Hoe gemaak met Naspers

Die vraag is – skep skerp prysdaling ’n krisis of ’n geleentheid?

Deur Andró Griessel

02/04/2022

As daar nou een aandeel is wat deesdae op almal se lippe is, dan is dit Naspers.

Naspers se aandeelprys het met meer as 50% gedaal oor die afgelope 12 maande.

Om die helfte van jou belegging te sien verdwyn in ’n jaar is ’n bitter pil om te sluk, selfs vir die gehardste belegger, en al het dit in die nege jaar daarvóór jou oorspronklike belegging vertiendubbel.

So hoe nou gemaak met Naspers?

Ek het nie regtig die antwoord oor wat volgende met Naspers gaan gebeur nie, maar ek kan wel sê in die afwesigheid van nuwe inligting oor Naspers se langtermynvooruitsigte (en dus die maatskappy se werklike waarde) maak dit teen huidige vlakke geen logiese sin om te verkoop as jy nie ’n jaar of twee gelede bereid was om te verkoop nie.

Om op jou hande te sit is dus waarskynlik die aangewese ding om te doen.

Die hele petalje bied egter ’n hele paar leergeleenthede vir toekomstige besluitneming en geleenthede om jou sake nóú beter te orden.

Wat ons behoort te leer

Beleggings is ’n marathon, nie ’n naelloop nie: Die geneigdheid om historiese prestasie (soms uiters kort) in die verre toekoms in te ekstrapoleer of te aanvaar dat uiters swak of uiters goeie groeikoerse sal volhard, lei tot gedragsprobleme en dikwels slegte uitkomste vir beleggers.

In Naspers se geval byvoorbeeld sou ’n R1 miljoen-belegging tien jaar gelede binne vyf jaar gegroei het tot amper R5,5 miljoen (’n gemiddelde opbrengs van 40% per jaar vir vyf jaar)!

In hierdie stadium sou jy nie ’n Naspers-belegger kon oortuig om dalk van hierdie superwinste te neem nie. Indien jy wel daarin sou slaag om iemand te oortuig, sou hulle ook redelik de josie in gewees het vir jou nadat Naspers oor die daaropvolgende vier jaar weer verdubbel het tot ongeveer R11 miljoen (’n gemiddelde groeikoers van 19% per jaar oor daardie vier jaar).

Ná die afgelope jaar se daling sou die belegging egter weer terug wees by R5 miljoen of dieselfde waarde as vyf jaar gelede.

Vier jaar se groei is dus in een jaar uitgewis en die gemiddelde groeikoers van Naspers-aandele (die ontbondeling van Prosus in ag geneem) oor die afgelope tien jaar is dus nou in die orde van 17% per jaar.

Dit is steeds ’n uitmuntende opbrengs oor ’n tydperk van tien jaar, maar is slegs 1 persentasiepunt per jaar beter as wat ’n belegger in die NinetyOne Global Franchise-fonds sou behaal.

Laasgenoemde is egter ’n goed gediversifiseerde buitelandse aandele-effektetrust wat aansienlik minder risiko aangeneem het en waarvan die bestuurder natuurlik geen apie van kapitaalwinsbelasting (KWB) op sy skouer het nie.

Jou siening van Naspers as ’n belegging sal dramaties verskil afhangend van wanneer jy die aandele gekoop of verkoop het.

Iemand wat tien jaar gelede gekoop het en vyf jaar gelede verkoop het, sou ongeveer 450% opbrengs op sy/haar belegging gekry het in slegs vyf jaar. Iemand wat vyf jaar gelede gekoop het, sit tans op 0%-opbrengs ná vyf jaar.

Iemand wat drie jaar gelede vir die eerste keer Naspers aangeskaf het, het ná drie jaar 36% van sy geld verloor.

Daar bestaan nie iets soos ’n goeie belegging teen enige prys nie. Die prys wat jy vir ’n bate betaal, maak saak.

As jy te duur vir iets betaal, “sluit” jy as ’t ware swak opbrengste vir ’n lang termyn daarna vas, al was die historiese opbrengste (waarin jy nie gedeel het nie) hoe goed.

