PASOP VIR LENINGSREKENINGS IN TRUSTS
Deur Andró Griessel
7 Junie 2025
Trusts word al vir donkiejare gebruik om die effektiewe multigenerasie bestuur van familiewelvaart in die toekoms te verseker, maar ook om bates te beskerm teen krediteure, ingesluit, en ek wil my verstout om te sê verál die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
Daar is al baie gepraat oor die belastingvoordele van ’n trust, wat natuurlik vernaam boedelbelastingvoordele insluit, maar ook inkomste- en kapitaalwinsbelasting wanneer daar van die geleibuisbeginsel gebruik gemaak word.
Jy word teen 45% belas binne ’n trust self, wat dit baie oneffektief maak wanneer inkomste of kapitaalwins belas moet word. Maar, danksy die feit dat jy die rente, huur of kapitaalwins wat die trust verdien, kan uitkeer na die onderliggende begunstigdes en dit dan in hul persoonlike hoedanighede (hopelik teen ’n laer koers) belas word, was trusts nog altyd grotendeels baie gunstige voertuie vir belastingbeplanning.
Bogenoemde beginsel het oor die afgelope dekade of twee stelselmatig ’n nuwe probleem vir sekere familietrusts veroorsaak, naamlik groot leningsrekeninge in die naam van kinders of baie jong volwassenes weens winste, huur of rente wat na hulle uitgekeer is (vir belastingdoeleindes), maar nog nooit fisiek aan hulle uitbetaal is nie en derhalwe deur die trust aan hulle geskuld word.
As jou familietrust tans in hierdie posisie is, wil ek die volgende punte uitlig.
Belastingopgawes
Vir jare kon daar uitkerings aan minderjarige kinders gemaak word, en solank dit onder die belasbare drempel was, kon jy moontlik wegkom deur nie ’n belastingopgawe vir die minderjarige of ander begunstigde in te dien nie.
Die SAID se stelsels het egter meer gesofistikeerd geraak en toedelings na begunstigdes moet nou gepaardgaan met ’n opgawe vir daardie spesifieke begunstigde.
Johan Jacobs van Initium Rekenmeesters voeg die volgende by: “Die feit dat, indien die uitkerings gemaak is uit ’n trust wat op ’n vriendelike basis deur die minderjarige kinders se ouers gefinansier is, die ouers veronderstel is om die inkomste by hulle te verklaar (art. 7(3) van die Inkomstebelastingwet), en grootliks geïgnoreer word, is ’n gesprek vir ’n ander dag.”
Omgekeerde uitwerking op boedelbeplanning
Veral waar familiewelvaart wesenlik is, veroorsaak groot jaarlikse uitkerings dat jy op ’n baie vroeë ouderdom wesenlike bates in ’n baie jong persoon se naam vergader, wat natuurlik die teenoorgestelde effek op daardie persoon se boedelbeplanning het as wat moontlik probeer vermag is vir die vorige generasie.
Afsterwe
Wat gebeur met die leningsrekening as die begunstigde sterf?
Indien die begunstigde sonder ’n testament sterf, sal dit terugvererf na die ouers.
Gestel egter Pietie is pasgetroud of het ’n testament wat alles aan sy meisie of verloofde nalaat, sal sy daardie leningsrekening (as ’n bate) erf en sou sy ’n verhaalreg teen die trust hê.
Met een van die trusts waar ek dié vrae aan die rekenmeester geopper het, was sy antwoord dat die trustees die uitkering in so ’n geval kon terugtrek, weens ’n klousule in die trustakte wat hulle diskresie gee om dit nié uit te keer nie.
Ek vermoed die praktyktoets sal dalk die teorie aan die kortste end aantref.
Begunstigde belastingskaal
Die oomblik as die begunstigde begin werk, veroorsaak toedelings na hom of haar dat hulle in ’n hoër belastingskaal beland as waarin hulle normaalweg sou wees.
Kontantnood
Hier is twee kwessies ter sprake.
Eerstens, is die kontant in die trust beskikbaar om die lenings te vereffen, indien dit nodig sou raak?
Tweedens, is dit onmoontlik dat een van die begunstigdes aandring dat sy/haar lening aan hom/haar uitbetaal word en sou die argument dat die uitkering teruggetrek kan word onder sulke omstandighede staande bly?
Weer kom die klousule van die diskresie van trustees ter sprake, maar soos genoem, sien ek swarigheid om daaragter te skuil.
Jacobs voeg by: “Sodra ’n kind nie meer minderjarig is nie, behoort die trustees seker te maak dat die begunstigdes bewus is van die uitkerings.”
Alternatiewe strategieë
Gaan kyk gerus weer na jou trust se finansiële state onder die afdeling “Onuitgekeerde toedelings”.
Indien hier groot bedrae verskyn onder jou kinders se name, gesels gerus met jou rekenmeester oor watter planne julle hiermee kan maak.
Hier is ’n paar alternatiewe strategieë of moontlike salfies vir hierdie pyn:
- Betaal die kinders se uitgawes (skool, studie, motor en so meer) uit die trust en skryf dié uitgawes af teen die lening om dit so spoedig as moontlik terug te betaal;
- Oorweeg om testamente in plek te kry vir die kinders wat die lenings terug laat vererf aan die trust. Hou egter in gedagte indien hulle al getroud is, kan die terug vererf aan die trust hul art. 4a-vrystelling geheel of gedeeltelik opgebruik, wat nie tot voordeel van die langslewende gade of sy/haar eie kinders is nie;
- As die trust se inkomste hoofsaaklik die verhuring van eiendom of grond is en die primêre begunstigdes van die trust (die ma en pa) nie die inkomste benodig nie omdat hulle steeds salarisse of ander bronne van inkomste ontvang, moenie te gretig wees om van “skuld” teen die eiendom(me) ontslae te raak nie.
Die rente is afskryfbaar teen die huurinkomste en verlaag die nodigheid om inkomste uit te keer of om daarop belas te word.
Dit moet natuurlik oordeelkundig benader word en opbrengs op alternatiewe beleggings teenoor wat jou netto na belastingkoers op lening is, moet teenoor mekaar opgeweeg word; - Indien die trust beleggings het met ’n groterige rente-inkomstekomponent of selfs groot kapitaalwinsimplikasies (tipies trusts met groot aandeel- en/of effektetrustfondsbeleggings), oorweeg miskien ’n struktuur vir ’n “sinkende fonds” waar die inkomste teen 30% belas word binne die voertuig self, maar belangrik, daar geen distribusie van inkomste hoef plaas te vind nie, dus geen nodigheid om leningsrekeninge te vergroot nie;
- Indien die trust die geld het om die leningsrekeninge skoon te maak en dit nie die primêre begunstigdes (ma en pa) se versorging in gedrang plaas nie, maar die trustees is bekommerd dat die kinders nie die uitkerings sinvol sal gebruik nie, betaal die geld in uittree-annuïteite vir hulle. Hulle sal dan eers toegang kry tot die geld wanneer hulle 55 jaar of ouer is, terwyl hulle ’n belastingkrediet gaan ontvang wat hulle met vrug kan benut vir ’n klomp jaar. Dit skep nie meer onmiddellik ’n potensiële boedelbelastingprobleem nie.
Ten slotte: Leningsrekeninge is soos daardie trein waaroor Tolla van der Merwe altyd gepraat het: “Jy moet hom m**r terwyl hy klein is.”
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.