Aankoopprys bepaal sukses

Tyd in die mark beter as tydsberekening – feit of mite?

Deur Andró Griessel

3/9/2022

Jy het dalk al dikwels die opmerking gehoor: “Dit is tyd in die mark wat tel, nie tydsberekening van die mark nie.” Ek het self hierdie woorde al baie geuiter en daar skuil ’n mate van waarheid en natuurlik ’n klomp goeie bedoelings daarin. Wat egter hierby gevoeg behoort te word, is dat die prys wat jy vir ’n bate betaal, saakmaak, en as jy dit wesenlik verkeerd kry, sal jy jou opbrengsprofiel permanente skade berokken.

Hier verwys ek tipies na iemand wat eensklaps ’n klomp geld het om te belê uit byvoorbeeld ’n erfenis, die verkoop van ’n eiendom of ’n onderneming, of iemand wat ’n groot batetoewysingsbesluit neem soos om al sy beleggings van een bateklas na ’n ander te skuif. Kom ek verduidelik aan die hand van die JSE as voorbeeld. Die JSE se indeks van alle aandele (dividende ingesluit) het sedert 1970 ’n gemiddelde opbrengs van 16,37% per jaar gelewer. Gemiddelde inflasie oor daardie tydperk was egter ongeveer 9% per jaar, wat ’n reële opbrengs (bo inflasie) van ongeveer 7,3% per jaar verskaf het. Om dit in perspektief te plaas, ’n R10 000-belegging in 1970 sou vandag so R29,4 miljoen werd wees. ’n Ekwivalente item waarvan die prys oor dieselfde tyd teen inflasie gegroei het, sou vandag R927 000 kos. Jy sou dus jou welvaart in reële terme met bykans 32 keer vermenigvuldig het.

Dit is fenomenaal en getuig sekerlik van die gesegde hierbo? Nou, op hierdie punt gaan ek moontlik die lesers verloor wat glo dat die lange verlede géén analitiese waarde het nie weens die feit dat dit 20 jaar of wat se data insluit vóórdat die ANC se vernietigende bal deur ons ekonomie se gange begin swaai het. Hierdie sentiment is heeltemal verstaanbaar, maar neem net kennis dat vanaf 1 Januarie 1995 tot vandag was die gemiddelde opbrengs 12,93% teenoor ’n inflasiekoers van 5,78%, wat ’n bykans identiese reële opbrengs van 7,15% verteenwoordig. Probeer dus vir ’n oomblik die oorvereenvoudigde aanname opsy sit dat swak aandeelmarkprestasie regstreeks met die regerende party verbind kan word. Probeer die gedagte huisves dat daar moontlik ’n ander verduideliking is.

Terug by langtermyn verwagtinge vir opbrengste uit die aandeelmark. Die baie lang geskiedenis suggereer (sowel 52 jaar as 27 jaar) dat opbrengste uit aandele in die orde van 7% bo inflasie behoort te wees. As dit dan as belegger aan jou “verkoop” word en jou werklike ervaring is slegs 3,83% bo inflasie vir 14 jaar (soos tussen Januarie 2008 en vandag) of nog erger, slegs 2,31% bo inflasie oor ’n tydperk van meer as 7,5 jaar (2015 tot vandag) is dit nogal ’n bitter pil om te sluk en is dit te verstane dat mense dink daar is gemene spel iewers betrokke. Kan hierdie data as bewyse aanvaar word dat die kumulatiewe uitwerking van swak bestuur eers in die laaste paar jaar begin deurspoel het?

Hoewel ’n gewilde opinie, kan dit nie verklaar waarom, as jy in plaas van op 1 Januarie 2008, net ’n jaar later op 1 Januarie 2009 jou geld belê het, jou opbrengs oor die volgende 13 jaar (steeds ’n lang tyd) wel ’n reële opbrengs van 6,88% behaal het nie. Ek wil beweer dat daar ’n ander rede is vir hierdie dispariteite, en dit is die waardasies by die vertrekpunt van die onderskeie metingsperiodes. Beleggers word soos motte na ’n kers deur hoë historiese opbrengste gelok. In die vyf jaar tot 2008 was die reële opbrengs uit Suid-Afrikaanse aandele ’n astronomiese 24,9% per jaar, en in die vyf jaar tot 2015 was dit ook ’n baie hoë 14,55%.

Onthou dat die baie lang termyn se gemiddelde opbrengste slegs 7% is. Waarvoor beleggers hulself ingelaat het of verwag het (dieselfde soort opbrengste) en wat hulle daarna gekry het, het natuurlik soos dag en nag van mekaar verskil. So graag as wat ek die regerende party, inflasie, deflasie, pandemies of ministers van finansies wat die trekpas kry die skuld daarvoor sou wou gee, lê ’n groot deel van die legkaart se antwoord ongelukkig in die prys wat beleggers vir bates betaal het aan die einde van hierdie goeie jare.

Talle beleggers het verlede jaar finaal handdoek ingegooi met Suid-Afrikaanse aandele en ’n baie groot deel of sommer alles in buitelandse aandele gaan belê. Weer eens kan ’n mens simpatie vir hierdie strategie hê as jy na die historiese prestasie (tien jaar) van buitelandse aandele teenoor Suid-Afrikaanse aandele gekyk het. Maar teen watter prys is hierdie omskakeling gedoen, en miskien belangriker – wat gaan die koste rakende jou welvaart wees oor die volgende tien jaar? Sien die ontleding in die meegaande grafika.

 

 

Die een grafiek stel ontwikkelde lande (buiteland) se veelvoud van prys-tot-boekwaarde wat jy histories betaal het (sedert 1995) op verskeie tye. Die ander grafiek stel die datapunte voor van die totale vooruitopbrengs oor tien jaar in dollar wat jy sou verdien teen die prys-tot-boekwaarde waarteen jy die bate in die verlede sou gekoop het. In 2021, toe talle beleggers finaal tou opgegooi het en hulle beleggings na buitelandse aandele geskuif het, was die mark uit ’n relatiewe oogpunt baie duur. Aan die begin van 2010 (’n gewilde beginpunt vir talle ontledings wat wil illustreer hoe goed buitelandse bates presteer het) was buitelandse aandele baie goedkoop. Dit behoort dus nie ’n te groot verbeeldingsvlug te verg nie om tot die gevolgtrekking te kom dat die volgende tien jaar se opbrengste (van 2021 af) waarskynlik wesenlik anders gaan lyk as die vorige tien jaar s’n.

Tyd in die mark is belangrik,  want vir saamgestelde groei om te werk het jy twee elemente nodig, naamlik tyd en groei. Gee jouself dus soveel moontlik tyd, maar onthou asseblief dat groei bepaal word deur jou vertrekpunt en wat jy vir die bate betaal het. ’n Belegging met ’n wonderlike langtermyn opbrengsprofiel kan ’n konstante teleurstelling vir jou wees as jy nie verstaan teen watter prys jy daardie bates bekom nie.

Ek het geen insae in wat die volgende draaibal is wat vir ons wag nie en net so weet niemand

anders nie. Die beste wat ons kan doen, is om nie bates aan te skaf wanneer hulle teen rekordhoogtes verhandel nie, maar geduldig te wag vir beter geleenthede.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X