot swak beleggersgedrag. Die geskiedenis wys dit keer op keer. ’n Goeie adviseur is juis daar om jou gefokus te hou in tye wanneer jy dalk geneig is om te reageer op emosie, mediasensasie of vrees.

Hierdie emosionele begeleiding is nie iets wat jy op ’n produkstaat gaan sien nie, maar dit is waar die ware waarde lê.

Ten slotte: Die redenasie dat die belegging met die laagste koste die beste uitkoms gaan oplewer, is amper soos om te redeneer dat die motor met die ligste enjin ’n resies gaan wen.

Die nodige werk moet gedoen word om te optimaliseer. Dit behels om te besnoei wat nie waarde toevoeg nie en by te voeg wat jou vinniger en veiliger vorentoe neem.

Elmie de Jager is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X