Laat ’n finansiële beplanner na jou finansiële struktuur kyk – en wen
Deur Elmie de Jager
24/2/2024
My hart pyn letterlik elke keer as daar oor ’n skelm finansiële adviseur berig word.
In die kommentaar lees jy dan ook telkens wat mense sê: “Sien jy nou daar, hulle is almal ’n klomp skelms . . . dit is waarom ek my geldjies eerder veilig in die bank bêre.”
As ’n mens eerlik is met jouself, moet jy natuurlik erken hierdie benadering is ’n bietjie soos om te sê ‘alle vliegtuie val een of ander tyd uit die lug’ elke keer as jy van ’n lugvaart-tragedie hoor.
Dit is eenvoudig nie ’n regverdige stelling nie, maar aan die ander kant het ’n mens ook begrip hiervoor.
Die tragedie is egter dat hierdie wantroue in die bedryf as geheel jou duur te staan gaan kom omdat bekwame finansiële beplanners wesenlike waarde tot ’n familie se welvaart kan toevoeg.
Ek illustreer graag aan die hand van ’n werklike voorbeeld hoe effens ander denke oor jou finansiële sake, ’n wesenlike positiewe verskil kan maak.
In die gevallestudie gaan die betrokke kliënt ’n redelike boedel opbou indien hy nog 25 jaar leef. Ná ’n gesprek oor die voor- en nadele van ’n trust, het die kliënt teen ’n trust besluit.
Vir baie mense sou dit die einde van die gesprek gewees het en hulle sou eenvoudig voortgaan op die pad waarop hulle is. Daar is egter ’n alternatiewe roete. Weereens kan die kliënt die voor- en nadele opweeg en self daaroor besluit, maar die voordele is ooglopend, vernaam as jy nie gretig is om aan te hou om die staatskoffers vol te maak nie.
Die besonderhede is soos volg:
Die kliënt ontvang ’n lewenslange belasbare pensioen van R852 255 per jaar wat verval by sy afsterwe. Hy het ’n primêre woning van R4,2 miljoen en diskresionêre beleggings van ’n verdere R4,2 miljoen.
Sy inkomste ná belasting uit die pensioenfonds is tans genoeg dat hy sy lewenstyl kan handhaaf en die waarde van sy eiendom en beleggings kan dus met verloop van tyd aanhou groei.
Albei laasgenoemde bates vorm deel van sy boedel en sal onderhewig wees aan boedel- en kapitaalwinsbelasting by sy afsterwe.
As ons vir die doel van die oefening aanvaar hy behaal inflasie plus 5% groei op sy diskresionêre beleggings (in ooreenstemming met die langtermyn-opbrengste op gebalanseerde fondse) en inflasie plus 1%-opbrengs op sy eiendom, wys die grafiek hieronder hoe sy kapitaal-opbou gaan uitsien.
Die kliënt sal na verwagting uiteindelik ’n boedel van sowat R71 miljoen hê oor 25 jaar; sowat R18,6 miljoen in huidige geldwaarde.
As ons onsself aan wensdenkery skuldig maak en aanvaar die huidige R3,5 miljoen-vrystelling van boedelbelasting groei ook jaarliks met inflasie, gaan dit steeds beteken dat die kliënt se kinders ’n rapsie meer as R3 miljoen (in huidige geldwaarde) aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gaan moet betaal.
Deur jaarliks die maksimum belastingaftrekbare bydrae tot ’n annuïteit te maak uit sy diskresionêre geld, (die blou-gedeelte op die boonste grafiek) wen die kliënt nie net die inkomstebelastingaftrekking en val moontlik in ’n laer belastingskaal nie, maar die groei op daardie geld is ook voortaan vry van kapitaalwins- en inkomstebelasting én uitgesluit van boedelbelasting.
Net in die eerste jaar is die inkomstebelastingbesparing gelyk aan ongeveer R90 000 – en dit groei jaarliks. Ons aanbeveling aan hom sal waarskynlik wees om met die SAID se mahala eerder te gaan toer, maar vir dramatiese effek wil ek tog illustreer wat die implikasies vir die kliënt is indien hy hierdie belastingmeevaller terug deponeer in sy beleggings.
Wat hier bykom, is die donkeroranje gedeelte op die onderste grafiek (dit vervang die blou deel op die boonste grafiek gedeeltelik) en die ligte oranje gedeelte, wat sy belasting-“tjeks” terug van die SAID af illustreer.
Behalwe dat die kliënt met ’n totale boedel van R88 miljoen opeindig vergeleke met R71 miljoen, is slegs R27,2 miljoen daarvan onderhewig aan boedelbelasting in plaas van die volle R71 miljoen.
Die verskil net in boedelbelasting sal dus in die orde van R2,3 miljoen wees (in vandag se geldwaarde).
Indien die kliënt die belasting wat hy van die SAID teruggekry het wel gespaar het en nie aan vakansies bestee het nie, sou sy kinders ’n bykomende R16,8 miljoen (oftewel R4,4 miljoen in vandag se geldwaarde) erf.
Hou in gedagte dat dié struktuur ook wesenlike kapitaalwinsbelastingvoordele inhou, maar dit val buite die bestek van hierdie artikel.
Let op dat bostaande kliënt niks wesenlik aan sy lewe verander het nie, slegs sy finansiële struktuur, maar die uitkoms is gelykstaande aan die voordele van die geswoeg en ’n gesweet van ’n leeftyd.
Net om terug te kom na die “ek bêre eerder alles in die bank”-kommentaar.
Selfs al aanvaar ek ’n bruto enkelvoudige rentekoers van 9% in die “veilige” belegging, moet ’n mens in gedagte hou dat hierdie opbrengs 100% belasbaar is.
Indien die bostaande kliënt dus hierdie strategie sou volg, sou die bykomende rente hom in ’n hoër inkomstebelastingkerf laat beland en sy netto opbrengs uit die kontant- of geldmarkbelegging sal in die orde van 5,31% wees wat sy totale bates oor 25 jaar op R35,5 miljoen te staan bring in plaas van potensieel R88 miljoen.
R52,5 miljoen (of R13,7 miljoen in vandag se geldwaarde) is ’n baie duur prys om te betaal vir wantroue.
Ten slotte: Soos met enige finansiële besluit is daar ’n paar goed om in gedagte te hou voordat sodanige beplanning toegepas word. Die lengte van hierdie artikel laat ongelukkig nie toe dat alle permutasies, voordele en potensiële nadele uitgewys kan word nie.
Dit is belangrik dat u kundige advies kry voordat u enigiets aan u beplanning verander.
Elmie de Jager is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.