’n Vooraf uitgewerkte plan is beter as reaktiewe gedrag
Deur Deidré Valentine
1/10/2022
Dit is amper die einde van 2022. Mense kyk my altyd snaaks aan wanneer hulle aan die begin van die jaar vir my vra wat my Nuwejaarsvoornemens is en ek dan antwoord dat ek my nie aan so iets steur nie.
Ek verkies ’n volhoubare roetine eerder as onrealistiese doelwitte waar ek nie noodwendig beheer oor die uitkomste het nie.
In sy boek, The 7 Habits of Highly Effective People, skryf Stephen R. Covey die eerste gewoonte wat lei tot doeltreffendheid is die gewoonte om proaktief te wees. Ons as individue is geneig om die “slagoffer” te speel deurdat ons dikwels iets of iemand anders wil blameer vir ons omstandighede.
Dieselfde geld vir ons as beleggers.
Ons wil dikwels die politiek, swak opbrengste en die feit dat ons “nie geweet het nie” blameer wanneer ons nie kan aftree nie of wanneer ons geld verloor.
Moenie my verkeerd verstaan nie, die punte hierbo genoem kan nie geïgnoreer word nie, maar kan ook dikwels nie beheer word nie.
Ons is geneig om te fokus op dinge wat buite ons beheer is, wat dan lei tot ’n negatiewe ingesteldheid en probleme wat uiteindelik net groter word en nie opgelos word nie. Wanneer ons dan nie ’n strategie en proses het wat konstant toegepas word nie, reageer ons impulsief, wat dikwels tot verkeerde besluite lei.
Belê reaktief of proaktief
Hier kom ek terug na die fokus op dinge wat dikwels buite ons beheer is. In die grafiek hieronder, vergelyk ons drie strategieë om hierdie punt verder te staaf.
Gestel ons belê R100 000 in elk van die onderstaande strategieë in 1995:
- In die eerste strategie, belê ons elke jaar in die bateklas wat die beste gevaar het in die vorige jaar. Dit is reaktiewe gedrag met die aanname dat die onlangse verlede hom eenvoudig sal herhaal.
- Die tweede strategie volg die teenoorgestelde benadering en belê in die bateklas wat die swakste gevaar het die vorige jaar, met die hoop dat die bateklas sal herstel van die laagtepunt wat bereik is. Hoewel die grondslag anders is, is die strategie steeds grootliks reaktief.
- Die derde strategie volg ’n benadering van strategiese batetoewysing, waar ’n resep gebruik word wat oor tyd vir jou ’n bepaalde uitkoms ten opsigte van jou opbrengs met betrekking tot inflasie behoort op te lewer. Die gewigte in die bateklasse word elke jaar herbalanseer na hul oorsponklike gewigte wat bestaan uit 25% buitelandse aandele, 10% buitelandse eiendom, 25% Suid-Afrikaanse aandele, 10% Suid-Afrikaanse eiendom en 30% Suid-Afrikaanse effekte. Dit is ’n proaktiewe strategie.
Hieruit is dit duidelik dat ’n mens nie die toekoms hoef te kan voorspel om steeds billike opbrengste uit ’n goed gebalanseerde en gediversifiseerde portefeulje te kan genereer nie.
Die eerste en tweede strategie lei tot huidige portefeuljewaardes van ruweg R1,1 miljoen en R1,4 miljoen, terwyl die derde strategie amper dubbel die waarde (sowat R2,7 miljoen) oplewer.
Reaktiewe beleggers neem besluite wat gegrond is op impuls, terwyl proaktiewe beleggers besluite grond op beginsels (strategiese batetoewysing).
Fokus op wat jy kan beheer
As belegger moet jy dus fokus op dit wat jy kan beheer.
Belasting: Hoewel dit belangrik is om voor aftrede by te dra tot ’n pensioenfonds/annuïteit sodat jy dit kan aftrek vir belastingdoeleindes, is dit net so belangrik om by te dra tot ander beleggingsvoertuie (vrywillige beleggings).
Só kan jy jou inkomste ná aftrede aanvul vanuit hierdie vrywillige beleggings sodat jy nie jou volle inkomste uit jou pensioen hoef te onttrek en dus onnodig baie inkomstebelasting ná aftrede hoef te betaal nie.
Hoe jy jou inkomste ná aftrede verdien – met ander woorde uit watter bronne – kan ’n groot verskil aan die belasting-rem op jou beleggings maak.
Ek gee ’n vinnige voorbeeld uit ’n onlangse kliënt-gevallestudie.
Hy het R112 000 per maand vanuit sy lewende annuïteit onttrek, waarvan hy R36 000 aan inkomstebelasting moes afstaan om sowat R76 000 per maand in sy sak te steek.
Deur egter nét die minimum verpligte inkomste (van 2,5%) vanuit sy lewende annuïteit te neem en die balans uit ander diskresionêre beleggings (wat hy gelukkig het), betaal hy net sowat R3 200 per maand aan inkomstebelasting, oftewel 91% minder.
Hierdie besparing van R33 000 per maand oor die volgende 29 jaar (as ons aanneem hy leef tot ouderdom 95) is gelykstaande aan ’n totale besparing van R25,8 miljoen (oftewel R6,3 miljoen in vandag se koopkrag).
Deur vroegtydig groeibates in ’n trust te hê, help ook dat jou boedel buite jou naam groei en kan vir jou erfgename eendag 20% tot 25% se boedelbelasting bespaar wanneer jy sterf.
Gelde: Vermy adviseurs en beleggings wat onnodig hoë aanvangsgelde hef.
Vermy ook beleggingsplatforms wat versteekte en hoë administrasiegelde het. Suiwer beleggingsplatforms is dikwels hier die beter opsie.
Moet ook nie probeer “diversifiseer” deur op verskillende platforms te belê nie, want dit is nie waar konsentrasie-risiko is nie.
Om al jou beleggings op een platform te hê, hou skaalvoordele in en kan jou administrasiegelde noemenswaardig verlaag.
Samestelling van beleggings: Neem ’n strategiese besluit oor batetoewysing vir die langtermyn wat jou behoeftes met betrekking tot opbrengs bevredig of behoort te bevredig. So sal jy byvoorbeeld nooit op langtermyn inflasie met vyf persentasiepunte kan klop as jy slegs 30% tot 40% aan groeibates blootstel nie.
Jou “resep” moet dus reg wees.
Baie belangrik: Maak seker dat jou portefeulje gereeld (minstens jaarliks) teruggebalanseer word na die oorspronklike gewigte.
Let op jou eie gedrag: Maak seker dat jy nie jou eie kanse op ’n goeie uitkoms saboteer deur te swig voor vrees of gulsigheid en jou portefeulje te wysig op grond van wat jy hoop of vrees gaan gebeur met korttermynprysbewegings nie.
Ten slotte: Doen alles wat jy kan om die aspekte van jou beleggings waaroor jy beheer het, te optimaliseer (die aspekte hier bo genoem), belê die nodige tyd en energie om sinvolle strategiese batetoewysing te doen en vertrou dan die proses.
Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument, kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.