Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

15 LESSE OOR BELEGGINGS WAT ALTYD WAAR IS

Deur Andró Griessel

Ek het nie in ’n huis grootgeword waar daar oor geld gepraat is nie.

Miskien was dit omdat daar nie eintlik geld was om oor te praat nie.

My ouers het egter gedoen wat hulle kon met wat hulle gehad het en my Sanlam-studiepolis het my darem deur die eerste ses maande van universiteit gekry totdat Standard Bank se studentelening my die res van die pad kon vat.

Vir my ouers, en die bank, sal ek ewig dankbaar wees.

Beleggingsbestuur en ekonomiese studie (vir seker nie finansiële rekeningkunde nie!) het my belangstelling in beleggings geprikkel – of miskien was dit die hoop op kitswelvaart, wie weet.

Hoe dit ook al sy, ek het ’n naweekkursus en ’n tegniese-ontledingspakket gekoop (op skuld nogal) om myself verder te skool in aandele-beleggings. Ná ’n paar weke se intense bestudering van nek-en-skouer-grafieke en wie weet watter tegniese formasies nog, en gewapen met die arrogansie van die jeug, was ek vasberade om nuwe lewe in my ekonomiese werklikheid te blaas.

Die eerste aandeel wat ek gekoop het (’n stuiweraandeel oftewel penny stock) met my nuutgevonde kennis van aandeleverhandeling, het wel baie vinnig 100% opgelewer – ’n 100%-verlies.

Dit sou my eerste duur les in beleggings en welvaartbestuur wees, maar ongelukkig nie my laaste nie. Die jaar was 1995.

Ná nog 30 jaar het ek en my kollegas nog ’n paar waardevolle, en sommige pynlike, lesse geleer.

Ek deel hulle graag met jou as leser in die hoop dat jy iets daaruit kan leer:

1. Om te meet is om te weet

Ons kan wonderlike stories oor beleggings vertel, maar om jou werklike prestasie te meet en dit in relatiewe (nie absolute terme nie) te verstaan, is deurslaggewend vir langtermynsukses.

Ek bly verstom hoeveel mense nie weet teen watter tempo hul welvaart groei en of die geld wat hulle vir aktiewe bestuur betaal enigsins geregverdig is nie.

2. Waarna die meeste mense verwys as risiko is as’t ware wisselvalligheid

Risiko is die kans op ’n permanente verlies van kapitaal. Wisselvalligheid is die korttermynskommelinge in die prys van bates.

Jy behoort risiko te vermy, maar wisselvalligheid te bestuur.

3. Dink mooi oor ongenoteerde bates

Wanneer jy in ongenoteerde bates belê, is daar ’n geleentheid vir beter as gemiddelde opbrengste, maar ook vir absolute kapitaalverlies.

Jy behoort baie mooi te dink voordat jy a) so ’n toewysing oorweeg en b) watter persentasie van jou beleggings dit moet behels.

4. Sien emosies in die mark raak

Wanneer gediversifiseerde portefeuljes met 20% tot 30% styg of daal oor ’n kort tydperk, is dit mark-emosie wat aan die werk is en nie iets wat blywend is nie. Jy behoort dit uit te buit tot jou voordeel en nie ’n slagoffer van jou eie emosie te raak nie. Baie min mense slaag hierin.

5. Oppas vir konsentrasie

Konsentrasie (te min diversifikasie) kan vir ’n lang tyd soos briljantheid lyk (as jou aandeel goed vaar), totdat die dwaasheid daarvan terugskouend ooglopend raak. Ons kom dit dikwels teë in aandeleportefeuljes waar iemand 50% of groter blootstelling aan een aandeel het. Steinhoff is ’n klassieke voorbeeld van ’n duur les hieroor.

6. Oppas vir te veel diversifikasie

Te véél diversifikasie verlaag jou vermoë om beter as gemiddeld te presteer. Dis veral belangrik by indeksgegronde beleggings. Gemiddeld is alles goed en wel as die indeks goed vaar, maar wanneer die gety draai, wil jy ’n meer gefokusde benadering hê.

7. Belê oorsee wanneer die rand sterk is

Ekstreme bewegings in geldeenhede (die rand is legendaries wisselvallig) is gewoonlik van tydelike aard en jy behoort munt daaruit te slaan wanneer dit gebeur.

Tog wil almal geld landuit vat nadat die rand reeds drasties verswak het en oorweeg mense minder buitelandse beleggings wanneer die rand sterk is.

8. Gereelde herbalansering van portefeuljes is belangrik

Dis veral belangrik indien jy bewegende dele in jou belegging-samestelling het en nie alles in ’n bestuurde mandaat het waar iemand die herbalansering vir jou doen nie.

9. Proses klop IK

Baie slim mense het al ongelooflike dom dinge gedoen omdat hulle gedink het “dié keer is dinge anders” of hulle verstaan die wêreld beter as ander baie slim mense.

’n Goeie proses wat op ’n gedissiplineerde manier gevolg word, verhoog jou kanse op goeie beleggingsuitkomste wesenlik.

10. Beleggings is ’n marathon en nie ’n naelloop nie

Wat op kort termyn gebeur, is nie gelyk aan wat op lang termyn gebeur nie. Die gunsteling in die langafstandwedren raak nie ontsteld oor die pasaangeër se pas nie.

11. Historiese prestasie waarborg nie toekomstige prestasie nie

Een baie goeie of een baie swak jaar kan langtermynprestasie beduidend beïnvloed.

Dit skep dan dikwels die illusie dat die bateklas of fonds deurentyd goed of deurentyd swak presteer het. Goud is tans ’n goeie voorbeeld hiervan.

12. Tydsberekening maak tog saak

Die gesegde “dit is tyd IN die mark, nie die tydsberekening VAN die mark nie, wat saak maak” is oulik en dra die boodskap van die krag van saamgestelde rente oor, maar is nie heeltemal waar nie.

Tydsberekening maak wel saak aangesien waardasies van bates saakmaak.

Jy kan ’n wonderlike bate of bateklas teen ’n baie swak prys (dus te hoog) koop, wat sal lei tot lang tydperke van swak opbrengste daarna.

13. Beperk jou verliese

“He who loses least, wins,” het Richard Russell, ’n skrywer oor beleggings, gesê.

Om groot verliese te vermy, is baie belangriker as om ’n groot wins te maak.

Warren Buffett van Berkshire Hathaway praat dan ook, tong in die kies, oor sy twee reëls vir beleggings, naamlik: “Reël 1: Moenie geld verloor nie, en reël 2: Moenie van reël 1 vergeet nie.”

Die dag as jy besef dat jy 100%-groei op jou oorblywende fondse moet kry om ’n 50%-verlies uit te wis, dink jy anders oor risikobestuur.

14. Benut belastingvoordele

Belastingvriendelike beleggings is een van die min gratis maaltye in beleggings. Jy behoort aan te sit by daardie tafel, al is dit net vir nagereg.

15. Begin met ’n skoon lei

Veronderstel jy begin met ’n skoon bladsy en moet ’n portefeulje van nuuts af saamstel.

As jy ’n spesifieke bate nie nóú sou koop met jou kontant nie, behoort jy dit ook nie te behou in jou portefeulje as jy dit reeds het nie. Dit geld ook die gewig wat dit in jou portefeulje het.

Stuur gerus vir my e-pos met jou eie lesse geleer.

Die lys sal ongetwyfeld langer raak, maar mag die volgende aanhaling van Aldous Huxley nie vir ons waar word nie: “That men do not learn very much from the lessons of history is the most important of all the lessons of history.”

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X