Is daar plek vir verskansingsfondse in jou aftreebeplanning?
Deur Deidré Valentine
6/5/2023
Die jare lange debat oor regulasie 28 en die beperkings daarvan op pensioenfondse, veral die meerderheidblootstelling aan Suid-Afrikaanse bates, is gedeeltelik te ruste gelê nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank in Februarie 2022 aangekondig het dat pensioenfondse voortaan tot 45%-blootstelling aan buitelandse beleggings mag hê.
Dit gee aan beleggers groter buigsaamheid om hul blootstelling tussen Suid-Afrikaanse en buitelandse bates rond te skuif. Of dit nóú die regte tyd is om maksimum blootstelling aan buitelandse bates te hê, is egter ’n gesprek vir ’n ander dag.
Ek wil in dié rubriek kyk na die konsep van beskerming teen afswaaie vir beleggers (veral afgetrede beleggers), wat na my mening belangriker is as buigsaamheid ten opsigte van blootstelling tussen Suid-Afrikaanse en buitelandse bates.
Beskerming teen afswaaie is ’n strategie om die risiko van (afwaartse) wisselvalligheid te verskans en ook die toekomstige verliese vir die onderliggende portefeulje te verlaag of te elimineer.
Die risiko is die moontlikheid van permanente kapitaalverliese vir beleggers. Vir voor-aftrede- beleggers is wisselvalligheid nie noodwendig die grootste risiko nie, maar wel die feit dat hulle relatiewe verliese kan ly en dat hul portefeuljes dus nie genoeg groei nie. Vir afgetrede beleggers speel wisselvalligheid dalk ’n groter rol omdat daar dikwels ’n maandelikse inkomste getrek word uit beleggings, wat dus verliese of winste realiseer.
Die bekende “alleenlik langposisie”- effektetrusts, soos wat die normale belegger dit ken, is egter beperk ten opsigte van verskansing. Dit kan slegs wins maak wanneer die markte groei, maar het min tot geen beskerming wanneer markte daal nie. Daarom vlug beleggers dikwels na kontant wanneer hulle onrustig raak oor die markte, aangesien kontant dikwels minimale risiko van ’n absolute verlies het.
Die kwessie van relatiewe verliese is hier egter ’n probleem aangesien kontant as ’n bateklas oor lang tydperke sukkel om beter as inflasie te presteer, wat beteken dat beleggers in relatiewe terme verliese ly.
Dit laat beleggers in ’n moeilike posisie wanneer dit belangrik is om genoeg blootstelling aan groeibates te hê sodat hul portefeuljes oor lang tydperke inflasie kan klop en hul geld dus lank genoeg sal hou ná aftrede, maar ook terselfdertyd nie te veel wisselvalligheid in die portefeulje te hê nie om die moontlikheid van negatiewe opbrengste laag te hou.
Is daar ’n oplossing vir hierdie probleem?
Verskansingsfondse kan voordeel trek uit sowel markdalings as -stygings. Hulle verskil van tradisionele effektetrustfondse in dié sin dat hulle geld kan leen om groter beleggings te doen, afgeleide instrumente kan gebruik en ook kan deelneem aan kortverkope.
Die voordeel hiervan is dat verskansingsfondse tipies beter vaar as aandele- en gebalanseerde fondse wanneer die mark swak vaar. Die nadeel is dat verskansingsfondse sukkel om beter as aandelefondse te vaar in tydperke wanneer die mark styg.
Beleggers moet dus oorweeg of hoër opbrengste tydens markstygings vir hulle belangriker is as om moontlike verliese te beperk.
Die Suid-Afrikaanse verskansingsfondsbedryf het van Desember 2021 (R86,9 miljard) tot Desember 2022 (R113 miljard) met 30% gegroei. Verdere veranderings aan regulasie 28 in 2023 laat pensioenfondsbeleggers nou toe om tot 10% van hul blootstelling aan verskansingsfondse toe te ken.
