Daar is lig aan die einde van die tonnel vir SA beleggers
Deur Andró Griessel
3/8/2024
Enige belegger wat die jongste verslag oor effektetrust-opbrengste onder oë gehad het en meen hy kon netsowel die afgelope 10 jaar sy geld in sy sitkamerbank weggesteek het, kan verskoon word vir hierdie gedagte.
Die afgelope dekade voel werklikwaar soos ’n “verlore” dekade vir beleggers wat hoofsaaklik Suid-Afrikaanse blootstelling in hul portefeuljes gehad het. Uit die meegaande tabel is dit duidelik dat, ongeag wat jy besit het, jou opbrengs maar min of meer dieselfde sou wees indien jy die “gemiddelde” opbrengs van elke spesifieke beleggingskategorie sou behaal.
Wat dalk vir baie lesers ietwat van ’n verrassing sal wees, is dat dieselfde beleggingskategorieë in die internasionale spektrum se uitkoms nie soveel beter (met die uitsondering van aandele) was nie.
Die SA vs. Buitelands onderwerp is al holrug gery. Ek dink wel daar is ’n paar punte uit die afgelope dekade wat ’n mens in ag moet neem wanneer jy besluite oor die volgende dekade neem. Van hierdie kan dalk net ’n wesenlike verskil in jou opbrengste teweegbring.
-
- Die gemiddelde opbrengs per kategorie is presies wat dit sê: ’n gemiddelde. Dit suggereer dat daar fondsbestuurders is wat heelwat beter en ander wat heelwat swakker gevaar het. Hoe groter die toedeling aan aandele, hoe groter is die verskil in prestasie tussen die fonds wat die beste en die een wat die swakste gevaar het. Die gaping tussen, byvoorbeeld, die SA aandelefondse wat die beste en die swakste gevaar het, is ’n allemintige 10,42% per jaar. My ervaring is dat die meeste beleggers nie weet of die fondse waarin hulle belê beter, swakker of in die pas met die gemiddelde fonds in dieselfde kategorie vaar nie. Om vir 10 jaar in ’n onderpresterende fonds te wees, kan selfs nadeliger wees as om in die verkeerde bateklas te wees.
-
- ’n Vinnige optelsommetjie wys die 10 fondse, wat die afgelope 10 jaar in die laaste posisie van hul onderskeie fondskategorieë (sien meegaande tabel) was, verteenwoordig altesame R4,59 miljard. Dit suggereer dat baie beleggers se oog nie op hul eie beleggingsbal is nie.
-
- Waardasies maak saak: Einde Junie 2014 was die Suid-Afrikaanse mark peperduur ná ’n ongelooflike 10 jaar lange bullopie – die gemiddelde (let wel) prestasie van fondse in die kategorie SA aandele oor die tydperk van Junie 2004 tot Junie 2014 was 19,2% per jaar. Hoewel ek nie gedink het so ’n lang en uitmergelende dekade sou hierop volg nie, was swak opbrengste, minstens oor kort tot mediumtermyn, vir SA aandele te wagte. Die huidige waardasie-vertrekpunt vir SA aandele is die omgekeerde van 10 jaar gelede, met die gevolglike verwagting dat die uitkoms wesenlik sal verskil.
-
- As jy al ’n paar jaar in ’n staat van depressie verkeer omdat jy dink jy het die buitelandse bootjie gemis, sal dit dalk ’n bietjie help om te weet dat dit regtig nét diegene was wat dit kon bekostig om ’n wesenlike deel van hul welvaart in hoërisiko-suiwer buitelandse aandelefondse te belê, wat die lang brander tot op die strand gery het. Die realiteit is dat so ’n toewysing eenvoudig nie gepas was vir 80% of meer van beleggers nie. Op die beste sou hulle moes kyk na ’n “gebalanseerde” buitelandse portefeulje wat ander bates soos effekte moes insluit – en buitelandse effekte het ’n powere dekade beleef met opbrengste van ongeveer 4% per jaar in rand. Hoewel uitsonderlike stories graag as die reël gedeel word, was die realiteit vir die meeste beleggers (selfs dié met ’n oorgewig buitelandse posisie) baie minder asemrowend.
-
- Daar het in ’n mate ’n binêre denkpatroon ontstaan waar ons van SA vs. buitelands as slegs twee bateklasse praat, en met buitelands bedoel ons eintlik die VSA. Die meeste Suid-Afrikaners se portefeuljes, as jy na geografiese toewysing kyk, het dan ook meer as 75%-blootstelling aan slegs hierdie twee lande. Dit sal wys wees om wyer te kyk vir jou portefeuljekonstruksie vir die volgende dekade.
-
- Lui (of geen) toewysing van kapitaal binne Suid-Afrika het in die afgelope dekade nie wesenlike welvaart-implikasies vir mense ingehou nie aangesien jy met jou rustigslaap-fondse in die geldmark nie veel swakker sou gevaar het as diegene wat met ’n geween en ’n gekners van tande die plaaslike aandele- en effektemark getrotseer het nie. Ons dink nie ’n herhaling hiervan oor die volgende dekade is realisties nie.
-
- As jy gelukkig of wys genoeg was om 10 tot 15 jaar gelede ’n wesenlike toedeling aan veral die VSA-mark te maak en dit behou het, sou jy ’n wonderlike tydperk van welvaartskepping beleef het. My raad aan jou is dat jy nie jou geld op dieselfde manier hoef te verloor as wat jy dit gemaak het nie.
Volgens die meeste fundamentele aanduiders lyk die Amerikaanse mark duur. Die eerste skote het al in 2022 geklap, maar die mark het dit afgeskud en voortgestoom in 2023 en 2024 (hoewel gekonsentreerd in ’n handjievol aandele). Uit ondervinding weet ons egter dat bome nie tot in die hemel groei nie, en dat daar waarskynlik ’n ontnugtering wag op mense wat glo dié keer is anders.
Is daar lig aan die einde van die tonnel vir Suid-Afrikaanse beleggers? Ons dink daar is gewis – en dit is verbasend genoeg nie ’n aankomende trein nie, maar ’n beleggingsiklus waar ons moontlik die draaipunt van maksimum pessimisme reeds bereik het.
Dit is gewoonlik waar uitstekende geleenthede gevind word. Onthou egter die besluit oor batetoewysing is nie een tussen buitelandse (VSA-) aandele en SA aandele nie, en dat Suid-Afrika ’n bitter klein komponent van die wêreld se kapitaalmarkte beslaan.
Jou beleggingsplan gaan dus ’n bietjie meer gesofistikeerd moet wees as om net die een vir die ander te verruil.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.