Woodland Wealth – Achieve Optimal Long-Term Wealth Growth

Deur Deidré Valentine 26 April 2025 Wanneer dit by Suid Afrika kom, is mens geneig om net oor die negatiewe aspekte van die land te lees, en ons kyk ons mooie natuurskoon, ons goeie sin vir humor, lekker kos en goeie mense mis. Net so, lees mens dikwels net van die “handbriek”-kant van aftreebeplanning, en nie noodwendig die ander, lekkerder kant daarvan nie. Hiermee staar ek my nie blind vir die harde waarhede of negatiewe aspekte nie, maar  ’n storie het meestal twee kante, en soms is ons dalk te bang om aan die gesprekke van die minderhede, die positiewe aspekte, deel te neem. Alhoewel die meerderheid van Suid-Afrikaners tans nie genoeg voorsiening vir aftrede maak nie, is daar wel ’n handjie vol wat baie pligsgetrou genoeg (of selfs te veel) fondse weggesit het om hul aftree-ideale te kan verwesenlik. Kom ons vat ’n stappie terug. Hoe weet ek of ek genoeg voorsiening vir aftrede het? ’n Mens kan tog sekerlik nooit té seker wees nie. As ek dan vir ’n persoon vra om hul aftree-wenslysie neer te skryf, met genoeg “vet” ingebou, en hul gee vir my die volgende:
  • Inkomste behoefte vir maandelikse uitgawes = R75 000 per maand (wat jaarliks met inflasie toeneem).
  • Inkomste behoefte vir mediese fonds = R8 000 per maand (wat jaarliks met 3% bo inflasie toeneem).
  • Vakansies = voorsiening vir R100 000 elke jaar vir die eerste 10 jaar na aftrede.
  • Kar vervanging = voorsiening vir R500 000 vervangingswaarde elke vyf jaar vir 20 jaar na aftrede.
  • Inflasie = 5.5%
  • Fondse moet voldoende wees tot op ouderdom 95 (kliënt word 65 jaar oud vanjaar en tree nou af)
  • Groei aanname vir beleggings = Inflasie + 5% (vir ‘n gebalanseerde mandaat)
Om te voorsien vir hierdie behoeftes, sal ‘n bedrag van R17 940 928 vandag nodig wees. Kom ons vat dit verder en sê ons wil ‘n addisionele 30% vir voorsiening inbou vir onvoorsiene omstandighede. Dan sal ‘n bedrag van R23.3 miljoen nodig wees. Gestel die kliënt is in die bevoorregte posisie dat hulle oor tyd al R30 miljoen kon opbou. Dit is ‘n oorskot van R6.7 miljoen. Wat ons in gedagte moet hou is dat al die aannames reeds heelwat vet ingebou het, so die kliënt gaan waarskynlik glad nie die R6.7 miljoen nodig hê nie. In die tussentyd gaan daardie oorskot bedrag, in ‘n gebalanseerde beleggingsmandaat, teen gemiddeld 10.5% per jaar groei. Dit beteken dat die fondse rofweg elke 7 jaar behoort te verdubbel. Op ouderdom 95 behoort die waarde van die oorskot al R133 miljoen te wees (R27 miljoen in vandag se terme), wat ‘n noemenswaardige bedrag is. Hoe dan nou gemaak as jou aftree-fondse ‘n “lewe van hul eie” begin kry? As jy tans in hierdie posisie is, of kan sien dat jou aftree-beplanning op hierdie paadjie gaan afstuur, is dit belangrik om na die volgende punte te kyk wanneer jy en jou finansiële adviseur holisties jou beplanning benader. Boedelbeplanning Vanuit die syfers hierbo is dit vanselfsprekend dat, indien die beleggings/bates nie in die regte voertuie belê is nie, die kliënt sowat 25% van hul welvaart aan boedelbelasting gaan moet afstaan.
  • Uittree-annuïteite (UA’s) is vry van boedelbelasting en behoort ’n groot gedeelte van hierdie persoon se beleggings in hul persoonlike naam uit te maak.
  • Indien mens wel dan diskresionêre beleggings ook het (wat weer meer sinvol vanuit ‘n inkomstebelasting perspektief is), sal mens wil probeer om sover moontlik, meestal die inkomste hieruit te trek, om dus ’n kliënt se boedel “kleiner” te laat leef.
  • Trusts is ook ’n baie handige oplossing vir boedelbelasting. Dit sal ideaal wees om op ’n vroeë ouderdom al beleggings in ’n trust te kan begin opbou, sodat die groei binne die trust plaasvind en nie in jou persoonlike naam nie.
  • Vir kliënte wat kinders het wat oorsee woon, gaan trusts dalk nie die oplossing wees nie, maar ’n beter oplossing sal dalk eerder iets soos ‘n buitelandse uitkeerpolis (“offshore endowment”) wees.
Samestelling van beleggings Dit mag dalk ook sinvol wees om die oorskot fondse as apart te beskou en dus ook die onderliggende samestelling van die fondse/beleggings anders te bestuur as die poel wat moet sorg vir die inkomste tydens aftrede. Hierdie oorskot poel kan dus heelwat meer aggressief belê word en alternatiewe soos verskansingsfondse (“hedge funds”) kan ook ’n opsie vir diversifikasie wees. Eiendom is ook ’n alternatiewe bron van inkomste, maar moet saam met die inkomste vanuit ’n pensioenfonds (UA) in ag geneem word om seker te maak dat jou totale belasbare inkomste nie vir jou onnodig baie inkomstebelasting kos nie. Inkomste vanuit eiendom (met geen verband) is ten volle belasbaar vir inkomstebelasting doeleindes. In hierdie geval is enige vorm van lewensdekking nie eintlik meer nodig nie (wel in uitsonderlike boedelbelasting gevalle waar daar nie likiditeit in die boedel is nie). Ek sou nie onnodig premies aan versekering wou spandeer tydens aftrede nie. Jy kan ook die moontlikheid om jou kinders nóú finansieel te ondersteun oorweeg, teenoor hoe sinvol dit is dat hulle eers op ’n latere ouderdom (tien teen een wanneer hulle die dag aftree en nie meer die fondse nodig het nie) erf. Ten slotte, met aftreebeplanning is daar baie “balle in die lug” en dit behoort nie ligtelik opgeneem te word nie. Ons besluite kan groot finansiële impakte hê en alle potensiële uitkomste behoort in samewerking met ’n kenner oorweeg te word voordat ’n besluit geneem word. Deur deeglik te beplan, veral rondom belasting en strukture, kan lei tot ’n baie beter uitkoms vir jou en jou nageslagte. Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za. Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.
We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X