Deur Cassie Carstens
1 Maart 2025
Daar is iets aan ’n outydse padkaart. Daar was ’n vertrouensbasis ingebou in daardie uitvou-AA-Karoo-kaarte en vandag het dit vervaag na nostalgie.
Dit was my plig as kind om op ons gesin se langpadritte dié kaart te bestudeer en dan van agter af te skreeu waar ons moet draai. Ek onthou hoe ek nie getwyfel het hierin nie, want vele ander het die padkaart al beproef en verfyn.
Ek is oortuig dat die vorige vyf jaar se gebeurtenisse kan dien as ’n soort padkaart vir beleggers vir baie jare vorentoe.
Historiese taak
Beleggers onderskat presies hoe histories uniek en taai die vorige vyf jaar was en jy kan hulle beswaarlik kwalik neem.
Net soos met ’n hedendaagse GPS word ons vele roete-opsies gebied op ons beleggersrit, veral as iets verkeerd gaan, soos ’n ongeluk op die N1.
Dis hier waar beleggers steeds vasval.
Hier is ’n paar feite wat, afhangende van jou beleggingsbesluite die afgelope vyf jaar, vir jou baie genot of pyn kon veroorsaak het wat betref die opbrengs op jou beleggings:
- Behalwe vir die markineenstorting van 1987 was die markdaling gedurende Maart 2020, toe inperkings vir die Covid-19-pandemie wêreldwyd verskerp het, die tweede vinnigste wat al aangeteken is;
- Met die 1987-daling het dit twee jaar geneem om te herstel tot vlakke voor die daling. Die herstel van die Covid-daling het net vyf maande geneem;
- Die JSE se indeks van alle aandele het gedurende die Covid-periode met byna 35% geval, met die onderpunt op 20 Maart 2020;
- Die jaaropbrengs daarna vanaf die laagtepunt was nagenoeg 69%;
- 2022 was die swakste jaar tot nog toe vir Amerikaanse staatseffekte met ’n dollaropbrengs van -13%. Dit is ’n wesenlike gebeurtenis aangesien Amerikaanse staatseffekte gesien word as die veiligste effektemark ter wêreld;
- In dieselfde jaar, 2022, het simpel ou rommelstatus-Suid-Afrika se staatseffekte ’n opbrengs van ongeveer 4,3% (in rand) opgelewer;
- 2022 was die vinnigste wat rentekoerse nóg wêreldwyd verhoog is, met nog ’n markineenstorting wat gevolg het;
- Soos verwag kan word, het aandele soos dié van Tesla in 2021 met meer as 50% gestyg (beleggers is verlief op die aandeel), gedaal met 65% in 2022 (beleggers haat dit) en gestyg met 102% in 2023 (beleggers is weer verlief);
- Jy moes dan ook plaaslik leef met nuus oor die Russiese skip Lady R, beurtkrag, rommelstatus, gryslys en die onluste in KwaZulu-Natal waarin plundery en vandalisme skade van miljarde rande veroorsaak het; en
- In 2024 is aandele in die S&P 500-indeks meer gekonsentreerd as wat dit in die indeks se 68-jarige bestaan was. Die aandele van die 10 grootste firmas in die indeks verteenwoordig ongeveer 40% van die indeks.
Eiland sonder Wi-Fi
As jy einde 2019 vertrek het na ’n eiland sonder Wi-Fi sou jy nie op die mark kon reageer en geld onttrek elke keer as daar ’n daling of ’n kommerwekkende nuusopskrif was nie. Dan sou jou opbrengs vir die vyf jaar ’n heel skaflike gemiddelde van 11,12% per jaar gewees het.
Ons voorbeeldgrafiek is ’n snit van die opbrengs van ’n werklike kliënt vir ’n portefeulje met totale aandele-blootstelling van tussen 70% en 80%, waarvan buitelandse aandele tussen 40% en 50% verteenwoordig.
Die belegging het op 23 Desember 2019 ’n waarde van R878 392 gehad. In die vyf jaar het dit met nagenoeg R738 827 tot byna R1,62 miljoen gegroei.
