Die paradoks van keuse

Die paradoks van keuse

Pasop om meer in die buiteland te belê net omdat jy kan

Deur Andró Griessel

30/9/2023

Vroeg in 2022 is die toegelate persentasie wat pensioenfondse en uittreeannuïteite oorsee mag belê, van 30% tot 45% verhoog.

Dié verandering aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet is deur die meeste mense in die aftreebedryf verwelkom, maar gaan dit noodwendig tot beter uitkomstes vir beleggers lei?

Ek sal nou-nou daardie vraag probeer beantwoord, maar wat ek wel weet, is dat dit tot groter variasie in uitkomstes gaan lei tussen die prestasie van jou tipiese gebalanseerde fonds, die kategorie waaraan die meeste beleggers blootstelling het.

Die rede waarom die verhoging in die buitelandse toewysing wyd verwelkom is, het waarskynlik te doen met die feit dat die beperking op buitelandse blootstelling dit vir bestuurders feitlik onmoontlik gemaak het om inflasie met meer as vier persentasiepunte te klop (veral ná prestasie- en administrasiegelde) oor die afgelope tien jaar.

Behalwe hulpbronne en internasionale aandele (spesifiek van Amerika) het die meeste ander bateklasse maar beroerd gevaar en het gebalanseerde fondse die wind van voor gehad.

Lei ’n groter keuse van batetoewysing egter tot beter uitkomstes vir kliënte?

Intuïtief voel dit asof dit so moet wees, want ’n mens kan belê waar jy wil, waarin jy wil. ’n Bekwame fondsbestuurder behoort dus sy seile na die wind te kan span om seker te maak jy kry die beste moontlike uitkomste.

As ek egter na die syfers kyk, lyk dit asof dit ’n situasie is van makliker gesê as gedaan.

Die fondskategorie wat sekerlik die grootste vryheid aan die fondsbestuurder verskaf om portefeuljes sonder beperkings saam te stel, is die wêreldwye multibate-buigsame kategorie, volgens die klassifikasie van die Vereniging vir Spaar en Beleggings.

Fondse in dié kategorie het geen beperkings op geografiese blootstelling of batetoewysing nie en kan teoreties wissel van 100% in Suid-Afrikaanse kontant tot 100% in buitelandse aandele, en enigiets tussenin. Vir konteks: Oor die afgelope tien jaar het die JSE Capped Swix ’n skamele 6,89%-groei per jaar opgelewer, terwyl die MSCI wêreldindeks 16,01% behaal het.

In die lig van dié syfers sou ’n mens dus dink dat ’n fondsbestuurder met ’n totale vrye mandaat wesenlik nader aan 16% sou moes behaal het as aan 7%.

Die gemiddelde opbrengs van die 27 fondse in dié kategorie met ’n prestasiegeskiedenis van tien jaar of langer was egter slegs 8,9% per jaar!

Kontrasteer dit met die gemiddelde prestasie van bestuurders wat deur regulasie 28 verplig is om meer in Suid-Afrika te belê.

Dit is interessante leesstof.

In die Suid-Afrikaanse multibate-buigsame kategorie het die gemiddelde fondsbestuurder 7,2% per jaar opgelewer en in die Suid-Afrikaanse multibate-hoë-aandele-kategorie 7,42%, albei beter as wat ’n 100%-toewysing  aan ’n geweegde gemiddelde van Suid-Afrikaanse aandele sou behaal.

Hoewel steeds power in nominale terme, wil ek my verstout om te sê dat bestuurders wat ’n beperking gehad het op hul vermoë om buitelands toe te wys, uit ’n relatiewe oogpunt aansienlik beter gevaar het as dié wat vrye teuels gehad het.

As ek moes raai, sou ek ’n “tuis-vooroordeel” die skuld gee vir die relatiewe onderprestasie van die wêreldwye multibate-buigsame kategorie.

Met ander woorde, al kón hierdie bestuurders 100% aan buitelandse bates toewys, het hulle waarskynlik steeds ’n groot gedeelte in Suid-Afrika belê.

Dié aanname word moontlik gestaaf deur die feit dat die gemiddelde fonds in die kategorie globale multibate- buigsame kategorie (waar ’n minimum van 80% te alle tye buitelands belê moet word) ongeveer een persentasiepunt per jaar beter gevaar het as sy “wêreldwye” boetie, waar jy nie die gedwonge 80% buitelandse blootstelling moes hê nie.

Wat het fondsbestuurders gedoen met hul nuutgevonde vryheid sedert vroeg 2022?

Sommige bestuuders het vandag dubbeld die buitelandse blootstelling wat hulle gehad het terwyl ander weer, om welke rede ook al, bykans hul totale blootstelling verwyder het.

Oor die algemeen het bestuurders wel hul buitelandse blootstelling wesenlik vergroot. As voorbeeld, sien op die bygaande grafiek hoe die Allan Gray- gebalanseerde fonds (die grootste gebalanseerde fonds in Suid-Afrika) se toewysing oor dié tydperk verander het.

 

Dit in ag genome, en met wat die syfers uit die globale en wêreldwye multibate-fondse vir die laaste tien jaar suggereer, wil ek die volgende paar waarnemings maak.

 

  • Die variasie in opbrengste tussen gebalanseerde fondse sal na verwagting voortaan vergroot bloot as gevolg van die wyd verspreide sienings wat hier ingeneem word.
    .
    .
    Net in die laaste jaar was die verskil in die bes presterende fonds in die kategorie en die swak presterende fonds bykans 26%.
    .
    .
  • Buitelandse bates is ’n baie growwe benaming vir ’n verskeidenheid instrumente wat ingesluit kan word en die keuse van watter soort buitelandse blootstelling ingesluit word, gaan bogenoemde variasie waarskynlik verder vergroot.
    .
    .
  • As ek in ag neem dat die totale vryheid die afgelope dekade om buitelands toe te wys, met buitelandse aandele wat gemaklik beter gevaar het as ander bateklasse, slegs tot ’n marginaal beter uitprestering vir fondse gelei het, is ek skepties oor of die groter potensiële buitelandse blootstelling, op dié spesifieke tydstip, tot ’n beter uitkoms vir die eindbelegger gaan lei as wat die ou Regulasie 28-bepalings sou doen.
    .
    .
  • Beleggers wat ’n kombinasie van multibate-gebalanseerde fondse en ander beleggings gebruik, moet ag slaan op die feit dat hul buitelandse blootstelling moontlik in die afgelope twee jaar wesenlik groter geraak het by verstek.
    .
    .

Wat is die relevansie hiervan?  Wel, proses dikteer uitkoms. In ’n volgende rubriek sal ek net weer die massiewe impak van klein persentasie verskille in opbrengs oor lang tydperke illustreer.

Indien ’n fondsbestuurder bloot buitelands belê omdat dit gewild en beskikbaar is, mag dit tot kleiner opbrengste lei oor lang tydperke, wat ’n wesenlike impak kan hê op my en jou as belegger wat in daardie fonds belê.

Maak dus seker die groter toewysing is deel van ’n weldeurdagte en feit-gefundeerde proses.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X