Verlang jy ook na 1985?

Deur Andró Griessel

Is jy doodseker dit was wel die ‘goeie ou dae’?

Ek mis 1985! Die lewe was goed! Desiré Steyn het ja gesê vir ’n kys, my gholfvoorgee was 12 (tans 30), ek het die eerste keer in ’n vliegtuig gevlieg in my lewe (vir gholf nogal) en so pas geleer vasdans. Ons ouers het nie geweet waar ons in die dag was of watter kattekwaad ons aanvang nie, ons moes net by die huis wees as die straatligte aangekom het.

Die A-Team was die beste ding naas sjokolade-ProNutro, en A-Ha, Madonna en John Mellencamp se liedjies het geblêr by die garage parties waarvoor my nuwe meisie my so pas gedwing het om te leer langarm. My ouers was toe in hul vroeë 40’s. My pa was ’n motorwerktuigkundige met sy eie besigheidjie en my ma het skouer aan skouer met hom geswoeg elke dag om die rekeninge betaal te kry aan die einde van die maand.

Van dié worsteling was ek en my ouer broer natuurlik salig onbewus, soos baie kinders dalk vandag salig onbewus is van die worstelinge van hul eie ouers.

Baie mense, dalk jyself, hunker terug na 1985, of as ons blatant eerlik kan wees, “die dae voordat die ANC-regering ons land kom verwoes het”. Ons lees dan ook gereeld hoe ons ekonomie op die rand van ineenstorting staan, hoe die ANC deur middel van voorgeskrewe batetoewysing (prescribed assets) ons gaan dwing om vir sukkelende staatsonderneming soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens nóg geld te leen en hoe ons basies maar net daagliks verarm.

My redes om na 1985 te verlang is natuurlik veel beter as al die nare redes hierbo. Maar is die bril waarmee ons na ons huidige situasie sowel as na 1985 kyk, behoorlik skoongemaak? Ek vermoed nie. My ouers en alle ander hardwerkende middelklasmense in Suid-Afrika se realiteit was in skrille kontras met my eie as ’n kind. Kom ek verfris ’n bietjie die geheue. Die gemiddelde prima uitleenkoers in 1985 was 21,5% (teenoor 7% tans) – vir die eerste vier maande van die jaar was dit so hoog soos 25%.

Die probleem met middelklas in jou 40’s is: Jy het net skuld in groot bedrae (teen 21,5% plus rente) en baie min spaargeld wat dalk goeie rente kon verdien, terwyl die aandeelbeurs vir die gemiddelde Suid-Afrikaner heeltemal buite bereik was.(Daar was nog baie min effektetrustfondse.) Gemiddelde inflasie in 1985 was 16,1% (teenoor 4,9% tans). Sanksies uit die buiteland het in alle erns in 1985 verskerp en die regering was grootliks van finansiering afgesny. Terloops, voorgeskrewe batetoewysing is geensins ’n nuwe gedagte nie. In die aanloop tot die 1980’s is dit as beleid ingestel dat pensioenfondse ’n voorgeskrewe persentasie in ’n kombinasie van staatsbeheerde maatskappye en staatskuld moes belê. Dié persentasie het in 1977 soveel as 77,5% beloop en die beleid is eers in 1989 gestaak!

Onluste en gewelddadige protesoptrede, veral in die noorde van die land, was ’n weeklikse verskynsel in so ’n mate dat PW Botha op 20 Julie 1985 ’n noodtoestand afgekondig het in 36 streke in die Oos-Kaap en Gauteng. Een van die regulasies was ’n wesenlike beperking van mediavryheid, wat natuurlik veroorsaak het dat die gemiddelde mens nie naastenby so ingelig was oor wat aangaan as wat ons vandag is nie.

Met die aankondiging van die noodtoestand het die rand teen R1,89 teenoor die dollar verhandel. Teen 29 Augustus, ’n skamele 40 dae later, het die rand teen R2,77 teen die dollar gesluit. Dis ’n versterking van die dollar teenoor die rand van amper 47%!

Teen die einde van 1985 het die petrolprys in Suid-Afrika oor die vorige 15 jaar (sedert 1970) met ’n astronomiese 996% toegeneem. Jy kon nie ’n goue medalje op die Olimpiese Spele wen nie al was jy die beste atleet ter wêreld en die Springbokke moes afgewaterde toetse teen nieamptelike spanne speel.

Om alles te kroon, as jy nie ’n wit vel gehad het nie, kon jy nie in die buurt van jou keuse gaan bly nie, nie na die skool van jou keuse gaan nie, nie op sekere strande kom nie en moes jy by ’n ander deur ingaan by die poskantoor, bank en dokter om maar net ’n paar van die ondenkbare apartheidsregulasies te noem.

Misplaaste nostalgie

Ek weet nie van jou nie, maar my gemis van 1985 is misplaas en buite konteks. My ouers kon dit nie maklik gehad het nie. Ek weet vir ’n feit hulle het dit aansienlik moeiliker gehad as wat ek dit vandag het.

Hulle moes waarskynlik elke dag op hul knieë gaan en vra vir die een of ander uitkoms, want van my uitkykpunt (36 jaar later) sou die toekoms vir my baie duister gelyk het. As emigrasie enigsins ’n opsie was (soos dit vandag so maklik is), was hulle dalk ook landuit, want wie sou nou kans sien vir só ’n omgewing?

Partykeer is nostalgie maar net ’n uitvloeisel van ’n swak geheue en swartgalligheid is die resultaat van ons verwronge perspektief van hoeveel beter die verlede teenoor die hede was.

’n Dekade ná Suid-Afrika se Damaskus-oomblik in 1985 het miljoene opgetrek om ’n regering met ’n uitgediende ideologie te gaan uitstem. Die tyd om ’n regering met ’n uitgediende ideologie uit te stem, het weer aangebreek.

Rol die moue op

Ongeag hoe lank dit vat en hoeveel verval in die staatsektor ons nog moet aanskou, in die privaat sektor sien ek steeds ongelooflik baie nodusse van uitnemendheid en dit is waar ons hoop in die tussentyd en dalk vir ewig lê. Wat ek wel weet, is dat dit baie moeilik is om ’n positiewe verskil te maak met ’n negatiewe wolk wat oor jou hang en somtyds het ’n mens net ’n goeie dosis gesonde perspektief nodig om weer jou moue op te rol en te help bou aan wat ander probeer afbreek.

Ten slotte: Natuurlik kon ek myself nie keer om te gaan kyk wat die JSE gedoen het in seker een van die stormagtigste en onsekerste jare in ons land se geskiedenis nie. Die 42%-opbrengs in 1985 is moontlik net weer ’n tydige herinnering dat beleggingsopbrengste en politieke gebeure nie goed gekorreleer is nie en dat besluite oor veral jou beleggings op grond van ander kriteria geneem behoort te word.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X