Tree eerder stuk-stuk af

Gee aandag aan die finansiële & emosionele impak daarvan

Deur Deidré Valentine

31/8/2024

Die meeste lesers van hierdie rubriek het waarskynlik vanjaar in ’n mindere of meerdere mate die Olimpiese Spele gevolg. Ek en my man het saans ná werk ons huistake so gou moontlik afgehandel sodat ons kon kyk hoe die topatlete meeding om ’n medalje vir hulself en hul land te verwerf. Toe die Olimpiese Spele tot ’n einde kom, het ek amper gevoel “wat gaan ek nou met my tyd doen?” Dís seker hoe baie afgetredenes moet voel, het ek besef.

Aftrede is ’n belangrike mylpaal in ’n mens se lewe, wat die oorgang van ’n leeftyd van werk na ’n nuwe hoofstuk van ontspanning en persoonlike doelwitte verteenwoordig. Tradisioneel word aftrede vereenselwig met ’n skielike uittrede. Aanvanklik kan die ontsnapping van die daaglikse roetine soos ’n groot verligting klink. Baie nuwe afgetredenes vind egter dat die nuwigheid om “permanent met vakansie” te wees ná ’n paar maande glans begin verloor. Jy mis dalk die gevoel van identiteit, betekenis en doel wat saam met jou beroep gekom het, die struktuur wat dit aan jou dae gegee het, of die sosiale omgang met kollegas.

Ek het onlangs met ’n kliënt gesit wat beplan het om af te tree ná ’n taamlik stresvolle en besige beroep. Aftrede is toe nie juis wat hy gedink het dit gaan wees nie, en daarom moet ons kyk na alternatiewe maniere, soos konsultasie-werk, om die impak van aftrede effens te “versag” – sowel emosioneel as finansieel. Om geleidelik veranderinge aan te bring en tyd te neem om in aftrede in te faseer, sal hierdie spanning aansienlik verminder.

Ek wil dit wel duidelik maak dat ek nie hierdie benadering sou aanbeveel as ’n persoon nie die beplanning saam met ’n welvaartbestuurder aanpak nie. Die normale punte van belang, naamlik belasting, portefeulje-samestelling, kapitaalbehoud, beleggingsvoertuie en maandelikse begroting, is steeds van kardinale belang by aftree-beplanning. Dit kan egter, indien toepaslik, voordelig wees om ’n stelselmatige benadering tot aftrede te volg. Ek besef wel dat dit nie in alle beroepe moontlik is om ná die ouderdom van 65 steeds te werk nie. Indien dit die geval is, moet ’n mens al voor aftrede begin dink aan alternatiewe bronne van inkomste of beroepe om ná aftrede aan te pak. Ek lig graag ’n paar voordele van ’n stelselmatige aftrede uit.

Sosiale betrokkenheid

Werkplekke is dikwels ’n belangrike bron van sosiale omgang en kameraadskap. As jy die arbeidsmag skielik verlaat, kan dit lei tot gevoelens van isolasie en eensaamheid. As jy bloot minder ure werk, kan jy bande met kollegas behou. Gedurende hierdie oorgangstydperk kan jy verhoudings buite die werk opbou en nuwe sosiale geleenthede verken, wat jou sal help om ná aftrede steeds ’n vervullende sosiale lewe te hê.

Finansiële buigsaamheid

Finansiële oorwegings speel ’n deurslaggewende rol in aftreebeplanning. ’n Stelselmatige benadering tot aftrede kan beter finansiële stabiliteit bied aangesien jy voortgaan om ’n gedeelte van jou “salaris” te verdien terwyl jy na aftrede oorgaan. Dit gee jou meer tyd om jou aftreegeld op te bou en laat jou bestaande geld langer groei. Ek illustreer dit aan die hand van ’n voorbeeld.

Gestel ’n 65-jarige wil nou aftree. Ons maak die volgende aannames oor die persoon se bates en behoeftes:

  • R6 miljoen in ’n pensioenfonds (wat by aftrede oorgedra word na ’n lewende annuïteit);
  • R6 miljoen in diskresionêre effektetrustbeleggings;
  • ’n Maandelikse onttrekking van R60 000 (voor belasting) uit beleggings, waarvan 5,5% vanuit die lewende annuïteit onttrek word en die res vanuit die effektetrusts;
  • Die inkomste word elke jaar met die inflasiekoers verhoog (5,5%);
  • Die groei-aanname op beleggings is VPI + 5% (rofweg 10,5%).

.
Dit is in die pas met die verwagte gemiddelde langtermynopbrengs van ’n portefeulje met ’n gebalanseerde mandaat. Uit die grafieke hiernaas is dit duidelik dat die persoon genoeg geld het om in sy/haar behoeftes te voorsien tot op ouderdom 95. Die eindwaarde van die beleggings sal na verwagting sowat R5,88 miljoen (in reële terme) wees op ouderdom 95.

Gestel nou ons gebruik dieselfde aannames as hierbo, maar volg ’n stelselmatige benadering tot aftrede, waar die persoon van ouderdom 65 tot 67 die helfte van sy/haar inkomste-behoefte deur ’n salaris kan verdien (en dus slegs R30 000 uit die beleggings hoef te onttrek).

Van ouderdom 67 tot 70 onttrek die persoon R45 000 (in reële terme) uit hul beleggings, en daarna die volle inkomstebehoefte van R60 000 per maand. In hierdie geval behoort die eindwaarde van die beleggings sowat R10,98 miljoen (in reële terme) te wees op ouderdom 95. Dit beteken dat ’n belegger amper dubbel soveel geld sal hê vergeleke met die aanvanklike voorbeeld hierbo.

Gesondheid en welsyn

’n Geleidelike aftrede kan ook ’n positiewe uitwerking op jou gesondheid en welstand hê. Die vermindering van werkverwante stres en verantwoordelikhede kan lei tot beter fisieke en geestelike gesondheid. Die ekstra tyd wat tydens die oorgang beskikbaar is, kan gewy word aan oefening, ontspanning en selfversorging, wat help met ’n gesonder aftree-leefstyl.

Aftrede hoef nie ’n alles-of-niks-besluit te wees nie. ’n Stelselmatige aftrede bied ’n gebalanseerde benadering om jou te help om hierdie fase of lewensoorgang beter aan te pak. Geleidelike aanpassings aan jou werksprogram, finansiële beplanning, sosiale verbintenisse en persoonlike aktiwiteite stel jou in staat om ’n aftreereis in pas met jou unieke behoeftes en doelwitte aan te pak.

Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

 

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X