Dekkingsbehoeftes verander

Dekkingsbedrag kan oor ‘n leeftyd afplat en so premiegeld in jou sak los

Deur Cassie Carstens

6/8/2022

Dié rubriek gaan oor versekering – en nee, ek het nie die kortste stokkie tussen ons span adviseurs getrek nie.

Dalk is ek net tans ’n bietjie “uitgelees” aan “profetiese” menings oor wat met beleggingsmarkte gaan gebeur. En ek is onlangs herinner aan presies hoe min kliënte verstaan van hoe die somme agter langtermynversekering moet werk.

Ek het as 23-jarige my eerste gly gekry in versekeringsagente. Ek was in my eerste beroep en die agent wou ten duurste ’n lewenspolis van R40 miljoen aan my verkoop met die motivering dat ek “eendag suksesvol gaan wees, getroud gaan wees en kinders gaan hê, met skuld op ’n groot eiendomsportefeulje”.

Sover was dié profeet reg met die “getroud met kinders”-voorspelling. Gelukkig het ek nie die R40 miljoen-polis uitgeneem nie, anders was ek nou nog verder van “suksesvol” af.

Aan die einde van 2021 was daar net oor die 14 miljoen aktiewe individuele persoonlike polisse, luidens statistieke van die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa).

Lewensversekering (’n versamelnaam vir goed soos doods-, ongeskiktheids- en gevreesde siekte-dekking) se bedoeling behoort nie te wees om iemand te verryk op die eis-stadium nie, maar om ’n huidige-waarde-bedrag uit te betaal wat vir die verlore kontantvloei (uit byvoorbeeld ’n salaris) kan vergoed.

As jy jonk getroud is, afhanklikes en ’n lang loopbaan voor jou het, het jy heelwat kontantvloei om te vervang indien jy sterf. Maar as jy een jaar voor aftrede is, het jy in teorie net nodig om een jaar se salarisbetalings (vir die gade) te vervang.

Hoe lyk dit in die praktyk?

Ons gaan ’n baie vereenvoudigde gevallestudie neem om te wys hoe dramaties verskillend die uitkomste is, afhangend van hoe dit beplan word.

In ons voorbeeld is die man en vrou albei 42 jaar oud, met twee kinders van onderskeidelik vier en sewe.

Albei gades wil R40 000 per maand vervang as die ander een se inkomste sou wegval. Die afsonderlike koste per kind word gelys as R15 000 per maand en die verbandskuld van R3 miljoen (met ’n oorblywende termyn van tien jaar) moet benewens die reeds genoemde behoeftes deur die versekering gedek word.

Ons het kwotasies by een versekeraar gekry op ’n gelykblywende premiepatroon om die scenario’s uit te beeld.

Scenario 1: Die mees basiese en verkeerdste manier om die versekeringsbehoeftes te bepaal, is om eenvoudig die totale behoefte vir die gade en kinders van R70 000 per maand te bereken asof dit moet aanhou tot 95, asook dat die verband afgelos moet word.

Die huidige-waarde-bedrag kom neer op sowat R21,8 miljoen en die lewensdekkingpremie is sowat R9 005 per maand.

Scenario 2: ’n Beter manier is om ’n termyn aan elke behoefte te heg, byvoorbeeld dat die vrou se inkomste-behoefte op 65 eindig of dat die kinders se behoefte op 21 eindig.

Met hierdie stel aannames verander die huidige-waarde-bedrag na sowat R14,3 miljoen en die premie verminder tot sowat R5 936 met ’n vaste 5%- jaarlikse verhoging in premie en dekking.

Die probleem met scenario 2 is dat jou som reg kan wees op dag een, maar as dit nie jaarliks hersien word nie gaan die dekking en premie net eenvoudig bly styg, terwyl die behoefte weens ’n verkortende termyn in ’n stadium afneem.

Scenario 3: Die beste manier om die versekerde bedrag te bereken, is om ’n versekeraar te kry wat reeds die aanname in sy premie-projeksies aanbring dat die behoeftes gaan eindig op ’n sekere tydstip. Byvoorbeeld dat die verbandlening se uitstaande termyn tien jaar is. Met dieselfde stel aannames en dekking wat stelselmatig verminder of stop vir elke behoefte, verminder die premie verder na R3 015 per maand en die premieverhogings lyk heeltemal anders.

Soos u kan sien, is hierdie drie heeltemal verskillende benaderings met drie verskillende uitkomste.

Daar is twee vernuwings wat moet gebeur.

As ’n grondreël moet die huidige-waarde-som van die kontantvloei wat jy probeer vervang, elke jaar op hersiening met jou adviseur herbereken word en indien nodig moet dekking afwaarts aangepas word.

Die besparing moet dan verkieslik belê word om jou finansiële vryheid te bespoedig.

Tweedens, oorweeg die opsie om ’n produkstruktuur te gebruik waar jy die verskillende behoeftes kan isoleer en van die begin af ’n tarief betaal met die aanname dat die spesifieke behoefte op ’n sekere tydstip eindig, byvoorbeeld oor tien jaar as jou kinders klaar gestudeer het.

In die meegaande grafiek wys ons die verskil tussen Scenario 2 (asof hersienings nie gedoen word nie) en Scenario 3 se premieprojeksies. Indien die verskil in premies elke maand belê word tot en met 65 in ’n tipiese gebalanseerde fonds, eindig jy met ’n beleggingsneseier van sowat R3,75 miljoen.

Daar is risiko’s met die vermindering van dekking en mense moet dit sorgvuldig deurdink voordat hulle dit doen.

Jy moet egter onthou dat die betaling van premies tot by dood ’n spreekwoordelike rewolwer teen die kop kan raak. Jy behoort jou afhanklikheid van lewensversekering te speen teen die tyd dat jy aftrede bereik.

Van die slaggate wat vermy moet word:

  • Die bedrae wat uitbetaal word, is gegrond op teoretiese syfers en niks verhoed die oorlewende gade om eensklaps R2,5 miljoen te bestee aan ’n plat ryding nie.

As jy bekommerd is oor so ’n moontlikheid, moet jy eerder ’n lewensdekkingsbemaking aan ’n trust oorweeg, maar dan is daar weer boedelbelastingimplikasies waarvoor voorsiening gemaak behoort te word.

  • As jou aanname is dat jou beleggingsportefeulje van so ’n aard moet wees dat dit op 65 begin, moet jy seker maak dit is in die som ingebou. As die oorlewende gade R40 000 ’n maand benodig vir lewenskoste, maar daar is geen of min bestaande beleggings nie, gaan daar steeds maandeliks belê moet word vanuit die R40 000 per maand-betaling.
  • As jy bekommerd is dat jy wel in die toekoms meer dekking gaan benodig, oorweeg om iets soos toekomstige dekking (wat baie goedkoper is) by te voeg waar jy onderskryf word vir ’n gerief, maar dit nog nie gebruik nie.

 

As die hedendaagse gesprek tussen ’n adviseur en ’n kliënt minder oor die produk van maatskappy X teenoor maatskappy Y gaan en meer oor behoorlike beplanning, word werklike waarde toegevoeg en groter vertroue raak ’n byvoordeel.

Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X