Wat sou Rip van Winkel raai?

Opbrengste: Huidige realiteit sê min oor hoe toekoms kan lyk

Deur Andró Griessel

4/2/2023

Verbeel jou gou vir ’n oomblik jy is soos Rip van Winkel in die kortverhaal van die Amerikaanse skrywer Washington Irving en jy is by ’n Oujaarspartytjie in 2002.

Net voor middernag kom ’n feetjie na jou toe met pen en papier en vra dat jy die beleggingsprestasie van die verskillende bateklasse moet voorspel vir die volgende 20 jaar. Daarna gee sy vir jou ’n slaapdrankie wat jou, soos ou Rip, vir 20 jaar lank laat slaap.

Wat sou jy neerskryf?

Om te help met hierdie verbeeldingsvlug, sal ’n bietjie 2002-konteks dalk help.

    • Thabo Mbeki is die president en Jacob Zuma is die adjunkpresident.
    • Die Boeremag was baie aktief gedurende dié jaar en ’n lid word in Lichtenburg in hegtenis geneem met wapens en plofstof. In Oktober 2002 is daar nege bomaanvalle in Soweto en een in Bronkhorstspruit, waarvoor die Boeremag verantwoordelikheid aanvaar.
    • Mbeki beweer MIV-medisyne is gevaarlik en bevraagteken of MIV of armoede die werklike oorsaak van vigs is.
    • Die ANC hou sy 51ste nasionale kongres op Stellenbosch… in die hartjie van die sogenaamde “wit monopolie-kapitaal”.
    • Hansie Cronjé sterf in Junie in ’n vliegongeluk.
    • Oor die voorafgaande agt jaar het Suid-Afrikaanse aandele (10,2% per jaar) minder opgelewer as geld in die bank (13,9% per jaar). Buitelandse aandele het oor dieselfde tydperk ’n opbrengs van 18,6% per jaar opgelewer, selfs ná ’n massiewe daling van 42% in 2002.
    • Ten spyte van ’n massiewe versterking van die rand van amper 30% teenoor die dollar in 2002, betaal jy aan die einde van 2002 R8,66/$1 teenoor slegs R3,50/$1 aan die einde van 1994.
    • Die prima uitleenkoers is 14% en die inflasiekoers verdubbel bykans in 2002, van 5,5% tot 9,3%.
    • Net ’n jaar vantevore (2001) is Eskom deur Financial Times vereer as die wêreld se beste kragverskaffer en in 2002 is hy, ironies genoeg, die mede-aanbieder van die Wêreldsimposium oor Volhoubare Ontwikkeling.
       
      Die volgende sinnetjie (vry vertaal) kom net so van Eskom se eie webtuiste af: “Werk begin aan Ingula, Medupi en Kusile – maar dit is te laat om kragonderbrekings af te weer aangesien Eskom reeds sukkel om te voorsien in die toenemende aanvraag. Daar is ’n herrangskikking van leiersposte voor die waters kalmeer, ’n lyn in die sand is getrek en die organisasie word geherstruktureer vir ’n verskuiwing in prestasie en volhoubare groei.”
       
      Die ironie sou komies gewees het as dit nie so hartseer was nie.

     
    Terug na jou Rip van Winkel-ervaring. Net voor jy aan die slaap raak, skribbel jy ’n paar voorspellings neer. Toe jy weer jou oë oopmaak, is dit 20 jaar later en dit is 1 Januarie 2023.

    Die prima uitleenkoers is 10,5% en inflasie oor die vorige 12 maande was in die orde van 6,8%. Jou voorspellings oor bateklasse se opbrengste (gegewe die prentjie wat jy in 2002 gehad het), vermoed ek, was nie in die kol nie.

    Sien die meegaande grafiek vir die hoofbateklasse se werklike opbrengstes (alles omgeskakel in rand) per jaar oor die afgelope 20 jaar.

    Wat sou jy doen as jy hierdie oefening nou moes doen?

    Hoe swaar sal die Eskom-gemors op jou gemoed weeg?

    Hoe optimisties of pessimisties sal jy wees oor die moontlikheid dat die ANC sy greep op Suid-Afrika gaan verloor en hoe sal die afgelope 20 jaar, tien jaar of selfs een jaar se beleggingsprestasies weeg op jou voorspellings oor die toekoms?

    My vermoede is dit sal ’n wesenlike invloed hê, net soos dit waarskynlik ’n wesenlike invloed op jou eie gemoed, en uiteindelike besluitneming, het.

    Ek wil egter, soos altyd, die saak uitmaak dat hierdie dinge, min tot geen voorspellingswaarde het ten opsigte van verwagte beleggingsprestasie.

    Die enigste betroubare aanduider wat ek al kon identifiseer van wat jy kan verwag ten opsigte van ’n toekomstige opbrengs, is die prys wat jy vandag vir ’n bate betaal – nie die historiese opbrengste, die land se ekonomiese groeikoers, die vlak van werkloosheid, demografie, president of hoe lekker of sleg die weer is nie.

    As jy duur betaal, behoort jou opbrengs swak te wees en as jy dit goedkoop kan koop, behoort jou opbrengs goed te wees. Dit is amper so eenvoudig, en so moeilik, soos dit.

    Mense wat met ’n groot mate van oortuiging voorspellings maak oor toekomstige opbrengste uit bates of bateklasse (vernaam oor kort termyn) moet met ’n gesonde mate van agterdog bejeën word. Dit sal jou baat om dit te onthou as jy na die volgende paar punte kyk wat opsom hoe ons die wêreld van beleggings tans beskou.

    • Daar is ’n wesenlike kans dat die volgende tien jaar nie naastenby soos die afgelope tien jaar gaan lyk nie. Daar het verlede jaar ’n strukturele verandering ingetree wat die speelveld heeltemal verander en derhalwe ook moontlik jou beleggings-uitkomste.
    • In 2022, het dit vir baie mense duidelik geword dat dit dwaasheid is om historiese prestasie in die oneindigheid in te ekstrapoleer. ’n Aanname dat die storm rondom hierdie bates nou agter die rug is en dit veilig is om weer in daardie dam te gaan swem, kan dalk net tot nog ’n ronde van pakslae lei.
    • Ontluikende markte se bates lyk vir ons sinvoller geprys (oor die algemeen) as ontwikkelde lande s’n. Suid-Afrika, met al sy uitdagings, is een van hierdie.
    • ’n Beleggingstyl wat meer fokus op ’n maatskappy se huidige realiteit in plaas van ambisieuse groeiverwagtiginge, kan in die toekoms dalk veel beter as ander beleggingstyle vaar, terwyl dit lank onderpresteer het.
    • Veral in die buiteland was passiewe beleggings, wat outomaties groot blootstelling aan kolossale en oorheersende maatskappye gebied het, die afgelope tien jaar baie moeilik om te klop met ’n aktiewe bestuursbenadering. Hierdie tendens het reeds verander en ons is van mening dat dit sal voortduur.
    • Beleggers se eie gedrag bly een van die grootste negatiewe faktore in beleggers se werklike uitkomste.

     

    Maak seker dat dit nie ook by jou die geval is nie en kry hulp indien jy vermoed dat dit wel die geval is.

    Sterkte vir die res van 2023!

    Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

     

    Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X