Is die rand op pad na R30/$?

Ekstreme bewegings skep geleenthede – en gevare

Deur Andró Griessel

3/6/2023

Met die skryf hiervan verhandel die rand teen sowat R19,70 teenoor die Amerikaanse dollar en die oordrewe voorspellings dat die rand op pad is na R25 of selfs R30 teenoor die dollar begin weer die lig sien… Net soos met die vorige 12 geleenthede die afgelope 28 jaar, voel dit asof ’n mens iets moet doen om jou welvaart teen hierdie “aanslag” te beskerm.

Ek het dit dus goedgedink om ’n artikel wat ek in September 2018 hieroor geskryf het te gaan afstof en by te werk. Dit verskaf ’n blik op die verlede waaruit ’n mens hopelik iets kan leer.

Die meegaande tabel wys al die kere dat die rand binne ’n jaar met meer as 20% teenoor die dollar verswak het.

Terloops, wanneer ek praat van die rand wat met 20% verswak teenoor die dollar, bedoel ek eintlik dat die dollar met 20% teenoor die rand versterk het. Dit klink na dieselfde ding, maar dit is nie. As die rand met 100% sou verswak teenoor die dollar, sou dit beteken dit is niks werd nie. Wanneer die dollar met 100% versterk teenoor die rand (soos wel in 2000-’01 gebeur het) beteken dit slegs dat jy dubbeld soveel rande moet betaal om ’n dollar te koop of dat die rand se waarde gehalveer het teenoor die dollar. Vergewe my dus asseblief wanneer ek verkeerdelik na rand-verswakking verwys, maar dit is die algemene spreektaal, so ek bly daarby.

 

 

’n Paar goed wat vir my uitstaan in die meegaande tabel en ander navorsing hieroor is die volgende:

  • Die afgelope 28 jaar het die rand al 12 keer met meer as 20% verswak teenoor die dollar in minder as 12 maande. In 11 uit 12 van hierdie gevalle het die verswakking altesame 30% oorskry.Dit is ekstreme bewegings en skep sowel geleenthede as gevare ten opsigte van jou besluitneming oor hierdie infleksiepunte.

    Die huidige siklus van verswakking duur reeds 14 maande en daar is geen sekerheid dat R19,81 die swakste vlak is wat ons gaan sien nie.

    Tot dusver is hierdie tydperk van verswakking die vyfde grootste van die 12.

 

  • Ten spyte van bogenoemde sporadiese ineenstortings van die rand, was die gemiddelde verswakking van die rand teenoor die drie hoofgeldeenhede onderskeidelik slegs 5,09% per jaar ($), 4,70% per jaar (€) en 3,79% per jaar (£) sedert 1 Januarie 1999. Hierdie begindatum is gekies omdat die euro toe begin verhandel het.

 

  • Hierdie depresiasie het nie in ’n reguit lyn gekom nie en “stoute” markkommentators kan ongelukkig na albei kante toe begin en einddatums kies om hul punt te staaf.As ’n voorbeeld: As ek die punt probeer maak dat die rand baie min verswak, kan ek 24 Desember 2001 of 21 Januarie 2016 of selfs 24 April 2020 as vertrekpunt gebruik.

    Die “langtermyn”-verswakking van die rand teenoor die dollar sedert hierdie datums tot op hede was dan onderskeidelik ’n skamele 1,75%, 2,18% of 0,97% per jaar. Die omgekeerde punt kan natuurlik net so maklik gemaak word deur ander datums te kies.

 

  • Die mees ekstreme devaluasie van die rand teenoor die dollar het plaasgevind omstreeks die einde van 2001. Sommige mense het op hierdie punt ’n siening ingeneem dat die rand in permanente vryval is en het geld in die buiteland belê teen R13,54/$.In 2018 het ek genoem dat die rand moontlik weer onder daardie vlakke kan verhandel en dit het toe wraggies weer in Januarie 2019 en weer so onlangs as Junie 2021 onder daardie vlak van 20 jaar vantevore verhandel.

    Net so oneties as wat dit sou wees om hierdie as “bewys” te gebruik dat die rand nie verswak nie, net so oneties is dit om by die punte van ekstreme pessimisme te beweer dat die rand in vryval na waardeloosheid is.

 

  • In geen enkele geval hier bo het die rand teen ’n swakker koers verhandel ses maande later nie en in slegs drie gevalle het dit marginaal swakker verhandel 12 maande later.Gemiddeld het die rand in die daaropvolgende ses maande tot ’n jaar ongeveer 11% veld gewen teenoor die dollar. Let wel, dit was nadat die draaipunt bereik is . . . daar is geen manier om te weet of ons al by die draaipunt is nie.

 

Voor ek sê wat ek dink dit vir jou as belegger of besluitnemer beteken (waar die wisselkoers ’n rol speel), is dit net weer belangrik om die voor die hand liggende uit te wys en dit is dat nie ek of enigiemand anders weet wat in die nabye toekoms met die wisselkoers gaan gebeur nie.

Vermy dus eensydige besluite waar jou mening van wat gaan gebeur in kriekettaal ’n ses of die verlies van jou paaltjie gaan beteken.

 

  • Jou langtermynbeleggingstrategie behoort op die fundamentele waarde van die onderliggende bates in hul tuisgeldeenheid gegrond te word en nie op wat jy dink met die wisselkoers-fluktuasie tussen jou en die ander geldeenheid (indien van toepassing) gaan gebeur nie.Jy verruil egter nie tans duur rande vir goedkoop dollars nie.

    Dit sou beteken jy probeer ’n reeds moeilike perd (veral die duur Amerikaanse mark) opsaal met ’n ongemaklike saal. Jy gaan dalk jou sit moet ken as jy teen huidige vlakke buitelandse beleggings bekom met groot geïndekseerde VSA-blootstelling.

 

  • Huidige vlakke van die rand lyk na ’n oorreaksie en die dollar is waarskynlik in die orde van 20% oorwaardeer teenoor die rand. As jy ’n in- of uitvoerder is, kan besluite oor die tydsberekening van transaksies en of jy verskansing het of nie, ’n wesenlike verskil maak.Benader dus oordeelkundig.

 

  • Ekstreme wisselkoersbewegings (in albei rigtings) het ’n wesenlike impak op korttermynprestasiesyfers.Hou ’n pot sout byderhand, want ’n eenjaar-styging in die MSCI-indeks in rand lyk of dit weer in die orde van 30% kan wees, maar (a) dit is van ’n lae basis af en (b) die tydelike randverswakking verbloem die feit dat die dollar-opbrengs slegs in die orde van 3% was; die helfte van die indeks se “plaaslike” inflasiekoers. Wanneer die wisselkoers normaliseer, bly jy oor met die dollaropbrengs wat moontlik teleurstellend gaan wees van die huidige vlakke af.

 

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X