Deur Andró Griessel
22/01/2022
Aan die begin van elke jaar probeer allerlei finansiële “ghoeroes” in die spreekwoordelike kristalbal kyk en waag dan ’n voorspelling of drie. Ek het vrede gemaak met die feit dat ek nie betreklik goed met voorspellings en vernaam met die presiese tydsberekening daaragter is nie. Kom ons kyk dus of die verlede met heersende sienings belyn is, want indien nie, is daar ’n moontlikheid dat die huidige siening, en derhalwe moontlik ons siening van die toekoms, ook nie heeltemal in die kol is nie. Kom ons begin dan oudergewoonte by wat die afgelope 27 jaar se data ons vertel.
Wat vertel die laaste 27 jaar se data ons?
Hier is baie syfers, so ek lig ’n paar pertinente punte uit:
2021:
- Vir ’n belegger in ’n tipiese pensioenfonds of aftree-annuïteit was 2021 waarskynlik die beste jaar wat betref opbrengs sedert 2012.
- Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom was die bes presterende bateklas (met 36,9%) uit die hoofbateklasse waarna ons kyk. Dit kom egter van ’n lae basis af nadat die sektor tussen 2018 en 2020 feitlik in duie gestort het.
- Buitelandse effekte was die swakste presteerder met ’n 1,1%-opbrengs (in randwaarde).
- Buitelandse aandele het weereens ’n baie goeie jaar beleef wat dit oor tien jaar gemaklik die bes presterende bateklas maak.
- Ontluikende markte (ons eweknieë) kon net 5,9% vir die jaar oplewer, terwyl Suid-Afrikaanse aandele 29,2% opgelewer het. Sien die omgekeerde hiervan in 2020.
Histories:
- Groot bewegings in enige rigting kan die langtermynsyfers ewe skielik ook baie anders laat lyk. Aan die einde van 2017 was Suid-Afrikaanse genoteerde eiendom, byvoorbeeld oor tien jaar, 15 jaar en 20 jaar, gemaklik die bes presterende bateklas. Vandag is dit die swakste bateklas oor vyf jaar en die tweede swakste oor tien jaar.
- Tans is buitelandse aandele (MSCI-wêreldindeks) die beste historiese presteerder oor vyf jaar, tien jaar, 15 jaar en 27 jaar. Baie beleggers haas nou om geld in hierdie bateklas te belê. As jy egter presies 20 jaar gelede in buitelandse aandele belê het, sou jy ten spyte van ’n astronomiese bulmark oor die afgelope tien jaar steeds net ’n opbrengs gelykstaande met Suid-Afrikaanse staatseffekte kon behaal, naamlik 9,5% per jaar.
- Wanneer ons nou na die syfers kyk, lyk die stiefkind van beleggings (Suid-Afrikaanse aandele) oor die afgelope vyf jaar ewe skielik nie meer so stief nie. Die opbrengs van 11,4% oor die afgelope vyf jaar verteenwoordig ’n reële opbrengs van 7,1%, ten volle in lyn met langtermyn-verwagtinge.
- Nog ’n braaivleisvuurstorie wat eenvoudig nie tans deur syfers gestaaf word nie, is die “jy word al hoe armer omdat die rand heeltyd teenoor die dollar verswak”. ’n Belegging in ’n Suid- Afrikaanse geldmarkrekening sou ’n belegging in ’n Amerikaanse geldmarkrekening oor alle tydperke klop (in rand of dollar), behalwe oor die afgelope tien jaar. Oor die afgelope vyf jaar het die rand 2% per jaar meer opgelewer as dollarkontant. Weereens, as jy in 2001 (20 jaar gelede) jou geld uitgevat het, het jy in ’n baie duur mark belê met ’n baie swak rand in daardie stadium. Die gevolg is dat die rand oor die afgelope 20 jaar met slegs 2,6% per jaar teenoor die dollar verswak het. Onthou dat die rand slegs konstant teenoor die dollar behoort te bly as ons rentekoerse en inflasie dieselfde is. Tans is ons inflasie bykans dieselfde, maar rentekoerse wesenlik verskillend. Jou reële opbrengs in Suid-Afrika is dus heelwat groter uit kontant. Daar is ’n paar punte om uit te lig oor 2021 en ons huidige situasie wat nie deur die syfers uitgewys word nie en wat kan veroorsaak dat die volgende vyf tot tien jaar anders kan lyk as die afgelope vyf tot tien jaar en derhalwe dalk noodsaak dat ’n mens weer na bate-toewysing kyk.
- Die Amerikaanse ekonomie loop op die oog af soos ’n geoliede masjien, maar in die enjinkamer is daar ’n nare klopgeluid in die vorm van ’n astronomiese sprong in die staat se skuldvlakke. Dit het die Federale Reserweraad van Amerika 17 jaar tot aan die einde van 2019 geneem om ’n rapsie meer as $4 000 miljard se likiditeit in die ekonomie te pomp. Net oor die afgelope twee jaar het dit tot ’n totaal van meer as $9 000 miljard ontplof.
- Die Amerikaanse inflasiekoers is die hoogste in 40 jaar. Die spreekwoordelike hoekie waarin hulle hulself dus toegeverf het, is een waar rentekoerse nie verlaag kan word om die ekonomie te stimuleer nie, maar in die teenoorgestelde rigting moet beweeg, terwyl die geldkrane van die staat toegedraai moet word.
- Die fantastiese prestasie van die mega-maatskappye, soos Apple, Microsoft, Alphabet (Google) en Meta (Facebook), in 2021 verdoesel reusedalings in van die kleiner hoëgroei-aandele.
- Dit lyk nie of enigiemand hulle meer aan fundamentele ontleding of verdiskonteerde kontantvloei steur nie, maar in die buitekans dat die modelle dalk weer nader gesleep word, lyk die waardasies van maatskappye anders wanneer ’n hoër verdiskonteringskoers gebruik word. Laat daar geen twyfel bestaan dat die tienjaar-dalende rentekoerssiklus tot ’n einde gekom het nie.
- Inflasie steek oral kop uit en die ontwrigting van verskaffingskettings gaan die pas van inflasie in baie streke dalk versnel.
Verwag ’n interessante rit in 2022! Diversifikasie is jou vriend en wees versigtig om die verlede in die toekoms in te ekstrapoleer. Mag jy goeie besluite neem in die jaar wat voorlê.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.