Waak teen paniek of gierigheid om beleggingsbesluite te rig
Deur Andró Griessel
30/3/2024
Teen die einde van die tweede kwartaal van verlede jaar was die algehele waarde van internasionale aandelemarkte R109 000 miljard, of R109 000 000 000 000, met die verdeling van die koek wat in die grafika hiernaas uiteengesit word.
Die JSE verteenwoordig net ’n rapsie meer as 1% van hierdie asemrowende syfer.
Wat baie mense egter nie besef nie, is dat effektemarkte internasionaal selfs groter as aandelemarkte is. Dit is ook die geval in Suid-Afrika.
En ook in hierdie geval beslaan ons mark nie meer as 1% van die totaal nie.
As ons dan verder die werklikheid in die oë kyk dat verreweg die meeste beleggers blootstelling aan hierdie twee bateklasse het, raak die volgende ’n baie moeilike vraag om te beantwoord:
Waarom sal ek nie 95% of selfs meer van my beleggings in buitelandse bates hê nie?
Die standaardantwoord wat beplanners nog altyd gegee het, myself inkluis, is:
- Jou verpligtinge is in rand, so dit maak sin dat die meeste van jou beleggings blootstelling het aan rand-gedenomineerde bates; en
. - Oorsese beleggings kom met te veel wisselvalligheid en is veral nie geskik vir afgetrede beleggers vir wie sekwensie-risiko (meer hieroor in ’n volgende artikel) ’n werklikheid is nie.
.
Albei redes dra gewig, maar net solank as wat dit nie teen ’n te hoë prys kom nie.
Die afgelope tien jaar was die prys wat beleggers betaal het (natuurlik met die insig van nabetragting) te hoog.
Die groeiende koor van kommentators, sowel as jou eie gevoel aan die bas, sê as jy om welke rede ook nie wil of kan emigreer nie, moet jy net jou huis in Suid-Afrika besit en alles anders tot elke prys na die buiteland neem.
Dit klink nie regtig 100% korrek nie, maar kan ook gegewe die syfers wat ek in die openingsparagraaf noem die rasionele besluit wees.
As bewaarders (in die eerste plek) van kliënte se geld, is dit vir ons belangrik om nie net na die potensiële opbrengs te kyk nie, maar ook na die risiko.
En risiko, volgens my, is wanneer jy bates teen wesenlik oorwaardeerde pryse aanskaf en dan óf teen groot verliese moet verkoop óf vir ’n baie lang tydperk moet hou net om jou verliese op te maak.
Daar het na my mening ’n ongesonde obsessie met Amerikaanse aandelemarkte ontstaan, asof hulle in ’n wêreld van hul eie begin funksioneer het waar die fundamentele beginsels van beleggings (soos die prys wat jy betaal vir ’n maatskappy) of die implikasies van massiewe en onvolhoubare staatskuld nie meer saak maak nie.
Ons bly vergeet dat ’n 30%- of 40%-daling nie een jaar se opbrengste uitwis nie, maar soms vyf jaar s’n.
So, waar is hierdie waardasies tans vergeleke met geskiedkundige waardasies?
’n Regressie-ontleding van die S&P 500 se prys-tot-boekwaardeverhouding (’n maatstaf van hoe goedkoop of duur die mark is) toon ’n baie sterk omgekeerde korrelasie tussen die prys wat jy in enige stadium betaal het en die daaropvolgende tien jaar se opbrengste.
Soos aan die begin van die eeu (aan die einde van die dotcomborrel) verhandel hierdie mark tans teen ’n prys-tot-boekwaardeverhouding van bykans 5, terwyl reeds van ’n 4 (aangedui met die oranje kol regs onder op die grafika) die verwagte dollar-opbrengste oor ’n tienjaartydperk ’n ronde nul is.
Ek sê nie dit is wat beleggers in die S&P 500 oor die volgende tien jaar behoort te verwag nie.
Daar kan egter hoegenaamd nie verwag word dat daar ’n herhaling van die afgelope 15 jaar gaan wees nie, aangesien die vertrekpunt 15 jaar gelede van baie lae waardasies was (aangedui met die oranje kol links bo), terwyl ons vertrekpunt tans een van hoë waardasies is.
As ons gewapen met bogenoemde inligting voorts aanvaar dat “slegs” 42,5% van jou aandeleblootstelling wel in die VSA is en die verwagte opbrengs daaruit laag tot baie laag is, verg dit nie ’n Nobelprys in wiskunde om uit te werk dat die oorblywende deel van jou portefeulje baie goed sal moet vaar sodat jou totale portefeulje ’n bevredigende opbrengs kan lewer nie.
So, wat is die slotsom?
- Ek stem saam dat die redes wat ons nog al die jare aanvoer oor waarom daar so baie Suid-Afrikaanse bates in kliënte se portefeuljes is, of behoort te wees, al hoe moeiliker verdedigbaar raak in ’n omgewing waarin ons totale kapitaalmarkte slegs 1% van die wêreld s’n uitmaak (swak historiese prestasie behoort nie die hoofargument te wees nie).
. - Jy behoort wel vir die regte, rasionele redes wysigings aan jou portefeulje aan te bring en nie vir die verkeerde redes nie, naamlik gulsigheid (“die VSA mark gaan net aanhou styg”) of vrees (“Suid-Afrika is die volgende Zimbabwe”).
. - ’n Lukrake enigiets-is-beter-as-SA-benadering kan tot verdere kapitaalverliese lei, aangesien die hoof-vangnet vir ’n ondeursigtige batetoewysing (naamlik ’n oorgewig VSA-aandele) ’n herhaling van die verlore dekade van feitlik-nul-opbrengste uit buitelandse beleggings (2000-’10) tot gevolg kan hê.
Wat staan jou te doen?
Beleggings is sowel eenvoudig as ongelooflik moeilik.
As jy ’n konstante, weldeurdagte proses volg en die gejuig van die skare op pad na die toppunt van ’n bulmark kan ignoreer, gehaltebates teen ’n diskonto kan aanskaf en hou ten spyte daarvan dat jy nie onmiddellike sukses met jou proses behaal nie, behoort jy oor tyd welgesteld te raak.
Dit is ’n stadige en soms uitmergelende proses, maar een wat nog altyd gewerk het en ’n pad is wat ver om die afgrond verby loop.
Ek sal verbaas wees as dit hierdie keer werklik anders is.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.