Kry finansiële tevredenheid

Dit sal jou help kalm bly tydens markskokke

Deur Cassie Carstens

4/3/2023

‘n Ystersmid smee yster tussen 950 °C en 1 250 °C. As yster net effens verder verhit word, bereik dit ’n smeltpunt teen 1 370 °C. Dit laat my baie dink aan die balle wat individue daagliks in die lug moet hou tesame met eksterne gebeure soos Covid-19, inflasie-skokke, oorloë en Eskom debakels.

Beleggers kan vir lank “gesmee” word en dit trotseer, maar almal het ’n finansiële smeltpunt – wat dikwels tot verkeerde besluite lei. Oor die jare het ons gevind dat beleggers wat finansiële tevredenheid ervaar, ’n baie beter raamwerk het om hierdie smeltpunt te vermy.

Hierdie is nie ’n persoonlike self-help-rubriek nie. Ons wil eerder ’n aksieplan uiteensit waarmee finansiële vryheid en tevredenheid gekweek kan word in die beleggingsomgewing.

Die aksieplan

1) Hou kop

Dit is ’n goeie idee om Rudyard Kipling se frase te midde van markskokke byderhand te hou: “hou kop in tye wanneer almal anders hulle s’n verloor”.

Toe ons eersteling op vyf maande ’n kroep-aanval kry en ons na ’n ongevalledokter se raad moes luister, kon ek Kipling se frase as ’n tatoeëermerk op my arm gehad het en dit sou niks gehelp het nie. Mettertyd besef ’n mens wel hoe gereeld algemene kindersiektes (en markskommelings) verbykom en jy maak vrede met hoe min jy daarvan kan beheer.

Die meegaande grafiek wys die opbrengs van die S&P 500 oor die vorige 42 jaar. In elk van die 42 jaar was daar ’n tydperk gedurende die jaar dat die mark negatief gedraai het, met die gemiddelde val sowat 14%. Ten spyte hiervan was die opbrengs in 32 van die 42 jaar positief (en in die meeste gevalle sterk positief).

Jy sal na ’n tydperk beloon word wanneer jy in kapitaalgroei-bates belê, maar jy gaan in baie gevalle voel asof jy by ongevalle in die vroeë oggendure is. Deur kop te hou en absolute vrede te maak hiermee, gee jy ’n groot stap vorentoe na finansiële tevredenheid.

2) Intergenerasie-welvaart

Die gesegde lui die eerste generasie bou die welvaart, die tweede generasie bestee dit en die derde generasie blaas dit. Het jy ’n vererwingsplan (dit is iets heeltemal anders as ’n testament)?

Ninety One het onlangs navorsing bekend gemaak:

  • 70% van die beleggers op sy platform is 60 jaar en ouer;
  • 53% van die welvaart in die VSA word gehou deur die naoorlogse generasie, die sogenaamde baby boomers (tussen 57 en 75 jaar oud), en nog 18% deur die generasie ouer as hulle; en
  • 71% van die milleniërs (25 tot 40 jaar) in Suid-Afrika is werkloos teenoor 45% oorsee.

 

Binne die volgende tien tot 20 jaar gaan daar een van die grootste oordragte van intergenerasiewelvaart plaasvind. Die generasie wat dit gaan ontvang, het totaal ander behoeftes (goed en sleg), lewensuitkyke, bestedings- en spaarpatrone. Dit is die ouer generasie se plig om te sorg dat die volgende generasie nie opeindig soos die stereotipiese derde generasie nie. Vra jouself af:

  • Het jou kinders (of gade) die nodige finansiële advies en bystand indien hulle hierdie welvaart ontvang?
  • Moet die geld regstreeks aan hulle begunstig word of is ’n trust ’n beter opsie?
  • Hoeveel van jou kennis oor finansiële beginsels het jy al aan hulle oorgedra?
  • Moet jy van jou welvaart reeds binne perke begin deel met jou kinders in plaas daarvan om alles terug te hou totdat jy sterf?
  • Is jou begunstigde-nominasies en beleggingstrukture in ooreenstemming met jou vererwingsplan?

 

Die wete dat jy ’n vererwingsplan het, help om finansiële tevredenheid te skep.

3) Proses

Ek wens ons kon met ’n towerstaf een vraag verander: van “watter beleggingsopbrengs bied julle” na “wat is jul beleggingsproses”?

’n Behoorlike beleggingsproses is soos om ’n huis op rots te bou en nie op sand nie.

Nog belangriker, gaan jou adviseur of fondsbestuurder sy beleggingsproses handomkeer verander elke keer as dinge ’n bietjie moeilik raak? Die vorige twee jaar bied ’n wonderlike voorbeeld hiervan.

Die Ark-innovasiefonds was baie gewild vanweë sy beleggings in ontwrigtende innovasieaandele.

Die grafiek wys hoe beleggers ingestroom toe die waarde gestyg het. Toe die borrel bars, was daar nêrens om weg te kruip nie.

Die oranje lyn is die aandeelprys van die beleggingsbeheermaatskappy Berkshire Hathaway wat bestuur word deur Warren Buffett. Dit is merkwaardig hoe die “skilpad in die klas” nie sy modus operandi verander het terwyl Ark se waarde die hoogte ingeskiet het nie en ná vyf jaar weer lyne gekruis het met van die tegnologie-gedrewe aandele.

4) Finansiële plan

Gedurende een van die eerste hersienings ná die Covid-19-pandemie het ek met ’n afgetrede kliënt gesels oor die 40%-val in sy aandeleportefeulje in daardie stadium. Sy vraag aan my was: “Het my finansiële plan verander?”

Dit was eenvoudig – die bateherbalansering is gedoen binne die beleggingsmodel, maar die oorhoofse finansiële plan het nie verander nie.

Jy moet wel aanpassings aan die plan maak, soos om dalk tydelik nie ’n verhoging in inkomste te neem nie, onttrekkings te vermy en uitgawes te sny, maar jou vermoë om getrou te bly aan jou oorhoofse finansiële plan skep finansiële tevredenheid.

Dit raak toenemend moeiliker om ’n beleggingsplan toe te pas in ’n wêreld wat behep geraak het met die akkumulering van goedere, sosiale-media-statusse en onmiddellike bevrediging. Jou aksieplan kan help om dit te oorkom.

Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

 

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X