Krag van ‘een’ bult sy spiere

Uitwerking daarvan oor ’n lang tydperk is enorm

Deur Andró Griessel

25/11/2023

Een punt maak darem ’n groot verskil.

Dit het Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners opnuut besef in die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Ons sal waarskynlik nie vinnig weer die krag van een onderskat nie.

Een punt, een sekonde, een dag, een uur, een persoon of een stem kan almal die trajek van ’n spel, resies, ’n persoon se lewe of selfs dié van ’n hele land in ’n ander rigting stuur.

Op die oomblik wat dit gebeur, is almal terdeë bewus van hoe klein die verskil is en hoe naby ’n mens was aan ’n totaal ander uitkoms.

Wanneer ons met baie klein, inkrementele oorwinnings, afwykings of selfs agteruitgang oor baie lang tydperke (jare of selfs dekades) te doen het, is ons as mensdom geneig om aan die einde van so ’n tydperk na die resultaat te kyk en in verwondering te staar na die verskil tussen twee oënskynlik vergelykbare mense, entiteite, spanne, uitkomste, ensovoorts, en dan verdwaas te staan oor die gaping wat ontstaan het.

As ’n voorbeeld: Tete Dijana het vanjaar die Comrades-marathon in ’n rekordtyd van 5:13:48 gewen. ’n Skilpad (as hy haastig is) loop teen ’n gemiddelde spoed van ongeveer 0,5 km/h.

As die persoon wat 17de gekom het daarin kon slaag om sy pas met slegs twee keer die spoed waarteen ’n skilpad loop, te versnel, sou hy Dijana kon klop. Oor kort afstande is die verskil in 1 km/h bykans onsigbaar, maar oor lang afstande maak dit ’n massiewe verskil.

Beleggings of die opbou van passiewe welvaart werk geensins anders nie.

Ná 20 jaar van werk met hierdie onderwerp bly ek steeds verstom oor mense se ongeërgdheid oor die implikasie van hierdie beginsel.

Net soos met die meeste dinge in die lewe maak klein, inkrementele verskille in beleggingsopbrengs ’n astronomiese verskil oor die langtermyn.

Sien hierby ’n praktiese voorbeeld van die belangrikheid van jou belegging se inkrementele beter prestasie vergeleke met ander oor ’n lang tydperk.

In die tabel Interne opbrengskoers, let op die verskille in opbrengskoerse tussen A, B en C.
.

Die verskille lyk beswaarlik astronomies, tog het A ná so “min” soos byna 17 jaar meer as dubbeld opgelewer wat C sou oplewer, en 36% meer as B.

Die opbrengs van die belegging (verteenwoordig deur die rooi lyn op die grafiek) was netto (ná alle koste en gelde) ’n aks minder as VPI + 6% oor die bykans 17 jaar.
.

As jou adviseur 17 jaar gelede vir jou gesê het jou beleggings behoort oor die langtermyn inflasie met 6% te klop ná koste, sou jy waarskynlik baie tevrede die aansoekvorm voltooi het.

Soos altyd is die werklikheid veel grilleriger en moeiliker as die teorie.

Sien die spesifieke belegger (in rooi) se ervaring oor die 17 jaar op die meegaande tabel, Jaar-tot-jaar-opbrengs. Ek toon slegs volkalenderjaarsyfers.
.

Uit bogenoemde kan ons die volgende aflei:

  • Die gemiddelde opbrengs per jaar oor die eerste vier jaar was -0,78% terwyl die teiken van inflasie + 6% reeds op 12,29% per jaar gestaan het.
    .
    Sou jy nog die koers kon hou?
    .
    Waarskynlik nie.
    .
    In die daaropvolgende vyf jaar was die gemiddelde opbrengs 19,15% per jaar terwyl die inflasie + 6%-teiken 11,27% per jaar oor dieselfde termyn was.
    .
  • In vier uit die 17 jaar (byna 25% van die tyd) sou jy met negatiewe opbrengste gekonfronteer word – met die grootste daling van 13,97% in 2008.
    .
    Dit is gewoonlik in hierdie jare dat kliënte sê “ek moes eerder my geld in die bank gesit het”.
    .
  • Jy sou in ses van die 17 jaar (meer as ’n derde van die tyd) swakker gevaar het as wat jy sou verdien (voor belasting) uit ’n geldmarkrekening.
    .
  • Terwyl die langtermynopbrengs ’n skaflike 11% was, was die variasie in opbrengste in die belegging soveel soos 43,09% (van -13,97 tot +29,12%).
    .
    Is daar iets hieruit te leer vir jou as belegger of vir ons wat mense moet probeer help om koers te hou?
    .
  • Alle langtermynprojeksies benodig ’n gemiddelde groei-aanname, maar die gebruik van ’n langtermyn- gemiddelde statiese maatstaf soos VPI + 6% om die prestasie jaar tot jaar teen te meet, kan baie nadelig wees vir die psige van die belegger, sowel as vir sy/haar raadgewer.
    .
    Ons wil almal die beleggingsweergawe van die Dooie See-marathon (die platste marathon op aarde) hê, maar helaas is die beleggingsmarathon vol bulte, maar gelukkig ook afdraandes.
    .
  • Slegs korttermyn-geldmarkbeleggings (en Ponzi-skemas voordat hulle opblaas) gee egalige opbrengste sonder dalings. Hoe groter die marge is waarmee jy probeer om inflasie te klop, hoe groter kan jy verwag gaan die “variasie” in jaar-tot-jaar-opbrengste wees.
    .
    Die beloning om hierdie ongemak te aanvaar behoort egter ooglopend te wees wanneer A (langtermynbelegging) en C (geldmark) vergelyk word.
    .
  • Hoe jy begin, is nie hoe jy eindig nie. As jy ongelukkig was om byvoorbeeld aan die begin van 2008 of 2022 te begin belê, het jy jou vuurdoop waarskynlik vroeg gehad, maar dit behoort jou nie van stryk te bring nie.
    .
  • Verstaan wat jou werklike opbrengs is en meet dit op korttermyn teen sinvolle maatstawwe.
    .
    ’n Inflasiegekoppelde opbrengskoers (soos inflasie + 6%) is ongelukkig nie ’n sinvolle korttermynmaatstaf nie.
    .
    Somtyds is -5% ’n goeie opbrengs en somtyds is +15% ’n slegte opbrengs, uit ’n relatiewe oogpunt.
    .
  • Wanneer jy van ’n adviseur gebruik maak of oorweeg om van een gebruik te maak, spandeer soveel tyd moontlik aan die begin van die proses om a) ooreen te kom wat ’n billike maatstaf op ’n jaar-tot-jaar-grondslag is, sowel as b) wat jou langtermyn-(tien jaar plus) inflasie-aangepaste opbrengsverwagting is.
    .
    Jou portefeulje moet dan in ooreenstemming met hierdie riglyne bestuur word.
    .

Ten slotte

Onthou maar altyd dat sukses in beleggings net soos sukses in die meeste aspekte van die lewe werk – om jou langtermyndoelwitte te bereik gaan jy bereid moet wees om van tyd tot tyd pyn te verduur (in hierdie geval sielkundig).

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X