Deur Andró Griessel
1 Februarie 2025
So een keer elke vyf jaar pak ’n kruistog-drang my en dan skryf ek geesdriftig oor (wat ek beskou as) die duister wêreld van kontraktuele spaarprodukte. Die maatskappye wat dié produkte aanbied, is oënskynlik onaantasbaar en suig steeds maandeliks miljoene rande van niksvermoedende spaarders in. Dis in die belang van die agente wat die produkte verkoop en ongetwyfeld die aandeelhouers van die maatskappye, maar gewis nie die spaarder nie.
As dit vir jou klink of ek vergeet het om my Prozac te drink die laaste tyd, moet ek om verskoning vra. Ek dink dit is ’n mate van frustrasie wat deursypel, want dis ’n geveg wat ek en van my kollegas in die bedryf al jare lank tevergeefs veg.
In die hoop dat ’n uitvoerende hoof van een van die tradisionele versekeringsmaatskappye wat dié produkte steeds onderskryf en verkwansel, vandag dié artikel lees en daar iewers ’n stemmetjie in sy/haar kop aan hom/haar sê daar moet ’n beter manier wees om sake te doen, gaan ek nietemin weer net die gesig van die monster openbaar.
As jy ’n belegger is wat dalk nog van hierdie versekeringsgebaseerde beleggings in jou portefeulje het, oorweeg maar om jou pakslae, waarvoor jy onwetende opgeteken het, eerder vroeg te vat en aan te beweeg na iets beters.
Gevallestudie
Die volgende geval land onlangs weer op my tafel. Ek deel graag die besonderhede en die impak vir die kliënt.
Mnr. I. Ngeloop het R500 per maand op 1 Julie 1994 begin belê in sy Liberty-uittree-annuïteit (UA) mét jaarlikse eskalasies. Sy fondswaarde vandag staan op R1 006 126.
Die interne opbrengskoers op sy belegging vir die totale meer as 20 jaar is 8,41% per jaar.
As ek na die onderliggende fonds (Liberty Lifestyle Managed) se feiteblad gaan kyk, is die opbrengs sedert aanvangs (1998) nie beskikbaar nie, maar die 10-jaaropbrengs tot 24/12/24 word wel aangedui as 5,14% per jaar. Die afgelope 10 jaar was ongetwyfeld nie maklik nie, maar die mediaanfonds in die kategorie vir fondse met matige aandeleblootstelling het 6,9% per jaar opgelewer, terwyl die mediaanfonds met hoë aandeleblootstelling 7,15% opgelewer het.
Die onderprestasie van die UA teenoor ’n gemiddelde verwagte uitkoms (nie naastenby die beste nie) is dus bykans 2% per jaar in die afgelope dekade.
Hoë koste
So, hier is mnr. Ngeloop se (en my) probleem: Hy is nou bewus van die swak prestasie, hoofsaaklik teweeggebring deur die hoë koste (van 3,59% per jaar) verbonde aan die produk. Wat staan hom nou te doen?
Hy kan sekerlik probeer om van onderliggende fonds te verander, maar die kostestruktuur van die produk self gaan nie verbeter nie. Selfs al doen sy alternatiewe fonds beter as die een hierbo, gaan hy steeds relatief onderpresteer teenoor dieselfde fonds op ’n goedkoper platform.
As jy dit uitgepluis het, is die antwoord dan seker maar om die UA van hom te skuif na ’n goedkoper platform?
En dit is net hier waar dinge my bloeddruk begin opjaag.
Oordragwaarde
Die oordragwaarde van mnr. Ngeloop se UA is slegs R916 843. Daar is nog 10 jaar van sy kontraktuele annuïteit oor en omdat hy basies ’n kontrak met Liberty gesluit het dat hy premies sal betaal tot 2035, pas Liberty ’n “boete” van R89 283 toe indien die kliënt sy reeds onderpresterende belegging wil probeer verbeter deur dit na ’n goedkoper produk te skuif of selfs vroeër af te tree daaruit.
As ons in ag neem dat die kliënt “slegs” R204 375 se premies belê het oor die 20 jaar, maak die boete meer as 44% van alle premies betaal uit. So, wat staan mnr. Ngeloop te doen?
As alles anders gelyk is, as mnr. Ngeloop sy geld oordra na ’n produk wat twee persentasiepunte per jaar goedkoper is, sal hy oor 10 jaar steeds bykans R300 000 meer in sy alternatiewe belegging (wat met R89 000 minder begin het) hê as wat hy waarskynlik gaan hê as hy op sy huidige pad voortgaan.
Die groot tragedie is egter dat, indien die kliënt van die begin af nie in ’n kontraktuele versekering-UA belê het nie maar direk in ’n beleggingsplatform se UA, sou sy opbrengs, alles anders gelyk, minstens 50% meer gewees het as wat dit tans is. Die saamgestelde effek daarvan vir die oorblywende potensiële 30 jaar van die kliënt se lewe is drasties.
Gekla, gedreig
In die afgelope 20 jaar het ek etlike van hierdie scenario’s by veral Sanlam, Ou Mutual en Liberty teëgekom. Ek het al met almal van hulle se interne ombud geskakel, gekla, gepleit, gedreig met die koerante, en selfs ’n beroep op hul integriteit gedoen.
Tot vandag toe het niks noemenswaardigs oor dié “boetes” verander nie.
Soos in my aanhef genoem, indien dié artikel dalk op ’n uitvoerende hoof se tafel beland, al is dit vir doeleindes om aan my ’n dreigbrief oor naamskending te stuur, wil julle dit nie maar oorweeg om kliënte wat die produkte wil verlaat, toe te laat om selfbehoudend op te tree sonder om verdere boetes op te lê nie?
Dit is die regte ding om te doen!
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.