Aan hoe bal spring kan jy niks doen, maar beheer wat jy kan
Deur Cassie Carstens
28/10/2023
Dit sal amper onvanpas wees om nie in hierdie skrywe te verwys na die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi nie.
Daar lê wonderlike lesse opgesluit in sport en die Springbokke se pad na die eindstryd wemel van sulke voorbeelde.
Rugby word gespeel met ’n ovaalvormige bal en Jacques Nienaber, die Springbok-afrigter, en sy span sou beswaarlik ’n spelplan beraam op grond van hoe so ’n bal spring.
As net nog ’n rusbank-afrigter dink ek hul sukses lê daarin om ’n plan te beraam op grond van dit wat binne hul beheer is en te gaan krap en soek na dit wat die opposisie nie kan (of wil) sien in ’n spelpatroon nie.
Een afdeling van finansiële beplanning wat baie min aandag geniet, is die ontleding van sake-eienaars se ongenoteerde belange en meer spesifiek, die implikasie indien ’n spreekwoordelike ovaal bal vir hulle verkeerd spring.
Die afsterwe of ongeskiktheid van ’n vennoot wat aandele hou in ’n ongenoteerde onderneming kan meer pyn veroorsaak as ’n Owen Farrell-hoogvat indien die struktuur daarvan verkeerd opgestel is.
Soveel probleme kan opgelos word deur net te krap en te soek na dele van die finansiële ontleding wat dalk nie ooglopend is, maar wat ernstige implikasies inhou. Dit is ’n proses wat jy kan beheer.
In watter entiteit word jou aandele gehou?
Dit kan ’n mengsel van administratiewe luiheid of onkunde wees, maar te veel sake-eienaars hou steeds hul aandele in hul persoonlike naam. Indien jy sterf, word die waarde van jou aandele ingesluit in jou boedel. Boedelbelasting, asook belasting op kapitaalwins wat gerealiseer word, is outomaties betaalbaar by dood.
Die tweede probleem is dat, in die afwesigheid van ’n geldige koop/verkoop-ooreenkoms, word jou mede-aandeelhouer(s) se belang in die onderneming by afsterwe aan sy of haar eggenoot of kinders bemaak.
Hoewel dit nie noodwendig boedel- of kapitaalwinsbelastingimplikasies vir die gade inhou nie, hou dit ’n legio ander potensiële nadele in vir sowel die gade as die oorblywende aandeelhouers.
Ons kom min ondernemings teë met veelvuldige aandeelhouers waar die oorblywende aandeelhouers die afgestorwe vennoot se gade of kinders met ope arms ontvang. Is jy gemaklik met ’n erfgenaam as sakevennoot?
Die moontlikheid van ’n erfgenaam as slapende vennoot is vol slaggate. Die vennoot moet bly bou aan ’n onderneming, maar die erfgenaam kom staan twee keer per jaar bakhand vir ’n dividend.
Die risiko vir die erfgenaam is dat die vennoot die onderneming in die grond in bestuur of erger, eenvoudig die onderneming sluit en ’n nuwe, soortgelyke een oopmaak en sodoende die waarde van die erflating vernietig.
’n Koop/verkoop-ooreenkoms is noodsaaklik om hierdie potensiële probleem op te los.
Die ooreenkoms moet alle bepalings uitstippel oor die uitkoop van die aandele by afsterwe of ongeskiktheid. Die meeste aandeelhouersooreenkomste sluit ’n klousule in vir verpligte verkoop. Baie sake-eienaars maak egter die fout om te dink dat dit voldoende beskerming bied. In die afwesigheid van voldoende finansiering kan die afgestorwe vennoot se familie nie uitgekoop word nie en kan dit baie groot kontantvloeidruk op die oorblywende aandeelhouers plaas.
Daar is gewoonlik ’n klousule wat bepaal dat as die oorblywende aandeelhouers nie die aandele wil of kan koop nie, dit aan ’n derde party aangebied kan word.
Hierdie roete het egter ’n lae waarskynlikheid vir ’n goeie uitkoms vir die familie van die afgestorwe vennoot.
Die aandeelhouersooreenkoms is normaalweg relatief vaag oor die besonderhede van die verpligte uitkoop van ’n vennoot.
Sonder ’n koop/verkoop-ooreenkoms is daar gewoonlik nie deeglike riglyne vir onder meer die bepaling van die waarde van die aandele, die gebeurtenis wat aanleiding kan gee tot ’n verpligte verkoop van aandele en die tydperk vir die koop van die aandele nie.
Waar daar wel ’n koop/verkoop- ooreenkoms is, is dit van kardinale belang om seker te maak dat die Memorandum van Inkorporasie of Aandeelhouersooreenkoms nie teenstrydig met die koop/verkoop-ooreenkoms is nie.
Hoe word aandele oorgekoop?
Die eenvoudigste manier is om versekering uit te neem deur middel van ’n koop/verkoop-polis wat sal uitbetaal in die geval van afsterwe of permanente beroepsongeskiktheid.
Versekering is slegs die antwoord waar die maatskappy nie oor die nodige kontantvloei beskik om die aandele oor ’n aanvaarbare tydperk uit te koop nie.
Waar ondernemings talle kleiner aandeelhouers het en gemaklik die aandeel kan uitkoop, is versekering uiteraard oorbodig, maar dit is belangrik dat daar steeds ’n ooreenkoms is.
In ’n onlangse geval wat ons teëgekom het, het twee vennote (met belange van onderskeidelik 51% en 49%) in ’n maatskappy wat op R80 miljoen gewaardeer is, nie ’n verpligte koop/verkoop- ooreenkoms met dood of ongeskiktheid gehad nie.
Die koste van koop/verkoopversekering om ’n verpligte verkoop te fasiliteer, is sowat R500 000 per jaar. Dit is ’n bitter pil om te sluk en sal dikwels daartoe lei dat die onderwerp vir ewig op die te-doen-lysie bly.
As jy Nienaber en sy span se aanslag wil gebruik, moet jy uit die boks dink hieroor. Deur die bestuurstate van nader te bekyk, kon ons uitpluis dat hulle die afgelope jaar sowat R1 miljoen te veel aan valutahandel-kommissie betaal het en ’n verdere R500 000 prysgegee het deur die suboptimale aanwending van kontantreserwes.
Ons kon dus die koop/verkoop-versekering regverdig en ’n potensiële ramp afweer, terwyl groter wins in die proses gegenereer word.
Wat is die waarde van die aandele?
Ons vind met die meeste ontledings dat ’n valuasie-beleid oor hoe die aandele se prys bereken moet word, ontbreek in ongenoteerde ondernemings.
Dit maak die deur oop vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se eie berekening en interpretasie van die billike waarde, asook ’n stryery tussen die oorlewende vennoot en die erfgename daaroor.
Dit streel dalk die ego om te sê jou onderneming is multimiljoene rande werd, maar maak seker dit kan rekenkundig gestaaf word en dat ’n ondertekende waardasie waaroor al die aandeelhouers saamstem, opgestel is. Sake-eienaars het baie hooi op hul vurk en dit is amper onmoontlik om te verwag dat hulle die tyd of kennis moet hê om hierdie probleme die hoof te bied.
Soos met die eindstryd, kan niks gedoen word aan ’n foutiewe strategie nadat die eindfluitjie geblaas het nie.
Maak seker die korrekte finansiële plan vir jou onderneming word in werking gestel terwyl daar nog speeltyd is.
Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.