Resep vir die agtste wonder

Tyd is die geheime bestanddeel wat jou beleggings nodig het

Deur Samuel Rossouw

4/5/2024

Die beleggingsghoeroe Warren Buffett verwys gereeld na saamgestelde rente as die agtste wonder van die wêreld. Maar hoe werk hierdie wonder nou eintlik in die praktyk? Moet ek soos mnr. Buffett op 14-jarige ouderdom begin spaar, of my geld eers ná 50 begin gebruik?

Daar is niks so oortuigend soos ’n werklike gevallestudie om die belangrikheid van finansiële dissipline en die voordeel wat dit inhou te illustreer nie.

Thomas het in 2009, vars uit die universiteit, begin werk. Hoewel hy ad hoc-beleggings gemaak het, was hy nooit verplig om by ’n pensioenfonds aan te sluit nie.

Die ongelukkige gevolg is dat hy eers in 2015 doelgerig begin spaar het. Sy lewenspeil was van so ’n aard dat hy in 2017 en 2018 ’n groot gedeelte van sy salaris kon wegsit.

In 2020 het hy verhuis en kon hy nie spaar wat hy wou nie, maar sy gesonde verstand en gewete het hom begin pla en van 2021 tot einde Februarie 2024 probeer hy om, tesame met sy maandelikse bydrae, ook sy jaarlikse bonus weg te sit in sy annuïteit. Die belastingvoordeel wat hy hieruit ontvang, is verbasend bevredigend.

Thomas het die afgelope tien jaar gemiddeld 16,95% (in plaas van die voorgeskrewe 15%) van sy jaarlikse salaris gespaar om te probeer vergoed vir sy aftreepoging wat eers op ouderdom 30 begin het.

Die grafiek hieronder wys die voorsieningstekort, met ander woorde hoeveel sy werklike fondswaarde minder is as wat dit sou wees as hy van 2015 af elke jaar 15% van sy salaris gespaar het.

Wat opmerklik is, is dat hoewel Thomas oor die tien-jaartydperk meer as die voorgeskrewe persentasie gespaar het, hy steeds tans ’n 5%-voorsienings-tekort het.

Thomas het die afgelope vier jaar gemiddeld 20% van sy salaris gespaar, maar kon steeds nie die aanvanklike tekort wat hoofsaaklik in 2015 en 2016 ontstaan het, uitwis nie. As Thomas wel hierdie tekort wil uitwis, sal hy vir die volgende ses jaar 16,5% van sy bruto salaris moet spaar.

Die volgende lesse kan uit hierdie voorbeeld geleer word.

  • Hoe groter die kapitaalgrondslag, hoe vinniger kan saamgestelde rente begin werk. Die grafiek hiernaas toon watter gedeelte van jou belegging op ouderdom 65 bestaan uit (a) ’n R1-belegging wat jy gemaak het op ’n sekere ouderdom en (b) die groei daarop.
    .

Op ouderdom 60 raak die groei onbeduidend klein, maar as jy die R1 reeds belê het op ouderdom 25, behels die groei verreweg die grootste gedeelte van die fondswaarde.

  • Beleggingsopbrengste is nie in ’n reguit lyn nie. In 2020 was Thomas se opbrengs byvoorbeeld slegs 0,2%. In hierdie jaar het hy ongelukkig ook wesenlik minder bygedra as wat hy moes.
    .
  • Die daaropvolgende jaar het sy geld met 19,97% gegroei, maar dit was op ’n baie laer kapitaalbedrag as wat dit sou wees indien hy die bydrae gemaak het wat hy eintlik moes.
    .
  • Ons ondervinding is ook dat beleggers dikwels te konserwatief is ná jare van swak opbrengste en te aggressief wil belê ná jare van goeie opbrengste. Ek is seker almal onthou die groot markregstellings, soos 2000 se IT-borrel, die internasionale finansiële krisis van 2008, “Nenegate” in 2015 ensovoorts.
    .
  • Wie kan egter die datums/tye (en spesifiek die redes) onthou toe markte gestyg het?
    .
  • Die JSE se indeks van alle aandele het byvoorbeeld met 7,61% gestyg in Oktober 2015, 13,98% in April 2020, 8,89% in Januarie 2023 en 12,33% in Desember 2023. Omdat die menslike brein die ongemaklikheid van dalings baie meer intens ervaar as die vreugde van stygings, fokus ons dikwels te veel op negatiewe nuus.
    .
  • Stel ’n langtermynstrategie op wat jou behoeftes weerspieël en hou daarby. Maak slegs strategiese skuiwe soos die tyd aanstap.
    .
  • Daar is baie faktore in beplanning en finansiële markte wat ons nie kan beheer nie, so fokus op die dinge binne jou beheer.
    .
  • Spaar van so vroeg moontlik af gedissiplineerd. Thomas het eers op ouderdom 30 begin spaar en die sewe jaar wat hy agter is, beteken eenvoudig dat hy ’n heelwat groter gedeelte van sy salaris moet wegsit.
    .
  • Probeer om ’n vaste persentasie van jou bruto salaris weg te sit. Dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar om af te tree met wesenlik minder inkomste tot jou beskikking as waaraan jy gewoond is, is eweneens ongemaklik.
    .
  • Bestuur ’n parallelle plan tussen jou doelwitte, met ander woorde, moenie jou aftredevoorsiening stop of afskeep omdat jy wil spaar vir ’n deposito op ’n huis nie, of moenie jou voertuig op jou huisverband koop nie.
    .
    Ondervinding het geleer dat ’n vermenging van doelwitte dikwels power resultate oplewer.
    .
  • Wees versigtig om jou lewenspeil te verhoog in ooreenstemming met jou salaris. Duurder huise en voertuie plaas druk op jou vermoë om jou aftredevoorsiening op ’n ideale vlak te handhaaf. Thomas se redding is dat hy in hierdie stadium van sy lewe ’n groot gedeelte van sy salaris kan spaar.
    .

Ondanks ’n relatief droewige plaaslike situasie is aftreefondse (bv.’n annuïteit of pensioenfonds) steeds ’n goeie beleggingsvoertuig, want:

  • Die bydraes (beperk tot maksimums) is aftrekbaar vir inkomstebelasting, met ander woorde die Suid-Afrikaanse Inkomstediens help jou eintlik spaar.
    .
  • Rente-inkomste, dividende en kapitaalwins is nie belasbaar binne aftreefondse nie.
    .
  • Jy kan tot 45% van jou aftreegeld aan buitelandse bates toewys.
    .
  • Aftreefondse is ook buite jou boedel vir boedelbelasting-doeleindes.
    .

TJ Strydom sluit sy boek Koos Bekker se Biljoene af met Bekker se antwoord toe hy in ’n stadium gevra is oor die rede vir sy sukses: “I think there is always an element of luck and circumstance.”

Dalk bied die effek van groei oor tyd, gesonde finansiële dissipline en ’n goed deurdagte beleggingstrategie net die nodige omstandighede en geluk om van jou finansiële beplanning ’n sukses te maak.

Samuel Rossouw is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X