As dinge nie sin maak nie…

Deur Andró Griessel

Pas dan maar weer op vir markte se “irrasionele uitbundigheid”

Baie van ons, ek inkluis, het 2020 begin met die bravade van die bestuurder van ’n Datsun 1400 bakkie. Teen middel Maart het 2020 egter, soos baie van hierdie bakkietjies, op sy dak beland.

Draai die horlosie egter aan na 31 Desember, en 2020 se opbrengssyfers lyk soos dié van enige ander doodgewone jaar.

Dit maak my nogal senuweeagtig, maar meer hieroor later.

Sien hierby die bygewerkte bateklas-opbrengste sedert 1995 (26 jaar). Die oranje dui in elke gegewe jaar die bateklas aan wat die swakste gevaar het en die blou die bes presterende bateklas aan. Alle groeisyfers is reeds in rand omgeskakel.

Dit wys:

  • Buitelandse aandele het vir die 2de opeenvolgende jaar die beste gevaar.
  • SA genoteerde eiendom was verreweg die swakste bateklas met ’n daling van 34,5%.
  • SA aandele het 7% opgelewer.
  • Buitelandse eiendom het ook negatiewe opbrengste in dollar en rand opgelewer.
  • SA kontant en die VSA-dollar het presies dieselfde opbrengs in rand opgelewer.

Op langer termyn wys die tabel:

  • Plaaslik genoteerde eiendom, in ’n stadium verreweg die bateklas met die beste opbrengs oor alle metingsperiodes, is ná die afgelope drie jaar se treurmare die swakste bateklas oor vyf jaar sowel as tien jaar.Hierdie behoort, indien niks anders nie, ’n tydige herinnering te wees dat bome nie tot in die hemel groei nie en dat die verskynsel dat bates terugkeer tot hul langtermyn- gemiddelde opbrengs, ’n werklikheid is.
  • Daar is bykans geen verskil in die 25 jaar- gemiddelde opbrengste van aandele en eiendom nie, plaaslik of in die buiteland.Die afgelope tien jaar was daar egter ’n wesenlike verskil in opbrengste.Deel van die antwoord oor waarom dit so is, kan gevind word in die vertrekpunt van die wisselkoers tien jaar gelede (rand sterk) sowel as relatiewe waardasies tussen ontluikende markte en ontwikkelde markte (ontwikkelde lande goedkoop).My ou rympie geld, wat jy betaal vir ’n bate, speel ’n baie groot rol in die daaropvolgende opbrengs wat jy daaruit gaan verdien.
  • Dollarkontant was die swakste bateklas oor 15 jaar, 20 jaar en 25 jaar.

So, gaan 2021 maar net business as usual wees in die markte?

Ek het geen idee nie, maar ek het in die openingsparagraaf genoem dat ek effens senuagtig is oor wat vir ons voorlê.

Die rede hiervoor is dat daar getrou aan 2020 dinge plaasgevind het wat enige rasionele persoon se brein breek. Hier is ’n paar.

  • Elon Musk se maatskappy Tesla word tans op sowat $830 miljard gewaardeer nadat die aandeelprys met meer as 800% gestyg het sedert begin 2020.Op hierdie waardasie is Tesla op papier meer werd as al die ander motorvervaardigers soos Toyota, Volkswagen, BMW, Mercedes-Benz ensovoorts saam.In 2020 het Tesla sowat 500 000 voertuie verkoop uit die internasionale motorverkope van 62 miljoen – dus minder as 1%.Terwyl die prys van Tesla-aandele met 800% opgeskiet het, het sy verdienste met “slegs” 26% gegroei in 2020. Tesla se prys per aandeel is ligjare voor die waarde per aandeel, maar getroue volgelinge glo die maatskappy sal in hierdie waardasie ingroei, en dit boonop teen die spoed van wit lig.
  • Lesers is waarskynlik bewus van die herrie oor WhatsApp en jou privaatheid. Elon Musk het op Twitter slegs die woorde “Use Signal” getwiet. Signal is die naam van ’n mededinger van WhatsApp.Spekulante het onmiddelik op die wa gespring en probeer munt slaan uit die feit dat baie meer mense Signal gaan gebruik ná Musk se twiet en het met mening ingeklim in ’n maatskappy met die naam Signal Advance.Sy aandeelprys het op een dag met 527% gestyg. Net een probleem . . . die obskure klein maatskappy het niks te make met die Signal waarna Musk verwys het nie.
  • ’n Jaar gelede het 1 bitcoin sowat $7 000 gekos. Die huidige prys van 1 bitcoin is sowat $35 000, ’n 400%-styging in een jaar. Bitcoin het steeds geen gebruiksaanwending nie, het nie vorm of materie nie en is net ’n inskrywing in ’n digitale register, dit betaal geen dividend en het geen waarde behalwe persepsuele waarde nie.Daar word geraam dat al die rekenaars wat besig is om bitcoin te myn, die ekwivalent van Switserland se krag verbruik.
  • Die wêreld verdrink in skuld.Net in 2020, weens die pandemie en regerings se stappe daarteen, het die verhouding van internasionale skuld tot BBP van 83% toegeneem tot 100% met die grootste ekonomie – die VSA – wie se skuld-tot-BBP-verhouding sowat 130% is, die grootste sedert die Tweede Wêreldoorlog.
  • Amper elke tweede werklose persoon, student of huisvrou (veral in die VSA) is deesdae ’n verhandelaar van komplekse finansiële instrumente. Die ergste van alles is, baie van hulle blyk baie suksesvol te wees.

Om op te som wat my bekommer:

Daar is tans sekere segmente van die finansiële wêreld waar fundamentele waarhede skynbaar uitgedien geraak het en waar ’n aura van selfversekering die lug vul. Kom ons wees maar eerlik, die ewige pessimis vermag niks en my bekommernis kom nie uit ’n plek van pessimisme nie. Al wat ek weet, is dat dit ongelooflik goed kan gaan met ’n man in die casino, maar as hy lank genoeg daar bly, loop hy met net sy broek aan sy lyf en sy stert tussen sy bene daaruit.

Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@woodlandwealth.co.za/. Hy skryf gereeld vir Sake.

Alhoewel alle moontlike sorg geneem is met die opstel van hierdie dokument kan die feitelike korrektheid van die inligting hierin vervat, nie gewaarborg word nie. Hierdie dokument behels nie advies nie en enigiemand wat enige finansiële optrede beoog op grond van hierdie dokument, word sterk aangeraai om eers met sy/haar persoonlike finansiële adviseur oorleg te pleeg. ProVérte Wealth & Risk Management is ‘n gemagtigde finansiële diensverskaffer met FSP no. 5966.

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X