Is kontant weer koning?

Sien die groter prentjie met jou beleggingstrategie

Deur Samuel Rossouw

2/9/2023

Ek word gereeld herinner oor die volgende: In die goeie ou dae het die Springbokke nog hardlooprugby gespeel, was brandstof goedkoop en kon ’n mens goeie rente op jou geldmarkbeleggings verdien.

In die lig van die huidige hoër rentekoerse en die onlangse wisselvalligheid in aandelemarkte, sal jy vergewe word as jy dink ’n sinvolle strategie is om nóú jou geld vas te maak in ’n vyf-jaar-vaste deposito.

Maar tensy jy presies weet hoe die wêreld oor tien jaar gaan lyk, moet jy liefs die volgende in gedagte hou.

In Februarie 2000 het die Suid-Afrikaanse Reserwebank ’n inflasieteikenband van 3% tot 6% begin gebruik om ekonomiese en finansiële stabiliteit te bestuur.

Hierdie beleid het onder meer daartoe gelei dat daar ’n baie nouer verband ontstaan het tussen rentekoerse en inflasie. Gevolglik het rentekoerse wesenlik begin daal en die moontlikheid dat ons weer rentekoerse van om en by 15% gaan sien, is hoogs onwaarskynlik.

Dit is alombekend dat aandelebeleggings heelwat beter vaar as geldmarkbeleggings oor die medium- en lang termyn.

Langtermyndata wys oor bykans alle metingstydperke kraai kontant nié koning nie. Dit is egter interessant om te let dat daar so te sê geen korrelasie tussen rentekoers-siklusse en aandelebeleggings is nie.
.

Sien die meegaande grafiek.
.

As jy op die hoogtepunt van die rentekoers-siklus in September 2002 jou geld vir vyf jaar vasgemaak het teen ’n koers gelykstaande aan 2 persentasiepunte minder as die prima uitleenkoers, sou jy wesenlik swakker gevaar het as ’n belegging in die plaaslike aandelemark oor dieselfde tydperk (15% per jaar teenoor 28,19% per jaar).

As jy op 18 Maart 2016 (op die rentekoershoogtepunt) jou geld vir die daaropvolgende vyf jaar aan bateklasse sou toewys, sou ’n belegging in plaaslike aandele 7,96% per jaar opgelewer het teenoor ’n opbrengs van 8,50% per jaar op ’n vaste deposito (2 persentasiepunte onder prima).

’n Mens kan dus aflei dat jy kon wen óf verloor deur jou geld vir vyf jaar vas te maak, maar hoe gemaak hierna, as die vyf jaar verby is en jy jou beleggingstrategie moet hersien?

In die voorbeeld hierbo het die prima uitleenkoers op 13 September 2007 op 13,50% gestaan, 3,50 persentasiepunte laer as vyf jaar vroeër. Met die vorige ondervinding as beginpunt sou die belegger dan eerder sy geld aan ’n aandele-tipe belegging wou toewys (wat die voorafgaande vyf jaar beter gevaar het).

Die aandelemark het egter oor die volgende vyf jaar (13 September 2007 tot 13 September 2012) met slegs 7,64% per jaar gegroei en hier sou ’n vaste deposito (prima uitleenkoers minus twee persentasiepunte) weer beter gevaar het. Sien die meegaande grafiek oor die moontlike uitkomste vir die belegger.
.

’n Soortgelyke situasie sou hom in 2016 afgespeel het. As ’n belegger sy koers kon vasmaak teen 8,50% (18 Maart 2016) sou hy in die daaropvolgende vyf jaar beter gevaar het as die 7,96%-per-jaar-opbrengs op die aandelemark. As hy in 2021 die proses hersien het, sou hy moes besluit of hy wil vasmaak teen 5%. Van 18 Maart 2021 tot 15 Augustus 2023 het die JSE egter met 14,44% per jaar gegroei.

Let hierop:

  • Rentekoers-siklusse verteenwoordig ook ’n mate van wisselvalligheid. Om jou strategie elke vyf jaar te verander en rentekoerse en die beweging op die aandelemark te probeer voorspel, is ’n baie gevaarlike strategie aangesien jy die “uitskieter” goeie jare in aandelemarkte heeltemal kan misloop.
    .
    .
    ’n Gebalanseerde portefeulje probeer die raaiwerk oor watter bateklas om te kies uitskakel en bestaan uit ’n kombinasie van aandele en kontant.
    .
    .
  • Wanneer markte daal, kan kontant in die fonds gebruik word om aandele teen ’n diskonto te koop.
    .
    .
  • Wanneer aandelemarkte gestyg het, kan wins gerealiseer en in kontant geparkeer word.
    .
    .
  • Wanneer rentekoerse hoog is, kan die blootstelling aan kontant verhoog word en die omgekeerde kan gedoen word in ’n lae rentekoers omgewing.
    .
    .

Die uitwerking van belasting op geldmark-instrumente en vaste deposito’s word na my mening dikwels onderskat. Buiten dat rente-inkomste 100% belasbaar is, verhoog dit ook die gemiddelde belastingkoers op die res van jou beleggingsportefeulje of salaris.

In ’n effektetrustfonds is die rente-komponent wel ook belasbaar, maar die kapitaalwinskomponent (wat teen ’n heelwat matiger koers belas word) se belasting is net van toepassing as jy 100% uit die fonds verkoop.

In die voorbeeld hierbo: indien die belegger 100% sou toewys aan ’n vaste deposito op 13 September 2002, sou sy nabelaste opbrengs ná tien jaar 8,61% per jaar beloop het (13,25% voor belasting), terwyl ’n aandele-belegging (indien dit 100% gelikwideer word) ná belasting 15,37% per jaar gegenereer het (17,92% voor belasting).

Die uitwerking van belasting het dus die opbrengsgaping (aandele bo kontant) met amper 123% vergroot! (Ons veronderstel ’n 35%- marginale belastingkoers en ’n 3%-dividendkoers.)

Daar is geen strategie wat 100% perfek is nie, maar dit sal jou baat om te verstaan waarom ’n spesifieke strategie met jou geld gevolg word.

Samuel Rossouw is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X