Het jy lus om jou adviseur in die pad te steek?
Deur Andró Griessel
04/06/2022
Vir my sondes is ek al meer as twee dekades met beleggings besig.
Ek kan sonder veel twyfel sê dat die laaste 77 maande (dit klink bedrieglik baie na ’n gelukkige nommer) die uitdagendste periode was om behoorlike opbrengste (5% bo inflasie) met ’n multi-bate, oftewel gebalanseerde, strategie te genereer.
Die grootste gros lesers se beleggingsblootstelling val waarskynlik in die “gebalanseerde” kategorie, en as ek na die opbrengste van die afgelope 6,5 jaar kyk, moet daar baie mense wees wat dit sekerlik teen dié tyd sterk oorweeg om hul beleggingsraadgewer die trekpas te gee. Hoewel ek simpatie en begrip het vir dié sentiment, sal dit deug om na die data te kyk alvorens die vuurpeloton nader geroep word.
Gestel ons werk met ’n belegger wat alles ten opsigte van sy portefeulje se konstruksie (insluitend gereelde herbalansering) reg gedoen het. Die persoon het ook geweet van die “efficient frontier”: dus ’n portefeulje wat optimaal opgestel is om die maksimum opbrengs binne die perke van ’n voorafbepaalde, aanvaarde vlak van risiko (oftewel wisselvalligheid) te genereer.
Kom ons gestel die risikoprofiel het bepaal dat daar te alle tye 72,4% blootstelling aan groeibates (aandele en eiendom) moes wees.
As dit nie ’n aftreebelegging is nie, is die belegger nie deur regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse gekortwiek nie.
Gestel ’n 50%-blootstelling is aan buitelandse bates gekies.
Kom ons aanvaar dan verder dat die belegger ’n boublok-benadering gevolg het en in elkeen van die bateklasse ’n spesialis in die spesifieke veld gekies het om daardie gedeelte van die portefeulje te bestuur, eerder as om alles aan een gebalanseerde fondsbestuurder toe te vertrou.
Vir die doel van die oefening het ek elke keer die grootste fonds (dus, die een waaraan die meeste beleggers blootstelling het) in sy kategorie geneem, met die uitsondering van die plaaslike aandele.
Ten slotte aanvaar ek die belegging is op ’n beleggingsplatform gedoen en daar is dus bykomende gelde van 1% verhaal.
Die portefeulje en prestasie sou dan soos volg daarna uitsien:
Hoewel die ontleding effens aan die growwe kant is, sal ek verbaas wees as beleggers wat vandag dié artikel lees en in ’n soortgelyke mandaat belê is, ’n wesentlik ander uitkoms as ’n opbrengs van nagenoeg 7% per jaar vir die afgelope 6,5 jaar gehad het. ’n Vinnige loer na wat die grootste drie gebalanseerde fondse in Suid-Afrika oor dieselfde periode gedoen het, bevestig daardie vermoede met opbrengste van 7,28%, 6,27% en 6,71% per jaar vóór administrasie- en advieskoste.
Formele inflasie oor dieselfde periode was in die orde van 4,91% per jaar. Dit beteken ’n tipiese gebalanseerde portefeulje (50% plaaslik belê, 50% in die buiteland en met meer as 72%-blootstelling aan risikobates) sou inflasie met slegs 2,37% uitpresteer.
Dit is net ’n rapsie beter as wat korttermyn-kontantbeleggings sou oplewer en heelwat minder as wat ’n belegging in Suid-Afrikaanse staatseffekte sou oplewer. Geen wonder die vuurpeloton is besig om hul gewere skoon te maak nie.
Moet jy meer oorsee belê?
Indien jy van mening is dat regulasie 28 jou eie strategie in ’n plaaslike gebalanseerde fonds die afgelope 77 maande gekniehalter het, sou jy verkeerd wees.
Die opbrengs verlaag (vir dieselfde risikoprofiel) soos jou buitelandse blootstelling sou verhoog. ’n Verhoging in buitelandse blootstelling tot 60%, sou die opbrengs na 6,59% verlaag en ’n verlaging in buitelandse blootstelling na 33%, sou die opbrengs na 7,97% verhoog.
Indien jy moes kies tussen ’n plaaslike gebalanseerde of ’n buitelandse gebalanseerde fonds, sou die besluit se uitkoms om’t ewe wees. As ek na die opbrengste van die grootste plaaslike gebalanseerde fonds teenoor die grootste buitelandse gebalanseerde fonds oor dieselfde periode gaan kyk, is die opbrengs onderskeidelik 7,28% en 7,13% per jaar (vóór koste).
Suid-Afrikaanse aandele het beter gevaar as buitelandse aandele – as ek bloot na die twee fondse in die ontleding kyk. Die MSCI-wêreldindeks, sowel as die MSCI allelande-indeks, het egter beter presteer as die JSE se indeks van alle aandele met ongeveer 1,5 tot 2 persentasiepunte per jaar.
Dié feit suggereer dat plaaslike fondsbestuurders steeds daarin slaag om betekenisvolle alfa op die JSE te genereer terwyl hulle dit moeilik vind om dit in buitelandse portefeuljes reg te kry. (Alfa is die vermoë om die mark te klop.)
Aan die begin van 2016, net ná die Nene-Van-Rooyen-sirkus, was daar nie baie kommentators wat gedink het dat Suid-Afrikaanse effekte ’n goeie plek is om jou geld te sit nie. Met die voordeel van nakennis was dit een van die beste beleggings wat jy oor die afgelope ses of wat jaar kon maak. Dit is net weer ’n tydige herinnering dat “stories” oor die huidige stand van sake nie goeie voorspellers van toekomstige beleggingsopbrengste is nie. Die prys wat jy vir ’n bate betaal, ís wel.
Wat staan jou te doen?
Natuurlik kan nie ek of enigiemand anders daardie vraag met sekerheid antwoord nie, want ons leef tans in onseker tye met ’n unieke stel omstandighede.
Wat ek wel weet, is dat waardasies (die prys wat jy vir bates betaal) nog altyd ’n goeie aanduider van toekomstige opbrengste was. Daar is bates, en in sekere gevalle bateklasse in die geheel, wat tans na baie goeie waarde vir geld lyk.
Lae opbrengste, net soos hoë opbrengste, kan dikwels langer aanhou as wat ’n mens verwag.
As ek moet terugkyk na ’n periode waar die grootste gebalanseerde fonds, waarna hier bo verwys word, voorheen deur ’n periode gegaan het waar dit nie inflasie met meer as twee persentasiepunte kon uitpresteer oor ’n vyf-jaar-periode nie, sou dit tussen Mei 2007 en Mei 2012 wees.
Dit het toe ook ’n powere 7,31% per jaar opgelewer, terwyl inflasie noord van 5% was. In die daaropvolgende vier jaar het dit egter 16,1% per jaar opgelewer, oftewel inflasie met meer as 10 persentasiepunte per jaar uitpresteer.
Ons sê dit baie, maar dit regverdig herhaling: groei gebeur nie in ’n reguit (oftewel gemaklike) lyn nie. Die geduldige (maar ook ingeligte) belegger is die een wat op die langtermyn vergoed word.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.