Hoewel verskansingsfondse dikwels as riskant beskou word, dink ek dit is nodig om ’n bietjie te kyk hoe ons dié tipe fondse moet benader en ons mening hieroor af te stof.
Doen jou huiswerk
Ek probeer nie sê dat daar nie risiko’s verbonde is aan verskansingsfondse nie. ’n Mens moet steeds jou huiswerk doen oor die volgende kwessies:
- Die fondsbestuurder en die beleggingspan se ondervinding;
- Historiese opbrengste (hoewel dit nie noodwendig ’n aanduiding is van toekomstige opbrengste nie);
- Verstaan die risiko van die fonds deur na verhoudings soos die Sharpe-, Sortino- en Standaard- afwykings te kyk en dit te vergelyk met dié van ander fondse; en
- Verskansingsfondse het wel soms hoë beleggingsbestuursgelde, maar dit is belangrik om na die opbrengste ná gelde te kyk en dit te vergelyk met dié van gebalanseerde fondse.
Voorbeeld
Om terug te kom by my punt oor wisselvalligheid en negatiewe opbrengste in ’n portefeulje, illustreer ek graag die volgende deur ’n vereenvoudigde voorbeeld:
Afgetrede beleggers plaas dikwels hul portefeulje in ’n gebalanseerde mandaat, met sowat 60%-blootstelling aan groeibates (aandele en eiendom) en 40% blootstelling aan konserwatiewe bates (effekte en kontant), om sodoende die wisselvalligheid van die portefeulje te verlaag.
Die voordeel van ’n lewende annuïteit is dat daar geen beperkinge is ten opsigte van die toewysing aan verskansingsfondse of alternatiewe bateklasse nie.
In die tabel hiernaas poog ek om te illustreer wat oor ’n vyf-jaar-tydperk (31 Maart 2018 tot 31 Maart 2023) met ’n portefeulje se opbrengste, wisselvalligheid en afswaaie gebeur wanneer die toewysing aan verskansingsfondse vergroot word. (’n Afswaai word gewoonlik uitgedruk as die persentasieverskil tussen ’n hoogte- en laagtepunt van die waarde van ’n belegging.)
In die voorbeeld verdeel ek die toewysing aan verskansingsfondse gelykop tussen twee van die mees bekende verskansingsfondse in Suid-Afrika.
Uit die tabel is dit duidelik dat opbrengste verbeter en wisselvalligheid en afswaaie verlaag namate die toewysing aan verskansingsfondse toeneem.
Ek sê wel nie dat die toewysing aan verskansingsfondse die enigste rede is vir die uitslag nie, maar dit is wel iets om op te let.
Volgorde-risiko is die gevaar dat die tydsberekening van die onttrekkings vanuit ’n lewende annuïteit die belegger se jaarlikse opbrengste kan benadeel. Onttrekkings tydens ’n beermark het ’n groter negatiewe uitwerking as onttrekkings tydens ’n bulmark. As ’n belegger byvoorbeeld 5% van hul beginportefeulje per jaar onttrek, beteken ’n afswaai van 50% dat die oorspronklike onttrekking van 5% nou 10% van die portefeuljewaarde is.
Dit beteken dat wanneer markte uiteindelik herstel, daar aansienlik minder kapitaal is waaruit ’n inkomste getrek kan word.
’n Gediversifiseerde portefeulje, met laer wisselvalligheid, kan ’n portefeulje teen volgorde-risiko beskerm.
Uiteindelik bly dit belangrik om saam met ’n adviseur al die aspekte oor aftreebeplanning (wisselvalligheid, groei, kapitaalbehoud, belasting en portefeuljekonstruksie) deur te werk om seker te maak dat jou oorhoofse beplanning so effektief moontlik is en dat jy met gemoedsrus eendag (of nou reeds) kan aftree.
Die oorweging van verskansingsfondse sal deel wees van hierdie beplanningsproses, maar behoort nie die hoofoorweging te wees nie.
Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.