Dis tyd dat elkeen van ons die hand in eie boesem steek
Deur Andró Griessel
05/03/2022
‘n Wyse oom het eendag gesê: “ ’n Vis vrot altyd eerste van sy kop af.” Wat hy daarmee bedoel het, is dat wanneer ’n organisasie ’n swak kultuur het, jy maar kan gaan kyk wat die leier van daardie organisasie doen, want dit is gewoonlik as gevolg van daardie leier dat die party, maatskappy, span, land, komitee of enige ander versameling van mense wat ’n leier benodig, nie hul volle potensiaal bereik of ’n positiewe invloed in die samelewing uitoefen nie.
My artikel vandag handel nie oor die blatant onwettige skarminkels wat oral waar hulle kom probeer om te plunder nie, maar oor die groot gros self-regverdigende, opgevoede, grootliks wetsgehoorsame burgers wat hulself op enige gegewe tydstip sal beskryf as model-landsburgers, maar vir wie die grens tussen wat wettig is en wat eties korrek is oor tyd totaal vervaag het.
Miskien is dit die ouderdom wat my oor tyd meer van ’n knorpot gemaak het of miskien is dit my eie toenemende bewuswording van hoe belangrik (en waardevol) dit is om sake op ’n eerbare manier te doen wat veroorsaak dat praktyke wat voldoen aan die (somtyds baie lae) hekkie van die wet, maar nie aan die (relatief hoë) hekkie van ’n etiese gedragskode nie, my al hoe meer dwars in die krop steek.
As die leser glo hierdie klink na ’n filosofiese gebabbel en kort konteks, laat ek ’n paar voorbeelde gee wat ek die laaste ruk eerstehands ervaar het.
Die wet en etiek
Maar eers net gou die verskil tussen die wet en etiek. Die wet bepaal wat jy mag en nie mag doen nie kragtens die heersende landswette en/of ’n ooreengekome kontrak.
’n Voorbeeld van iets wat onwettig is, maar (na my mening) nie oneties is nie, is om 80 km/h te ry in ’n dubbelbaan-60 km/h sone.
’n Voorbeeld van iets wat wettig maar oneties is, is byvoorbeeld as jy skei en julle buite gemeenskap van goedere getroud was sonder die aanwasbedeling, en jou gade was geheel en al finansieel van jou afhanklik, dat jy hom/haar vir die spreekwoordelike wolwe gooi bloot omdat die ooreenkoms jou magtig om dit te doen.
Terug by twee werklike gevalle wat my onlangs baie omgekrap het.
Die brief word so geskryf dat selfs iemand wat die bepalings en implikasies behoort te begrip, nie onmiddellik die drastiese implikasies kan identifiseer nie.
Jy moet ingewikkelde somme gaan maak om dit te ontsyfer en ’n ingeligte besluit te kan neem.
Hierdie maatskappy, wat nooit enige dokumente pos nie, maar altyd ’n e-pos stuur, pos dan ook hierdie dokument met ’n sperdatum waarop die kliënt moet reageer.
’n Verstekopsie word namens die kliënt uitgeoefen indien terugvoering nie betyds ontvang word nie. By ontleding van die drie opsies wat gebied word, blyk dit die verstekopsie is die nadeligste opsie vir die kliënt.
Het hierdie maatskappy enige wette oortree? Nee.
Het hy eties opgetree in die beste belang van sy kliënte? Nee, nie eens in die grootste verbeeldingsvlug nie!
Die beperktheid van die afgebakende gebied, die omvang van die kommissie wat die maatskappy terughou en die finansiële druk waaronder sy gevolglik is, noodsaak haar om groener weivelde by ’n ander maatskappy te gaan opsoek.
Die prinsipaal van die maatskappy vir wie sy gewerk het dink dit goed om ’n handelsbeperking van ses maande op haar toe te pas met ’n 15 km-radius om die sakekern, haar huis en per implikasie om haar seuntjie se skool waar sy hom elke dag moet gaan aflaai en weer oplaai, asook die nuwe agentskap waarby sy hoop om te gaan werk.
As jy na die praktiese implikasies van hierdie beperking gaan kyk, neem hierdie sakeleier ’n besluit wat baie min tot geen beskerming aan sy maatskappy bied (want hy beskerm dalk sy bestaande agentekorps teen een agent uit honderde vir ses maande), maar sy besluit raak ’n geveg vir oorlewing vir my vriendin, wat moontlik uit nood ’n besluit moet neem wat haar lewe in ’n heeltemal ander rigting sal dryf.
Het hierdie “leier” onwettig of selfs onregmatig opgetree? Nee, die kontrak wat my vriendin destyds geteken het, bemagtig hom om hierdie handelsbeperking toe te pas. Slaag sy optrede die toets van die “redelike mens” en is dit eties en moreel verdedigbaar? Nie in ’n 100 jaar nie!
Ons kan waarskynlik heeldag aangaan met nog voorbeelde. Ek het al baie geskryf oor die onetiese bedryf van vroeë kansellasieboetes op duur beleggingsprodukte, die sogenaamde polisgelde wat die meeste korttermynmakelaars hef op polisse terwyl hulle reeds tussen 15% en 20% van die premie as kommissie ontvang, en finansiële adviseurs wat gelde ontvang vir deurlopende diens, maar dit nooit lewer nie.
Al hierdie mense wat ek hier beskryf, sal baie te sê hê oor die toestand van ons land en die morele verval van die samelewing, baie soos wat ek nou doen.
Dit is egter tyd vir selfondersoek vir ’n ieder en ’n elk van ons. Nakoming van die wet is ongelukkig nie genoeg nie (en somtyds nie eens wenslik nie).
Ons het nodig om onsself aan ’n hoër standaard te meet, een waar jy aan ander doen wat reg is, nie wat gerieflik, winsgewend of slegs vir jouself voordelig is nie.
Die ironie is dat, wanneer jy mense só begin behandel, jou onderneming, gesin, span of watter versameling van mense ook al in jou invloedsfeer is, eenvoudig van krag tot krag sal gaan.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.