“Hoop vir die beste” is nie ’n beleggingstrategie nie
Deur Elmie de Jager
1/7/2023
Geen vlieënier (in elk geval geen lewende een nie) het al ooit ’n lang en moeilike vlug aangepak deur net in te klim sonder enige plan nie.
Hy stel eers vas hoe ver hy moet vlieg, hoeveel brandstof hy benodig, hoe die weer lyk en toets dan ’n hele rits goed voordat hy opstyg.
Dit bly vir ons verstommend hoe baie mense in die praktyk egter hulle welvaartskeppingsproses of aftreebeplanning totaal anders benader. Hulle klim eenvoudig in, soos ’n passasier, en hoop vir die beste.
Jy kan dit doen, maar dan moet jy 100% vertroue in jou vlieënier hê.
Indien jy self vlieg is dit natuurlik ook belangrik dat jy vliegopleiding moes gehad het…
Hoe jy ook al die “vlug” benader, maak seker dat jy hierdie paar algemene foute, wat ons in die praktyk sien, te vermy.
Lees jou “instrumente”
Net so absurd dit is om nie te weet wat die posisie en toestand van jou vliegtuig is nie, net so absurd is dit dat iemand nie weet wat die opbrengs op sy beleggings was vergeleke met die toestande waaronder dit behaal is nie.
Die interne opbrengskoers (internal rate of return, IRR) is ’n belangrike instrument in die beleggingswêreld en is ’n goeie aanduider van relatiewe prestasie, insluitend die impak wat jou eie gedrag ten opsigte van vrees en inhaligheid op jou beleggingsoptrede het.
Ons sien twee plekke waar kliënte se oë nie op hierdie belangrike instrument is nie:
Regstreekse aandeleportefeuljes:
Persoonlike aandele-portefeuljes, behalwe as dit op ’n LISP- administratiewe platform gehuisves word, kom sonder IRR-berekeninge. Kliënte het dus nie ’n idee hoe dit vaar en hoe dit byvoorbeeld met ’n mededingende strategie (soos ’n aandele-effektetrust) oor ’n tydperk vergelyk nie.
Dis erg nalatig om nie hierdie instrument na te gaan nie, want ’n paar persentasiepunte laer (soos ’n paar grade van koers af) kan katastrofiese gevolge hê.
Stel dit vandag nog reg deur jou IRR-berekening by jou aandelemakelaar of finansiële adviseur aan te vra en vergelyk dit dan met ’n sinvolle maatstaf (soos die JSE indeks van alle aandele se totale opbrengs vir plaaslike aandele of die MSCI-wêreldindeks se totale opbrengs vir buitelandse aandele).
Benewens die relatiewe-prestasie-vergelyking moet jy ook na ’n absolute groei-teiken (soos inflasie + 5%) kyk en bepaal of dit in pas is met die opbrengs wat jy nodig het om by jou finansiële bestemming uit te kom.
Versekeringsgegronde beleggings/ kontraktuele beleggingsplanne:
Nog meer so as met regstreekse aandele-portefeuljes het ek nog nooit teëgekom dat ’n poliseienaar weet wat sy/haar groei (ná gelde) of IRR op hul bestaande versekerings-produkte/polis is nie.
Weer eens is die berekening van die IRR van kardinale belang om jou vordering sinvol te meet. Die uitkoms van so ’n oefening kan ontnugterend wees.
Om niks te doen nie weens moontlike boetes wat gehef gaan word, is soos om te besef jy is besig om te daal en dat jy die grond gaan tref, maar nie die vliegtuig se neus wil optrek nie omdat jy bang is die enjin stol dalk.
Die menslike brein hanteer nie klein syfers oor lang tydperke baie goed nie. Ons onderskat van nature die uitwerking daarvan.
Om daarmee te help en te probeer beklemtoon waarom jou IRR so belangrik is, sien hiernaas die tabel wat die impak wys van verskillende netto opbrengste oor ’n lang tydperk.
Sien ook die grafika oor die impak van die langtermyngroei op die opbrengs van drie multibate- (hoë aandele) fondse op ’n belegging van R100 000 20 jaar gelede.
Wat van belasting?
Mense se denke, of gebrek daaraan, oor belasting is ’n ander aspek wat ons in die praktyk sien mense pootjie.
Ons is geneig om die impak van onmiddellike belasting, soos kapitaalwinsbelasting (KWB), te oorskat en die impak van uitgestelde belasting (soos KWB by dood, asook boedelbelasting) te onderskat.
Onthou, soos met enige wedstryd is die punte wat tel nie die punte wat jy in die eerste kwart of helfte of selfs driekwart van die spel bymekaar maak nie, maar wat op die telbord staan as die eindfluitjie blaas.
Swak beplanning ten opsigte van die strukturering van jou finansiële sake veroorsaak dat die telkaart vir baie heeltemal verander wanneer die eindfluitjie blaas.
Sien hiernaas aan die hand van ’n werklike voorbeeld wat onlangs deur NinetyOne bekyk is in een van sy meesterklasse.
Die persoon het ’n buitelandse aandele-portefeulje gehad met meer as 70% daarvan genoteer in die VSA. By sy afsterwe (1) was daar ten spyte van KWB-oorrol-verligting tussen gades steeds situs-belasting (met ander woorde belasting in die jurisdiksie waar die bates gehou is) betaalbaar voordat die balans na sy vrou kon oorgaan.
By haar afsterwe later (2) was daar weer situs-belasting betaalbaar, en toe ook KWB sowel as boedelbelasting.
As die KWB vroeër geneem is en die boedel beter gestruktureer is, kon die persoon ’n wesenlik beter netto uitkoms vir sy familie bewerkstellig het.
Dit is algemeen dat kliënte geen verandering aan hul bestaande beplanning wil maak nie as gevolg van die KWB-brander wat wag. Maar hierdeur kan jy veroorsaak dat jou portefeulje baie gekonsentreerd bly en derhalwe meer riskant aan die een kant is terwyl jy aan die ander kant groot belastings verder af in die pad kan bespaar deur nou ’n bietjie te betaal.
As ek raad kan gee: As jy beleggingsbesluite wil neem, begin met ’n skoon bladsy en vra jouself (of ’n kenner) af of jy jou beleggingsplan vandag op dieselfde manier aanmekaar sou sit. Indien die antwoord nee is, is daar ’n goeie kans dat jou plan wysigings nodig het.
En maak seker jy weet of jy nog op koers is wat jou opbrengskoers aanbetref.
Elmie de Jager is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.