Skep welvaart in 2025 met dié drie beginsels van desjare

Deur Samuel Rossouw

4 Januarie 2025

2025 het aangebreek en daar is rede om optimisties te voel oor ons geldsake. Suid-Afrika is stabiel ná die 2024-verkiesing, ondanks die ANC se steun wat vir die eerste keer onder 50% gedaal het. Die aandelebeurs het die afgelope 12 maande met 6,4% gegroei en ons effektemark met 18,90% (dis gemeet tot einde November). Die rentekoers is besig om te daal en ekonome voorspel beter beleggersvertroue en verbruikersbesteding. My Nuwejaarsvoornemens bevat altyd ’n doelwit wat te make het met finansies. My kollega het twee dekades gelede drie beginsels van welvaartskepping gebruik in sy voorleggings aan nuwe kliënte. Dié beginsels is nog net so belangrik soos 20 jaar gelede en in ’n wêreld waar ons blootgestel is aan kripto, die “Ongelooflike Sewe” en piesangkuns, dink ek dit is tyd om hulle weer onder die knie te kry.

1. Die effek van groei oor tyd

Albert Einstein noem die effek van groei oor tyd die agtste wonder van die wêreld. Beleggers wat dié effek verstaan, trek voordeel daaruit. Beleggers wat nie hierop ag slaan nie, betaal die prys op lang termyn. Hieronder is ’n tabel wat die fondswaarde wys van ’n aanvanklike belegging van R100 000 plus R5 000 per maand (wat jaarliks met 5% verhoog word) wat met gemiddeld 11% per jaar groei. Ná vyf jaar beloop die beleggingswaarde R611 608 en ná 10 jaar is dit net sowat 2,65 maal meer op R1,6 miljoen. Ná 45 jaar staan die fondswaarde egter op amper R139 miljoen of sowat 227 keer meer as ná vyf jaar. Die verskil tussen die fondswaarde ná 30 jaar en ná 45 jaar is ook 469% meer! Wat nog meer indrukwekkend is, is dat die groei op die belegging ná 45 jaar 13 keer meer is as die totale bydraes tot die fonds oor die hele termyn.

2. Die impak van negatiewe groei of verliese

Die Suid-Afrikaanse eiendomsmark het die afgelope vyf jaar ’n gemiddelde opbrengs van slegs 8,3% per jaar behaal (tot einde November), ten spyte van twee uitskieterjare (28,3% in 2024 en 36,9% in 2021). Die plaaslike aandelemark het oor dieselfde tydperk ’n gemiddelde opbrengs van 12,5% behaal, oftewel 50% meer. Die rede vir die groot verskil het te doen met die feit dat die eiendomsmark in 2020 ’n negatiewe jaar van 34,5% beleef het. Selfs met beter prestasies die afgelope twee jaar in die eiendomsektor kon dit steeds nie beter as die aandelemark presteer nie.

3. Hefboomeffek van finansiering

Dié beginsel, indien dit reg toegepas word, kan wesenlike welvaart skep en word veral in eiendomstransaksies gebruik. Indien die koste van kapitaal laer is as die opbrengs op jou belegging, word die opbrengskoers verhoog (soms dramaties) deur van finansiering gebruik te maak. In die geval hierbo het die belegger sy opbrengs op kapitaal met 123% verhoog. Die gevaar van dié strategie is egter dat jy jou potensiële verlies ook dramaties kan opblaas indien die koste van kapitaal meer is as die opbrengskoers. Dié strategie kom dus met ’n hele rits voorwaardes. Win professionele advies in alvorens jy so ’n projek aanpak.

Slotsom

Daar is ’n hele paar punte uit bogenoemde om van kennis te neem en hierdie is kortliks soos volg:

  • Die effek van groei oor tyd werk die beste oor lang beleggingsperiodes. Begin dus so vroeg as moontlik spaar. Dis nie altyd maklik nie, maar dit is hier waar goeie finansiële dissipline noodsaaklik is.
  • Dit gaan soms beteken dat jy op kort termyn jouself moet ontneem van sekere voorregte, maar jy sal vir seker die finansiële vrugte van die opoffering op lang termyn pluk. Ongelukkig is daar geen (relatief veilige) beleggings wat vinnige rykdom bewerkstellig nie.
  • Vroeg aftree is ’n stap wat die effek van groei kniehalter. Kyk gerus na die verskil in fondswaardes ná 30 en 45 jaar. Ek stel nie noodwendig voor dat almal werk tot die ouderdom van 70 nie, maar om op ouderdom 55 reeds van jou fonds te begin gebruik, kan problematiese langtermyngevolge inhou.
  • Hou in gedagte dat beleggingsopbrengste nie in ’n reguit lyn plaasvind nie. 2024 was ’n goeie jaar in die beleggingswêreld en die gemiddelde Suid-Afrikaans gefokusde aandelefonds het met 16% gegroei (gemeet tot einde November). Die vyfjaaropbrengs per jaar was 10,53%.
    In 2023 oor die ooreenstemmende tyd was die gemiddelde opbrengs van die sektor maar 2,58% (en die vyfjaaropbrengs 8,88%). Geduld is die wagwoord hier.
  • Die effek van negatiewe groei het ’n baie groot invloed op die langtermyn- gemiddelde opbrengs op ’n belegging. Beplan dus jou beleggingstrategie ooreenkomstig om negatiewe dalings te verminder. Indien jy 30% verloor op ’n belegging, moet jy 43% behaal net om weer op dieselfde punt te kom.
  • Hoe groot die versoeking ook al mag wees, beperk of vermy blootstelling aan bates wat teen astronomiese hoë waardasies verhandel.
  • Bou ’n goed gediversifiseerde portefeulje wat versprei is tussen verskillende bateklasse sowel as tussen spesifieke sekuriteite en aandele.
  • Die hefboomeffek beteken nie noodwendig jy leen geld by ’n bank om beleggings te maak nie, soos die voorbeeld van ’n eiendom koop, maar as jy byvoorbeeld nié ekstra geld in jou huisverband inbetaal nie, maar in jou beleggings stort, kan hier ook ’n positiewe hefboomeffek wees. As jy sinvolle aanpassings maak, soos byvoorbeeld geld in jou uittree-annuïteit plaas, kan jy die belastingvoordeel aanwend om geld in jou diskresionêre beleggings te plaas en sodoende die koste van jou kapitaal wesenlik verlaag.

Ons het dit al vele kere genoem: Ons het geen idee wat aandeelpryse gaan doen vandag of môre nie. Indien jy egter die basiese beginsels van welvaartskepping verstaan, vroeg genoeg begin spaar en geduldig is, sowel as ’n deurdagte beleggingstrategie volg, behoort finansiële sukses jou nie te ontwyk nie.

Samuel Rossouw is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X