‘Ghoeroes’ is dikwels maar net verkoopsmense met ’n agenda
Deur Andró Griessel
2/7/2022
In tye van onsekerheid, soek ons almal iemand wat die rigting kan aanwys. Dit is bloot menslik.
Die probleem in die finansiële wêreld is dat daar dikwels mense is wat stellings met soveel oortuiging maak dat dit amper soos die bevel van ’n peloton-leier klink. Vir mense wat onseker is oor die pad vorentoe, of nie die nodige kennis oor die vakgebied het nie, raak hierdie dikwels ’n “wekroep tot optrede” met onbedoelde en dikwels nadelige gevolge.
Die laaste paar maande was weer onstuimig in die finansiële markte en daar is moontlik nou weer heelwat mense wat op soek is na ’n profeet wat die toekoms kan voorspel en ’n duidelike pad vorentoe kan aandui.
Ek haal graag ’n paar brokkies van die afgelope twee jaar aan uit my “dinge-wat-die-moeite-werd-is-om-later-weer-te-lees”-lêer om te illustreer dat jy dalk nie blindelings agter sogenaamde kenners moet aanhardloop nie, maar ’n meer deurdagte proses (ondersteun deur ontleding en risikobestuur, in plaas van emosies en stories) moet probeer volg.
Die aanhalings is in geen spesifieke volgorde nie en name word uitgelaat aangesien die bedoeling nie is om iemand in die verleentheid te stel nie.
Ek wil wel wys hoe mense wat ’n platform het om met die publiek te kommunikeer (huidige geselskap ingesluit) se “raad” nie eenvoudig as korrek of sinvol aanvaar behoort te word nie. Die meeste van hierdie kommentaar was oorspronklik in Engels. Die vertaling is my eie.
17 Maart 2020, ’n bekende Suid-Afrikaanse belegger/aandelemakelaar op Twitter:
“Ek bly oproepe kry van mense wat Sasol wil koop. Ek sit eerder my &^#$ in ’n krokodil se mond.”
Sedert hierdie twiet, het Sasol se prys met meer as 900% gestyg.
1 April 2020, ’n bekende Suid-Afrikaanse rubriekskrywer en “beleggingstrateeg”:
“Selfs teen R18 teenoor die dollar, behoort beleggers meer dollars te koop. Die ergste kom nog. R22 teenoor die dollar teen jaareinde.”
Sedert hierdie twiet, was die dollar-kontant die swakste hoofbateklas (naas buitelandse effekte) met ’n opbrengs van -11,65% per jaar.
Die rand het teen die einde van 2020 teen R14,66 in plaas van die voorspelde R22 per dollar verhandel.
2 April 2020, ’n Amerikaanse beleggingsadviseur op Twitter:
“Covid-resessie sal dieper wees as die internasionale finansiële krisis. Diegene wat ’n V-vormige herstel verwag, maak ’n groot fout.”
Dit wás toe natuurlik ’n V-vormige, of as’t ware ’n hokkiestokvormige herstel. Sedert hierdie twiet, is die Amerikaanse mark (selfs ná die onlangse skerp dalings) 34% hoër in rand en die JSE 67% hoër.
As jy in dollar-kontant weggekruip het, sou jy in rand 13,5% van jou geld verloor het.
8 Junie 2020, ’n bekende Suid-Afrikaanse rubriekskrywer en “beleggingstrateeg”:
Hy twiet ’n vergelyking tussen ’n buitelandse fonds en ’n Suid-Afrikaanse fonds se prestasie oor die voorafgaande vyf jaar, waar die buitelandse fonds baie beter as die Suid-Afrikaanse fonds gevaar het as “bewys” dat jy buitelands behoort te belê eerder as binnelands.
Sedert dié twiet (twee jaar gelede), het die spesifieke buitelandse fonds ’n totale opbrengs van 4% gelewer (sowat 2% per jaar), terwyl die plaaslike fonds 57% gelewer het (sowat 25% per jaar).
8 Januarie 2022: ’n Artikel in Analytics Insight, ’n platform wat meer as vyf miljoen mense bereik, publiseer ’n artikel met die opskrif:
“Top-10 kriptogeldeenhede wat jy sal berou as jy dit nie in 2022 koop nie”.
Sien hierdie tien kriptogeldeenhede se prestasie sover vanjaar in die grafiek hiernaas.
21 Mei 2021: ’n Aanlyn artikel in die VSA lui:
“Bitcoin sal teen $307 000 teen Oktober (2021) verhandel, en dan teen $12,5 miljoen teen 2031.”
In plaas van $307 000, het dit $61 000 teen einde Oktober 2021 bereik. Dit verhandel tans teen sowat $20 000.
Hou hierdie in jou agterkop
Ek kan tot vervelens toe aangaan, maar ek dink die punt is duidelik. As jy dus nie op sogenaamde kenners se menings kan vertrou nie, hoe moet jy dan besluit wat om te doen?
Soos altyd, is dit makliker om uit te lig wat om nié te doen nie as wat om wél te doen, maar ek sal nogtans probeer. Volgende keer as jy ’n “wekroep tot optrede” ervaar nadat jy ’n berig of twiet gelees het, probeer die volgende onthou:
Emosies soos opgewondenheid, frustrasie, vrees, gierigheid, onvergenoegdheid, teleurstelling of selfs woede is almal tekens dat jy ook maar net ’n mens is. Dit is egter almal emosies wat jou pootjie wanneer dit kom by rasionele besluitneming (veral oor beleggings). Jy behoort weg te bly van mense (wat beleggingsbesluite betref) wat hierdie in enige wesenlike dosisse vertoon . . . jouself inkluis.
Wanneer jy iets lees of hoor wat vir jou soos ’n “wekroep tot optrede” voel, maak seker jy verstaan wie die skrywer is en of daar enige voordeel vir hulle daarin is om die storie aan jou te verkoop.
As iemand die uitvoerende hoof is van ’n onderneming wat Bitcoin bemark, moet hulle mening oor wat met Bitcoin se prys gaan gebeur, tog seer sekerlik saam met ’n hele streepsak vol sout verteer word. Dit beteken nie die argumente wat die persoon maak is nie geldig nie, net dat jy ekstra op jou hoede moet wees voordat jy die mening as ’n feit aanvaar.
Jy kan nie met sekerheid weet wat jy nie met sekerheid kán weet nie. Enigiemand wat met groot sekerheid oor die toekoms praat, se mening behoort met agterdog bejeën te word.
Stap een om ’n suksesvolle belegger te wees is, na my mening, om ontslae te raak van die illusie dat jy dalings (en soms groot dalings) in jou portefeulje kan vermy.
As jy dan tweedens kan onthou dat opbrengste in finansiële markte geensins in ’n voorspelbare formaat vir jou opgedis gaan word nie, sal jy die deursettingsvermoë ontwikkel om die soms lang winters (soos ons die afgelope ses tot sewe jaar verduur het) deur te sien.
Stap drie, wat verband hou met vandag se artikel, is om ontslae te raak van die gedagte dat daar ’n “ghoeroe” is met ’n kristalbal vir die toekoms. Hierdie “ghoeroes” is dikwels maar net verkoopsmense met ’n agenda.
Stap vier is om ’n behoorlike proses van portefeulje-konstruksie te volg (ongelukkig makliker gesê as gedaan) en stap vyf om vas te byt en eenvoudig die proses te vertrou. Die meeste mense koop wat in die onlangse verlede goed gevaar het en hoop vir die beste. Dit is nie ’n strategie met ’n groot kans op sukses nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.