Deur: Andró Griessel
7 Desember 2024
As jy nog nie gehoor het nie – verlede maand is ’n piesang (die doodgewone geel tipe waarvan bobbejane so baie hou), met plakband vasgeplak teen ’n wit bord by ’n Sotheby’s-veiling vir $5,2 miljoen van die hand gesit (die internet sê verkeerdelik $6,2 miljoen). Teen die huidige wisselkoers is dit sowat R95 miljoen.
Die piesang is gekoop deur ’n ene Justin Sun, ’n 34-jarige boorling van China wat sy welvaart met kripto-verwante aktiwiteite bekom het. Om sy vertoon, wat as niks anders as ’n ge-piesang-swaaiery bestempel kan word nie, nog meer banaal te maak, het hy op die verhoog gestap, die piesang afgetrek van die vertoonbord en dit eenvoudig opgeëet.
Noem my konserwatief (of in hierdie geval ’n pastorie-piesang), maar hierdie tipe banaliteit pla my nie net nie, dit is ook vir my soos die spreekwoordelike kanarie in die steenkoolmyn dat die volgende wêreld- finansiële krisis om die draai kan wees.
As ons verder in ag neem dat daar tans ruweg 10 300 kripto-“geldeenhede” is met ’n “waarde” van $3 560 miljard (gelykstaande aan die bruto binnelandse produk van Brittanje) terwyl dit, myns insiens, geen fundamentele waarde het nie, kan ons verstaan hoe die houers van hierdie “bates” mnr. Sun se soort aapstreke kan uithaal. En net om dinge interessanter te maak het CBL (crypto backed lending) vroeër vanjaar ook sy kop uitgesteek.
Die tydperk ná die internasionale finansiële krisis wat gekenmerk is deur uitermatig tegemoetkomende monetêre beleid en gelddrukkery (vernaam in die VSA), glo ek, was die Blitz wat ’n spekulasie-vuur aangesteek het wat tans hoog brand. Soos enige vuur beter die hout egter hard en dik wees, anders kan dit baie vinnig uitbrand.
Glo dit of nie, maar hierdie artikel gaan nie werklik oor bitcoin en kie nie, maar wel oor die era van bykans gratis geld, wat ons gebring het waar ons vandag is, en die implikasie vir my en jou as gewone beleggers.
So, hoe raak dit my as ’n gewone belegger in aandele- en/of effektetrust-portefeuljes wat niks met bitcoin of ander kriptogeldeenhede te doen het nie? Soos die spreekwoordelike seuntjie wat wolf-wolf geskree het, het die uwe al geruime tyd gelede begin waarsku teen ’n lukrake buitelandse toewysing van beleggings.
Ek probeer my bekommernisse kortliks verwoord:
- As jy vandag beleggings in ’n MSCI-indeks besit, lyk jou geografiese verstek batetoewysing vir daardie belegging soos volg: Jy het outomaties 73%-blootstelling aan die VSA, 6% aan Japan, 4% aan Brittanje en dan sowat 17% altesame aan die res van die wêreld. Dit is ongekende konsentrasie. Aan die einde van die goue era vir die Japanse ekonomie (1989), het Japan sowat 45% van die MSCI-indeks opgemaak met die VSA op slegs sowat 30%.
- Suid-Afrikaners is egter gewoond aan hoë geografiese konsentrasie in hul portefeuljes, want tot ’n paar jaar gelede het die meeste beleggers 73% of meer blootstelling aan die mark gehad. Hierdie konsentrasie is nie ’n massiewe probleem solank die waardasies aantreklik is nie, wat ongelukkig nie tans die geval is nie. Ongeag of ons kyk na prys-tot-boekwaarde-, prys-tot-verdienste-, of siklies aangepaste prys-tot-verdienste verhoudings, die VSA-mark as ’n geheel lyk uitsonderlik duur. Op ’n prys-tot-boekwaarde-grondslag verhandel die VSA mark tans teen meer as vyf keer. Die afgelope 24 jaar het dit nog net twee keer vantevore gebeur (2000 en 2021) en in albei gevalle het die mark, kort nadat dit hierdie vlak bereik het, skerp gedaal. Dis dalk ’n goeie tyd om jou te herinner dat Japan se Topix-indeks stééds sowat 5% laer verhandel as die hoogste punt in 1989 en dat die tydperk 2000-’10 ook ’n verlore dekade vir Amerikaanse beleggers was.
- Ten slotte is daar die astronomiese skuldvlakke van die VSA. Dit het die Amerikaanse regering meer as 100 jaar geneem om $1 000 miljard se skuld op te loop teen 1981, toe nog 27 jaar om teen 2008 (toe die internasionale finansiële krisis getref het) tot $10 000 miljard te groei, 12 jaar om teen 2020 (Covid-19) op $24 000 miljard te staan te kom en net vier jaar om dit op te blaas tot $36 000 miljard.
As ek vandag se boodskap kortliks moet opsom, sal dit die volgende wees:
- Indeks-beleggings in die MSCI gee jou tans baie groot konsentrasie aan ’n mark wat duur is. Jy het tans ’n struktureel oorgewig blootstelling aan duur bates en struktureel ondergewig blootstelling aan goedkoop bates. Dit sal waarskynlik tot wesenlik swakker beleggingsopbrengste lei as waaraan jy gewoond geraak het.
- Gegewe die inligting wat jy nou tot jou beskikking het, as jy jou totale portefeulje tans in kontant gehad het en jy moes sonder enige beperkinge die kontant aan verskillende bates toewys, sou jy dit toewys soos dit tans toegewys is?
- Die beste beleggers is nie diegene wat die meeste geld maak aan die einde van ’n bullopie nie, maar die minste verloor wanneer dit tot ’n einde kom.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.