Deur Andró Griessel
Menings wat nie feite is nie, kan jou duur te staan kom
Daar is ’n gesegde wat lui “almal is geregtig op hul eie mening, maar nie op hul eie feite nie”. Dit voel vir my deesdae asof almal ’n oortuigde mening het oor buitelandse beleggings, maar hoe belyn is van hierdie menings met die feite en hoeveel daarvan is moontlik bespiegeling gegrond op foutiewe aannames?
In vandag se artikel gaan ek probeer om ’n paar van die gewilde menings en aannames op te weeg teenoor die feite en hopelik een of twee lesers daarmee uitdaag om ’n bietjie dieper te dink oor van hierdie menings. Alle opbrengssyfers in die artikel is reeds omgeskakel na rand.
Mening 1: Buitelandse aandele het die afgelope tien jaar baie beter gevaar as Suid-Afrikaanse aandele.
Feit 1: Hierdie is grootliks ’n feit! Die afgelope tien jaar het die JSE (die 19de grootste beurs ter wêreld) swak gevaar teen die ander grotes, maar spesifiek teen die Amerikaanse beurs. Daar is geen twyfel dat jy wesenlik meer welvaart sou gegenereer het deur 100% in VSA aandele te belê eerder as plaaslik.
In vergelyking met spesifiek die Nasdaq-indeks is die gaping selfs heelwat groter, maar ek wil my verstout deur te sê dat hierdie indeks ook al die ander indekse sleg laat lyk het. Uit die meegaande tabel behoort dit duidelik te wees dat ontwikkelde lande (blou) oor die algemeen heelwat beter gevaar het as ontwikkelende lande (oranje).
Mening 2: Suid-Afrika het selfs swakker as ander ontwikkelende lande gevaar.
Feit 2: Die JSE se prestasie van 11,13% per jaar oor die afgelope tien jaar was swakker as die MSCI-indeks vir ontluikende markte se 12,77%, maar dié stelling is eintlik ’n halwe waarheid.
Asiatiese lande se beurse het ’n baie goeie tydperk beleef. Ontwikkelende lande (Asië uitgesluit) het ’n skamele gemiddelde opbrengs van 7,05% per jaar oor dié tydperk opgelewer. Suid-Afrika het dus beduidend beter gevaar as die meeste ander ontwikkelende lande.
Mening 3: Die toekoms lyk soos die onlangse verlede, met ander woorde Suid-Afrika sal oor die volgende tien jaar weer wesenlik swakker vaar as buitelandse beleggings (vernaam die VSA).
Feit 3: Bogenoemde kan ongelukkig niks meer as bespiegeling wees nie. Sien byvoorbeeld hierdie selfde beurse se prestasies in die vorige tien jaar, met ander woorde van 2001 tot 2011. Sien u die omgekeerde tendens, waar ontwikkelende markte oor hierdie dekade hoofsaaklik ontwikkelde markte gemaklik geklop het?
Let veral op die veranderings in rangorde van een dekade na die volgende. As u dieselfde redenasie – dat die voorafgaande tien jaar se wenners ook die daaropvolgende tien jaar se wenners gaan wees – tien jaar gelede as deel van u beleggingstrategie gebruik het, sou u vandag relatief teleurgesteld gewees het. Kan dieselfde lot moontlik weer wag op baie beleggers?
Mening 4: Werkloosheid, lae groei en hoë skuldvlakke gaan veroorsaak dat Suid-Afrika oor die volgende tien jaar weer swakker as ander markte vaar.
Feit 4: ’n Poging om ’n beduidende verband (positief of negatief) te vind tussen die prestasie van verskillende lande se aandelebeurse en hul werkloosheidsyfers, ekonomiese groeikoers en skuldvlakke, misluk ongelukkig.
Sien die tabel met die korrelasie gegrond op huidige werkloosheid-, groei- en skuldsyfers vir hierdie lande teenoor hul historiese prestasie. Onthou dat ’n syfer van 1 perfekte korrelasie aandui, -1 ’n perfekte negatiewe korrelasie en 0 geen korrelasie.
In alle gevalle is daar basies geen korrelasie nie en ironies genoeg is daar ’n effens negatiewe korrelasie tussen werkloosheid en aandelemark-prestasie.
Neem ook kennis dat die VSA se skuld tans noord van 130% van die bruto binnelandse produk (BBP) is; Japan s’n is oor die 200% en Kanada en Brittanje s’n is sowat 110%, teenoor Suid- Afrika se nagenoeg 80%.
Mening 5: Die rand verswak teen ’n toenemende tempo teenoor die dollar en om dié rede behoort buitelandse beleggings altyd ’n voorsprong op plaaslike beleggings te hê. Dit veroorsaak ook dat jy as Suid-Afrikaner teen ’n wesenlike tempo verarm.
Feit 5: Die dollar het oor die afgelope 20 jaar met ’n skamele gemiddelde koers van 2,59% per jaar versterk teenoor die rand. Hierdie syfer is ’n bietjie misleidend weens die vertrekpuntwaarde van die rand in 2001 en dit is dus meer sinvol om na 30-jaar-syfers te kyk.
Oor die afgelope 30 jaar het die dollar teen sowat 4,86% per jaar veld gewen teenoor die rand. Ons sien egter steeds nie (oor lang tydperke) dat die tempo van verswakking van die rand toeneem nie. Die algemene opvatting dat ’n belegger weens die rand se depresiasie teenoor die dollar verarm, is slegs waar indien jy jou rande byvoorbeeld tien of 20 jaar lank onder jou matras bêre en dan dit gaan omruil vir dollars. Jy gaan uiteraard aansienlik minder daarmee kan koop.
In die praktyk is dit egter nie wat mense doen nie. Die rentekoersdifferensiaal tussen Suid-Afrika en die VSA vergoed vir hierdie verswakking. Jy verarm dus nie wesenlik, indien enigsins, nie.
Ek wens ek het ’n kristalbal gehad om te sien wat die volgende tien jaar gaan oplewer, maar helaas. Ek wil u net los met die waarskuwing dat oorvereenvoudigde antwoorde nie werk vir komplekse vrae nie en dat dit u sal baat om seker te maak u volg ’n deeglike proses in die konstruksie van u beleggingsportefeulje gegewe heersende omstandighede. Die afgelope tien jaar se opbrengste alleen kwalifiseer na my mening nie as die grondslag van ’n goeie proses nie.
Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van Woodland Wealth. Kontak hom by andro@woodlandwealth.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. Woodland Wealth is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer – FSP5966 (Reg nr. 2002/024416/07).