Daarteenoor sou ’n belegging wat inflasie plus vyf persentasiepunte gelykmatig opgelewer het, met R550 757 tot byna R1,43 miljoen gegroei het, teen ’n gemiddelde koers van 9,89% per jaar.
Iemand wat in ’n multibate-effektetrustfonds met hoë blootstelling net aan Suid-Afrikaanse aandele belê het, sou ’n gemiddelde jaarlikse opbrengs van 8,98% behaal het en die belegging sou met R490 932 tot R1,37 miljoen gegroei het.

Ons is nie uniek nie
Uit bedryfstatistieke die afgelope vyf jaar was dit betreurenswaardig om te sien hoe beleggers keer op keer die verkeerde emosionele besluite geneem het op punte waar markwisselvalligheid ekstreem gevoel het.
Die eenvoudige som lui as volg: lewenslange opbrengs = markopbrengs (ná koste) + beleggersoptrede (en beleggersoptrede is dikwels negatief).
Die realiteit is dat sowel markskokke as mark-euforie hulself keer op keer gaan herhaal. Soms kan dit baie jare lank pynlik wees.
Beleggers het in 2001 gedink bome kan na die hemel groei toe die tegnologie-aandelepartytjie in volle gang was. Die dotcom-borrel het egter gebars en jou tienjaaropbrengs uit Amerikaanse aandele was byna 0%.
Die omvang van die gebeurtenisse die afgelope vyf jaar was enorm en ek glo beleggers kan dit spreekwoordelik uitknip en in hul beleggingsbundel plak, en telkemale daarna terugverwys wanneer die volgende groot skok of positiewe verrassing verbykom.
Beleggingslegendes (vanweë hul nederigheid) soos Warren Buffett, Benjamin Graham, Howard Marks, Peter Lynch en John Bogle het hul eie padkaarte ontwikkel en verfyn, en ons kan veel leer oor hoe hulle gestand gedoen het hieraan in moeilike tye.
Een van die foute wat ons maak, is om te dink ons gevoelens en reaksie op situasies is uniek. Paddy en Mary in Ierland is net so bekommerd of hulle eendag gemaklik kan aftree te midde van die stryd om drie kinders te voed en ’n huisverband af te betaal, terwyl gerugte oor afleggings loop.
Ons unieke omstandighede verskil dalk van Paddy en Mary, maar ons deel ’n universele vrees vir onvoorsiene skokke met miljarde ander in die wêreld en ’n markskok (te midde van die normale lewens-emosies) is dalk net genoeg om ons daardie een katastrofaal verkeerde finansiële besluit te laat neem.
Dis hoeka Graham wat gesê het: “Om te belê is nie daar om ander te klop in hul spel nie, maar om eerder jouself te klop in jou eie spel.”
Drie belangrike vrae
As jy die afgelope vyf jaar kan gebruik om baie van die beginsels onder die knie te kry en ’n padkaart te bou om te dien as die eerste linie van verdediging vir die finansiële jare wat kom, dan lei dit jou tot die volgende, baie belangriker drie vrae:
- Is ons oukei as ons sterf of nie meer kan werk nie?
- Is ons oukei as ons lank lewe?
- Hoe spaar ons, bestee ons en gee ons weg tussen dié twee onbekende tydstippe?
Hier is waar die waarde van finansiële beplanning deurkom om konteks te bied oor die drie vrae en ’n behoorlike finansiële plan (’n padkaart) te hê.
Die probleem is dat ons gevoelens oor ons beleggingsopbrengs en ’n fiksasie oor iets soos ons kwartaalstaatopbrengs of die volgende politieke opskrif, konstant inmeng met ons vermoë om helder te dink oor die drie vrae hierbo.
In ’n perfekte wêreld is ons hoop dat beleggers ’n padkaart het waarop hulle kan vertrou, wat op sy beurt weer lei tot meer lewens- en finansiële tevredenheid, asook tydsbesteding aan dít wat regtig geluk kweek.
Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.