Swartskaap of towerstaf?

Deur Deidré Valentine

5/2/2022

Kyk na die feite oor uittreeannuïteite, nie die gewilde narratief

Nadat die “58 dae van Januarie” uiteindelik tot ’n einde gekom het en ons die laaste maand van die belastingjaar ingaan, is dit tyd om jou belastingsake in orde te kry.

Dit is die tyd van die jaar dat jy met jou rekenmeester praat oor wat jou betaalbare belasting gaan wees en of dit die moeite werd is om ’n bydrae tot jou uittreeannuïteit (UA) te maak om hierdie belastinglas ’n bietjie kleiner te maak.

Wat jou besluit moontlik moeilik maak, is die negatiewe publisiteit oor UA’s die afgelope paar jaar omdat Regulasie 28 beleggers beperk tot 30% buitelandse blootstelling en 75% blootstelling aan aandele.

Wat sake verder bemoeilik, is dat buitelandse beleggings, veral Amerikaanse aandele en meer spesifiek die aandele van tegnologiemaatskappye, baie beter gevaar het as Suid-Afrikaanse aandele oor die afgelope tien jaar.

Bogenoemde is die gewilde narratief, maar ons eie ervaring (die bewyse) met ’n praktiese voorbeeld oor die afgelope drie jaar, vertel ’n heeltemal ander storie.

’n Voorbeeld: UA-bydraes

In my voorbeeld verwys ek na ’n werklike geval, mnr. A, wat in die 45%-marginale inkomstebelastingkerf val.

Die maksimum aftrekbare UA bydrae wat ’n mens kan maak in die belastingjaar is 27,5% van die belasbare inkomste vir die jaar, tot ’n maksimum van R350 000, of sowat R29 000 per maand.

Scenario 1 waar jy wel daardie R29 000 bydra tot ’n annuïteit en dit word op jou salarisstrokie aangebring sodat jy maandeliks minder inkomstebelasting betaal (wat mnr. A gedoen het).

Scenario 2 waar jy geen bydrae tot ’n UA maak nie, maar R29 000 per maand in ’n aggressiewe buitelandse belegging (nie onderhewig aan die Regulasie 28-beperkinge nie) maak. Ons noem hierdie sommer mnr. B.

Die tabel meegaande tabel wys as jy die maksimum R29 000 per maand tot jou UA bydra, betaal jy elke maand R11 890 minder aan inkomstebelasting. Dit is ’n jaarlikse besparing in inkomstebelasting van sowat R142 680.

 

Oor die afgelope drie jaar (01-02-19 tot 31-01-22) het mnr. A die belastingbesparing van R12 000 óók belê – in ’n relatief aggressiewe effektetrust (wat ook nie onderhewig is aan Regulasie 28 nie).

Hy het elke maand R41 000 gespaar (R29 000 van sy eie geld en R12 000 met die komplimente van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens), terwyl die netto effek op sy sak steeds R29 000 was.

As ons hierdie strategie vergelyk met iemand wat eerder nie bydra tot ’n UA nie en oor dieselfde driejaartydperk die R29 000 per maand (die maksimum bedrag wat hy en mnr. A kon bekostig) in die MSCI-wêreldindeks gaan belê het, lyk die verskil in eindwaardes so:

 

Mnr. A se UA-belegging het oor die afgelope drie jaar ’n opbrengs van 14,84% per jaar (ná koste) opgelewer, terwyl die bykomende R12 000 per maand in die aggressiewe effektetrustbelegging met 15,29% per jaar (ná koste) gegroei het.

Indien mnr. A nie hierdie strategie gevolg het nie en maandeliks met sy nabelaste salaris R29 000 tot ’n belegging in die MSCI-wêreldindeks bygedra het, sou sy belegging oor dieselfde tydperk ’n uitstekende opbrengs van 19,79% (voor koste) per jaar (in rand) gelewer het.

Maar ten spyte van die hoër opbrengs op die buitelandse belegging, is die eindwaarde van die UA-strategie se twee beleggings saam R1,82 miljoen, teenoor die eindwaarde van die buitelandse-belegging-strategie van R1,37 miljoen.

Dit kom neer op ’n verskil van rofweg R450 000 (of 33%) meer in die UA-strategie oor ’n tydperk van net drie jaar.

’n Paar dinge om in ag te neem

Ek moet wel die volgende drie punte van belang uitlig:

  • Ek wil beklemtoon dat hierdie UA-strategie net suksesvol is as jy die besparing in inkomstebelasting maandeliks in plaas van jaarliks kry en dat jy dan die bedrag dadelik herbelê.As jy jaarliks die krediet van die bydrae net so sou herbelê sou jy ook ’n groot voordeel kry, maar nie so groot soos om dit maandeliks te doen nie.In praktyk herbelê verreweg die meeste beleggers in UA’s nie hul krediet nie, maar “geniet” dit net.
  • Mnr.A is een van die min “gelukkiges” wat in ’n inkomstegroep val waar ’n 45%-belastingkerf van toepassing is en die uitwerking is natuurlik minder dramaties teen laer belastingkerwe.Die voordeel is egter steeds wesenlik en maak dit moeilik, ek wil my verstout om te sê haas onmoontlik, vir ander strategieë om dit oor tyd te klop.
  • UA’s se inkomste is wel ten volle belasbaar ná aftrede terwyl inkomste uit effektetrustbelegging grootliks kapitaalwinsbelasting-implikasies het.Om jou totale aftreebeplanning in UA’s te doen, is nie belastingvriendelik nie en is om verskeie redes nie wys nie.

Hoewel die geografiese beperkings van Regulasie 28 veral van 2015 tot 2020 baie nadelig was vir beleggers, is ons van mening dat dit nie noodwendig so nadelig sal wees oor die volgende paar jaar nie.

In ’n omgewing waar jy dan moontlik met soortgelyke opbrengste uit alternatiewe nabelaste-beleggings werk en die speelveld ten opsigte daarvan gelyk is, sal dieselfde strategieë as hierbo, op ’n gemiddelde opbrengs van 10% per jaar, (vir albei strategieë) tot ’n 41% groter totale saldo vir die UA-strategie as die alternatief lei.

Ten slotte

Die advies om al jou UA’s te stop, is na ons mening eenvoudig verkeerd en word nie deur bewyse ondersteun nie.

As jy in ’n hoë belastingkerf val en nie van plan is om binnekort te emigreer nie, doen jy jouself nie ’n guns deur hierdie beleggingsvoertuig en vernaam die strategie hier bo bespreek, nie te oorweeg nie.

UA’s bied jou die geleentheid om vir die SAID ’n wettige opstopper te gee.

Ons sê: Doen dit!

Deidré Valentine is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak haar by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

 

 

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X