Hierdie beginsel is oor die afgelope jaar of twee holrug gery ten opsigte van buitelandse beleggings met spesiale verwysing na Amerikaanse tegnologie-aandele en is waarskynlik ’n les wat mense op ’n pynlike manier weer gaan leer of dalk reeds leer.

Ou familiewelvaart in die vorm van ’n groot aandeleportefeulje wat gewoonlik oorheers word deur ’n handjievol aandele, is na my mening ’n broeiplek vir selfsaboterende gedrag.

Die amper maniese behoefte om KWB te vermy en die gevolglike besluitnemingsdryfsand waarin die eienaar of trustees beland, lei heel dikwels tot ondergemiddelde of selfs katastrofiese uitkomstes.

Per definisie verteenwoordig hierdie tipe portefeuljes multigenerasiewelvaart en die besluitnemers is slegs vir ’n tydperk bewaarders van die geld.

Wanneer een aandeel, soos Naspers, dan groter en groter raak in die portefeulje vanweë asemrowende groei, raak die eienaar of trustees dikwels méér gemaklik dat hulle goeie werk doen in plaas van minder gemaklik oor die risiko wat toeneem en die feit dat hulle nie ’n behoorlik gedokumenteerde beleggingsfilosofie het wat hulle lei oor wanneer om posisies te herbalanseer nie.

Nou kom ons wees maar eerlik met mekaar: Dit is maklik om my slim te hou noudat Naspers met 50% gedaal het. Hy kan net sowel oor ’n jaar weer 100% hoër wees.

Die beginsel van ’n goeie proses bly egter staan, en ek kan u uit ondervinding meedeel dat ek tot dusver geen tot min proses bespeur het in hierdie soort portefeuljes.

As bewaarder van jou eie of die trusts se welvaart is jou eerste werk om jou kapitaal (ná enige uitkerings) teen inflasie te beskerm, nie om dit tot elke prys so vinnig as moontlik te laat groei nie. Laasgenoemde poging lei dikwels tot ongelukke.

Is daar geleenthede?

Besluitnemers wat al geruime tyd in die dryfsand van besluitloosheid vassit weens die groot KWB-implikasies van ’n herbalansering, gaan moontlik nie gou weer ’n geleentheid soos hierdie kry om KWB (wat weens die daling nou gehalveer het) op die ken te vat nie.

Dit gaan dikwels gepaard met die besluit om aandele van die persoonlike naam oor te dra na ’n trust, wat natuurlik op lang termyn boedelbelasting- en KWB-voordele inhou.

Gaan maak gerus die somme wat die potensiële toekomstige besparing kan wees.

Mense wat Prosus-aandele geneem het in ruil vir Naspers om hul blootstelling aan Naspers minder te maak, het gevind dat die korrelasie tussen die twee baie hoog is en die diversifikasievoordele tot dusver weglaatbaar klein was.

Prosus-aandele verhandel tans sowat 35% laer as sy basiskoste met die ontbondeling.

Hierdie verliese kan na my mening gepaar word met winste om die impak van opgehoopte kapitaalwins op Naspers self te versag.

Vir trustees wat reeds na hierdie bate en ander in trust omsien, is die onlangse gebeure miskien ’n herinnering dat diversifikasie belangrik is.

Daar moet verkieslik nou reeds gekyk word na alternatiewe opsies oor hoe om die bates te bestuur en te beskerm in die toekoms sodat wanneer die prys herstel het, hulle gereed is om hierdie strategieë in werking te stel.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens laat in sy goedgunstigheid steeds toe dat aandeleportefeuljes via ’n art. 42- oordrag na ’n effektetrustfonds oorgedra word waar jy eenhede ruil vir jou aandele.

Dit is sover my kennis strek die doeltreffendste manier om van konsentrasierisiko ontslae te raak sonder om KWB te aktiveer.

Daar is ander strategieë ook wat kan help om konsentrasie-risiko in ’n aandeleportefeulje te verminder.

Veral as jy as trustee van ’n trust optree (met ander woorde na begunstigdes se geld omsien) het jy na my mening ’n verantwoordelikheid om uit te vind wat hierdie strategieë is en nie die bestek van jou portefeuljebestuurvaardighede te oorskat of die omvang van jou verpligtinge teenoor die begunstigdes te onderskat nie.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X