Maar ’n blik op die verlede gee wel iets om oor na te dink
Deur Andró Griessel
27/1/2024
Oudergewoonte kyk ek in my eerste artikel van die jaar terug na die jaar wat (in die finansiële markte) verby is, hoe die langtermynsyfers lyk en wat dit moontlik vir die toekoms beteken, natuurlik sonder om my lyf Siener van Rensburg te probeer hou, want ons weet almal hoe dít geëindig het.
2023 sal aangeteken word in die annale as ’n relatief goeie jaar vir opbrengste, baie soos ’n cowboy wat ongedeerd van ’n bul se rug afklim ná agt sekondes wat soos agt minute gevoel het.
Die gemiddelde opbrengs vir fondse in die Suid-Afrikaanse Multibestuur Hoë Aandele-kategorie was in die omgewing van 12,25%. Dit is inderdaad ’n baie bevredigende opbrengs, maar dit is nodig om te noem dat die totale opbrengs in twee maande gerealiseer het, naamlik Januarie en November.
Die res van die jaar was ’n gebokspring sonder enige voorwaartse momentum.
’n Oorgewig-posisie aan buitelandse aandele was dan ook die stroop wat oudergewoonte die beleggingspap ’n bietjie soeter laat smaak het.
Sien hiernaas die grafika en tabel met die spektrum van opbrengste vir 2023 en oor 20 jaar (alle opbrengste is reeds omgeskakel na rand).
Daaruit vloei ’n paar punte vir betragting:
- Die afgelope tien jaar was ’n baie moeilike tydperk vir beleggers in die aandele van ontluikende markte, en gewis ook so vir Suid-Afrika.
.
Dit verteenwoordig verreweg die kleinste marge waarmee aandele beter as kontant gevaar het oor al die tydperke onder oorsig.
.
Dit is verstaanbaar dat baie beleggers wat blootstelling aan ontluikende markte gehad het, vuisvoos is.
.
- Sien verder ontluikende markte se prestasie oor drie jaar, vyf jaar en tien jaar vergeleke met dié van buitelandse aandele (hoofsaaklik ontwikkelde lande, oorheers deur die VSA).
.
Hierdie tydperke van massiewe relatief swakker prestasie het gelei tot ’n situasie dat ontluikende markte tans op ’n 60 jaar laagtepunt is vergeleke met die Amerikaanse markte.
.
- Oor alle tydperke langer as drie jaar sou ’n kontant-belegging in Suid-Afrika beter randopbrengste gelewer het as ’n buitelandse kontantbelegging. Die idee dat ons dus met rasse skrede armer word omdat die rand met tussen 6% en 7% per jaar verswak, is dus eenvoudig nie korrek nie.
.
Inflasie en rentekoerse is wel iets om dop te hou.
.
Tot dusver is Suid-Afrika, vernaam vir ’n ontluikende mark, verbasend stabiel in hierdie opsig.
.
- Ons is geneig om aan plaaslike vs. buitelandse aandele te dink asof dit slegs twee verskillende bateklasse is.
.
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat daar ongeveer 80 effektebeurse in die wêreld is; met seker 25 waarin sinvol belê kan word.
.
Die JSE is die 19de grootste, terwyl ons ekonomie die 37ste grootste uit 177 lande in terme van bruto binnelandse produk (BBP) is.
.
Omstreeks Augustus 2023 het ons minder as 2% van die totale markkapitalisasie van hierdie markte uitgemaak. Tradisioneel is Suid-Afrikaners se blootstelling aan plaaslike beleggings egter noord van 50%.
.
Die New Yorkse aandelebeurs en die Nasdaq-beurs in die VSA beslaan meer as 42%.
.
Wanneer jy dus in ’n wêreldwye indeksgekoppelde fonds belê, moet jy baie gemaklik wees met ’n groot blootstelling aan Amerika en die Amerikaanse dollar. Die afgelope tien tot 15 jaar het hierdie toewysing wonderlike vrugte gedra.
.
Die vraag is of van hierdie vrugte besig is om hul “verkoopsdatum” te bereik. Anders gestel, jou posisionering ten opsigte van die dollar/VSA en die rand/SA sal na verwagting oor die volgende tien jaar bepalend wees van jou vergelykende opbrengste.
.
Om te aanvaar dat die onlangse geskiedenis hom net so gaan herhaal, sou na my mening ’n fout wees. Beleggers gaan moontlik verder as hierdie twee markte moet kyk.
.
- Verder tot die punt hier bo:
.
Die sogenaamde Manjifieke Sewe- wêreldaandele se markkapitalisasie is tans groter as dié van enige ander aandelebeurs (in totaal) as dié waarop hulle genoteer is.
.
Laat dít ’n bietjie insink.
.
Selfs die grootste bome groei nie tot in die hemel nie, maar beleggers in van hierdie maatskappye, teen huidige pryse, móét verwag dat hulle sal doen.
.
Hier is die sewe met hul huidige prys-verdienste-verhoudings (PV):
.- Apple (32)
- Microsoft (39)
- Alphabet (Google) (28)
- Meta (Facebook) (35)
- Nvidia (79)
- Amazon (81)
- Tesla (67)
- Ná goeie vertonings in 2020 en 2023 is goud as ’n belegging weer op baie mense se lippe. Hoewel die langtermyn-opbrengste (soos die tabel en grafika wys) skaflik is, moet beleggers in gedagte hou dat dit nie ’n stabiele belegging is nie.
.
Goud het in sewe van die afgelope 29 jaar (24%van die tyd) ’n negatiewe kalenderjaar-opbrengs opgelewer. Ek sien ook ’n kommentator skryf een van die voordele van goud is dat jy dit saam met jou op die vliegtuig kan vat as die spreekwoordelike pôpô die waaier tref.
.
Dit is weliswaar nie waar nie aangesien jy tans slegs 1 kg goud saam met jou mag neem voordat bykomende belastings ter sprake kom.
.
Die aanbeveling dat amateurbeleggers wat van goud hou eerder in goudmynmaatskappye belê, is na my mening ook nie ’n goeie een nie.
.
Goudmynmaatskappye maak, weens die sikliese aard van die bedryf, baie slegte “koop-en-hou”-beleggings terwyl die wisselvalligheid ekstreem is en dividendbetalings sporadies.
.
Mense wat hierdie waters invaar, beter hul vingers permanent op die verhandelingsknoppie hou.
.
- As ’n laaste punt: ’n Baie gewilde maar oorvereenvoudigde gedagtegang is dat ’n chaotiese politieke omgewing of ’n onbekwame regering noodwendig lei tot swak opbrengste op genoteerde aandele en derhalwe dat die omgekeerde, naamlik ’n stabiele omgewing en verantwoordelike regerende party, sal lei tot goeie opbrengste.
.
Turkye en Argentinië het die afgelope twee jaar deurgeloop onder hiperinflasie en wisselkoerse wat dramaties verswak het. In dollar (nie in hul eie geldeenhede nie) het hul aandelemarkte oor die twee jaar onderskeidelik 73% en 118% opgelewer teenoor “bastions van stabiliteit” soos goud se 9%, Australië se 5%, Kanada se -2,9% en Duitsland se -7%.
.
Onthou maar dat die beste geleenthede gewoonlik skuil waar niemand kyk nie.
.
Ter afsluiting: Hierdie is ’n verkiesingsjaar. Verwag ontstellende uitsprake en hoofopskrifte en hou in gedagte dat emosie nie jou vriend is by rasionele besluitneming nie. Kry die feite, kyk na werklikhede in plaas van drogbeelde en probeer om beredeneerde eerder as emosionele besluite oor jou beleggings te neem.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.