Deur Andró Griessel
29 Maart 2025
Dit is skuins voor 15:00 op 11 September 2001, en ek is doenig met my normale dag op die derde verdieping van ’n vorige werkgewer, Investec Batebestuur (nou NinetyOne).
Skielik sê iemand in ongeloof: “’n Ligte vliegtuig het sopas in die World Trade Center vasgevlieg.”
Almal skarrel om die TV’s van die een of ander sakeprogram te verander na ’n nuuskanaal – en daar sien ons dit: Die rook wat uitborrel uit die Noord-toring met die berigte wat deurkom dat dit inderdaad nie ’n ligtevliegtuig-ongeluk was nie, maar ’n terreuraanval waarin Boeings gebruik is.
17 minute later, enkele oomblikke nadat ons die TV’s aangeskakel het, vlieg die tweede vliegtuig in die Suid-toring vas en pandemonium en ’n verslae stilte daal tegelykertyd op ons neer.
Om 16:28, met ’n kantoor vol mense wat staan en staar na die televisie, stort die eerste toring ineen. Uit vrees dat die Amerikaanse mark in duie sal stort, word dit vir vier dae gesluit.
Bykans 24 jaar later wil ek lesers graag vandag onderwerp aan ’n denk-eksperiment. Gegewe wat daardie dag gebeur het, asook ’n paar jaar later in 2008 met die aanvang van die finansiële krisis (wat regtig gevoel het of die hele bankstelsel gaan inkonk), ons eie “Nenegate”, asook die Covid-19-pandemie: Hoe, of eerder wáár, sou jy belê het, mét die voordeel van terugskouing?
Hoewel nie slegte raad nie, is die doel van die eksperiment nie om die beginsel van “bly maar net altyd belê ten spyte van die omstandighede” te benadruk nie, maar om dalk ’n strukturele vooroordeel in ons eie sienings van finansiële markte bloot te lê.
Trek dus gerus ’n pen en ’n stukkie papier nader en doen die oefening saam met my.
Jy het 10 markte om uit te kies, alfabeties aangedui: Australië, Brasilië, China, Duitsland, Indië, Japan, Suid-Afrika, Thailand, die Verenigde Koninkryk, en die VSA.
In die onderstaande grafiek word hulle almal verteenwoordig met ’n letter van A tot J.
Skryf nou jou lysie neer in die volgorde van wat jy dink die beste tot slegste presteerders was nadat jy na die grafieke gekyk het. Moenie koekeloer na die antwoorde hieronder voor jy nie dit neergeskryf het of minstens die volgorde in jou kop probeer orden het nie.
In die eerste plek
Kom ons begin by die eerste plek. Indien jy sou dink dat dit die VSA was, sou jy verkeerd wees. Die VSA is in die sesde posisie (F) met ’n totale opbrengs van 624% in dollarwaarde.
In die laaste plek
As ek moet vra waar jy dink Suid-Afrika oor hierdie periode is, sou jy verskoon word indien jy raai dit is laaste of tweede laaste (I of J). In der waarheid is Suid-Afrika in die tweede posisie (B) met ’n opbrengs van 929% in dollarwaarde. Dit is nogal ’n verrassing, is dit nie?
Laat ek die afwagting nie verder uitrek nie en by my eintlike punte kom:
- A = Indië (1 458%)
- B = Suid-Afrika (929%)
- C = China (845%)
- D = Thailand (777%)
- E = Australië (642%)
- F = VSA (624%)
- G = Duitsland (494%)
- H = Brasilië (406%)
- I = Verenigde Koninkryk (262%)
- J = Japan (206%)
Wat is die les hieruit?
Die 10 lande bestaan uit vyf ontluikende markte en vyf ontwikkelde markte. Vier van die topvyfposisies word deur ontluikende markte beklee, met Indië wat as die oorweldigende wenner uit die stryd getree het.
Dié markte is gewis meer wisselvallig as die ontwikkelde markte, maar oor tyd lyk dit wel of beleggers ruim vergoed is vir die meer ongemaklike rit.
Sou jy egter in daardie stadium agter die prestasie oor die vorige sewe jaar aangehardloop het, sou jy oor die daaropvolgende 16 jaar 50% van jou geld in dollar verloor het. Beleggings is ’n marathon, nie ’n naelloop nie. Verstellings aan jou batetoewysing is gewis nodig van tyd tot tyd.
Ons sien gereeld die grafieke wat aandui dat die VSA ander markte oor die laaste 10 tot 15 jaar met ’n wesenlike marge oortref het, en dit was weliswaar so, maar was dit ooglopend naby die einde van 2012 (halfpad in ons eksperiment in) dat dit so sal wees?
Teen Oktober 2012 was Thailand (waar Kleuterzone se hoofkantoor is, soos dinge vir my lyk) gemaklik voor op 866% groei oor die vorige 12 jaar, en die VSA se S&P 500-indeks was in die tweede laaste posisie met ’n skamele 67%-groei oor die vorige 12 jaar.
Halfpad deur die marathon (of seker halfmarathon) was ontluikende markte vér voor ontwikkelde markte en soos die Ingelsman sal sê “the only game in town.”
As jy dan eenvoudig die status quo gehandhaaf het vir die daaropvolgende 12 jaar, sou jou uitkoms ongelukkig power wees, want sedert 2012 tot vandag is die bordjies geheel en al (met die uitsondering van Indië) verhang.
Die VSA se S&P 500 was in die eerste plek met 334% opbrengs, teenoor die JSE in die sesde plek met ’n skamele 70% en Thailand (die superster van die vorige dekade of wat) wat -9% opgelewer het. In Brasilië sou jy ná ’n dekade met 15% minder geëindig het as waarmee jy begin het.
Hier is my uitdaging aan diegene wat verkondig dat jy al jou geld in die buiteland moet belê of kliënte wat hul adviseurs opdrag gee om soveel moontlik van hul geld buiteland toe te vat: Kan jy asseblief ’n bietjie meer spesifiek wees, want die wêreld bestaan uit meer as net SA en die VSA?
In watter van dié markte en in watter proporsies behoort ek te belê vir ’n bevredigende uitkoms? Is ’n lukrake toedeling aan die MSCI-wêreldindeks die roete om te gaan?
By Woodland Wealth dink ons gewis nie so nie, aangesien dit jou outomaties 70% blootstelling aan die VSA gee. Dié strategie het baie goed gewerk die afgelope 12 jaar, maar ons is van mening dat dit geensins gaan werk die volgende 10 jaar nie.
Soos altyd is my advies dat jy jou nie te veel steur aan die narratief van die dag, wie die president van watter land is of wat die land se werkloosheidskoers of ekonomiese groeikoers is nie, maar kyk na die waardasievlakke van maatskappye en waar daar ’n dislokasie ontstaan het tussen maatskappye se winsrealiteit en wat die tropdiere (deelnemers in finansiële markte) dink.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.