Wense word nie altyd waar

Deur Cassie Carstens

Daar is wel maniere om geskenk van beleggingsgemoedsrus te kry

Al gaan die Kerstyd nie oor geskenke nie, sit die meeste kinders Oukersaand voor die boom en skud, ruik en bekyk hul toegedraaide geskenke om te raai wat daarin is. Ons almal ken die gevoel van opgewonde afwagting. My drie-jarige soek vanjaar ’n regte, egte trekker; sy teleurstelling gaan waarskynlik groot wees as hy die plastiektrekker van skoendoosgrootte onder die boom aantref. Ons neem dikwels aan die einde van die jaar ons beleggingsbesluite en opbrengs in heroënskou. Soos met Kersgeskenke lyk dit wat op jou beleggingswenslys was, baie anders as wat in jou geskenkpakkie toegedraai is.

Wenslys: ‘n Kundige wat die toekoms akkuraat kan voorspel.

Geskenk: Die werklikheid dat niemand die toekoms kan voorspel nie.

Die ongelukkige waarheid oor voorspellings is dat Jan en San Alleman hul verwagtinge anker aan die menings van sogenaamde kundiges. Dink maar aan iets soos voorspellings oor die rand, rentekoerse, aandeelpryse, ensovoorts. As jy ’n snoekerbal skiet, is dit taamlik maklik om te bepaal waar dit eerste gaan tref, maar haas onmoontlik om te bepaal waar dit gaan eindig ná die tiende impak met die kant van die tafel of ’n ander bal. As jy in ag neem hoeveel veranderlikes daar is tussen die eerste en tiende impak, sou jy ook baie minder anker op kundige voorspellings wat meestal net op die eerste impak fokus. Luister na menings, maar laat vaar eers jou eie vooropgestelde oortuigings en sit jou kritiese denkbril op. ’n Goeie beleggingsportefeulje is een wat nie daarop staatmaak dat ’n profesie waar moet word nie.

Wenslys: ‘n Vinnige opbrengs.

Geskenk: Uiteindelike bloedneus.

Talle boeke is al geskryf oor die beleggingsghoeroe Warren Buffett en tog het Buffett self nog nooit ’n boek geskryf nie, net sy jaarlikse briewe aan Berkshire Hathaway aandeelhouers. Buffett is ’n ongelooflike belegger, maar hy het ongeveer 96% van sy welvaart opgebou ná sy 65ste verjaardag. Hoeveel keer moet ’n mens in die media lees van gulsige, kamtig hoë-opbrengsskemas wat eenvoudig inmekaartuimel. Die rede vir iemand soos Buffett se sukses is eenvoudig: Hy het begin belê toe hy 11 jaar oud was en grootliks tyd (en ’n goeie dosis vernuf) toegelaat om sy werk te doen. Die langdurige konsekwentheid van goeie (nie astronomiese nie) opbrengste oor ’n lang tydperk is baie belangriker as ’n vinnige opbrengs. Vir diegene wat te lank gewag het, sal dit goed wees om te onthou dat nege swanger vroue nie ’n baba in een maand kan maak nie. Sommige goed neem eenvoudig tyd en jy sal moet kyk na ander maniere om jou probleem op te los eerder as om onrealistiese opbrengste na te jaag.

Wenslys: Opwaartste opbrengs in ‘n reguit lyn.

Geskenk: ‘n Opbrengslyn wat lyk soos ‘n 90-jarige se EKG.

Kliënte vra dikwels vir ons: “Hoeveel ‘rente’ gaan ek op my geld verdien by julle?” Hierdie is natuurlik ’n onmoontlike vraag om te antwoord op kort termyn (weens wisselvalligheid), maar redelik akkuraat bepaalbaar op lang termyn (vanweë bates se relatiewe opbrengs teenoor inflasie oor tyd). Morgan Housel gebruik in sy boek The Psychology of Money ’n wonderlike analogie oor opbrengste. As jy in aandele belê, gaan jy op baie lang termyn (20, 30 jaar plus) goeie opbrengste genereer wat inflasie gaan klop. Die prys wat jy betaal vir die opbrengste is ongelukkig wisselvalligheid. Hy stel voor jy dink oor wisselvalligheid as ’n tarief wat jy betaal. Die prys vir goeie opbrengste is om wisselvalligheid (vernaam dalings, natuurlik) te aanvaar. Die prys om in die geldmark te belê is goedkoop, maar die “koste” is ’n verlies aan koopkrag van jou geld (vernaam as belasting betaalbaar is). Ons is van mening dat laasgenoemde se prys te duur is.

Wenslys: Geen verantwoordelikheid.

Geskenk: Onvoorsiene uitkomste.

Ek was verlede week in ‘n stroper waar die boer self gestroop het. Hy kon die taak oorlaat aan ’n voorman of bestuurder, maar hy stroop saam met sy span werkers. Sy antwoord was eenvoudig – jy studeer nie heeljaar vir ’n vak en dan gaan skryf iemand anders die eindeksamen vir jou nie. Werknemers en werkgewers aanvaar elke dag verantwoordelikheid vir die tyd, moeite en sweet wat hulle insit in hul werk en elke belegger se kapitaal wat belê word, het ’n storie daaragter. As jy respek ontwikkel vir die oorsprong of aard van die kapitaal wat jy wil belê, bou jy ’n ekstra laag omsigtigheid in jou besluitneming eerder as om te belê op ’n voorgevoel. Ons glo ook jy het ’n verantwoordelikheid om te verstaan hoe lyk jou nominale maar ook relatiewe opbrengs teenoor wat om jou aangaan. Ek het voorheen genoem hoe belangrik tyd in die opgaring van welvaart is, maar opbrengs is die ander deel van die vergelyking en ewe belangrik. Langtermynbeleggings teen te lae opbrengskoerse is ewe gevaarlik as om te laat te begin.

Wenslys: Net so bietjie meer as wat jy nodig het.

Geskenk: Soms baie minder.

Ons sien soms hoe mense onnodige risiko’s loop, net om meer te hê as wat hulle in ieder geval gaan benut ná aftrede. Wees baie omsigtig met hierdie soort besluite aangesien die risiko/opbrengs-vergelyking nie sin maak nie. Is jy reg, kry jou nageslag waarskynlik die voordeel omdat dit eenvoudig byvoeg by ’n pot wat reeds genoeg is. Kry jy dit verkeerd, raak die risiko en ongerief joune!

Ten slotte: Geld koop nie geluk nie. Ons weet dit, maar ’n gebrek daaraan bring nogal baie ongerief en soms ongeluk. Of ons dit wil weet of nie, ons kan nie welvaart-uitdagings, daaglikse finansiële versoekings enemosie vermy nie, asook nie die groot rol wat geld ongelukkig regdeur jou lewe gaan speel nie. As jy egter bly skaaf aan jou besluitnemingsraamwerk en jou omring met kundige mense op die gebied, groei jou geluk geskenk, naamlik gemoedsrus, dalk net elke jaar.

Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Woodland Wealth (voorheen ProVérte Wealth & Risk Management). Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X